Juanita, Bobby én vele ander by Jacaranda-opskop

Die Jacaranda Day-musiekkonsert (Foto: Verskaf)

JacarandaFM hou dié naweek sy sewende Jacaranda Day-musiekkonsert en vanjaar kan konsertgangers uitsien na kunstenaars soos Juanita du Plessis, Bobby van Jaarsveld en Brendan Peyper.

Kevin Fine, die stasie se algemene bestuurder, sê dié opskop by die Voortrekkermonument beloof vanjaar selfs nóg meer buitelug-gesinspret en meer as tien gewilde plaaslike kunstenaars.

Konsertgangers kan ook uitsien na MiCasa, Freshlyground, Jo Black, Refentse, Martin Bester, The Parlotones en DJ Jazzy D.

ʼn Groep Jacaranda FM-aanbieders sal ook Saterdag op die verhoog by dié sterbelaaide groep aansluit en die stasie sal daagliks regstreeks van die Voortrekkermonument uitsaai.

“Ons sien uit daarna om ʼn groot skare van reg oor Gauteng en naburige provinsies na die konsert te lok,” sê Fine. “Jacaranda Day is ʼn massiewe musiekontploffing vir die hele gesin, en ʼn plek waar jy al die gunstelingtreffers uit volle bors kan saamsing.”

Hekke by die Voortrekkermonument se amfiteater open om 09:00. Die konsert duur tot 19:00. Kaartjies kos R165 per volwassene en R85 vir kinders jonger as 12 en vir pensioenarisse. Kaartjies is beskikbaar by www.jacarandafm.com. Parkering kos R60 per voertuig.

Belangrike inligting

Geen kontant word by die geleentheid aanvaar nie. Konsertgangers kan ʼn debiet- of kredietkaart of digitale betaalstelsels vir aankope gebruik. Indien jy kontant na die geleentheid bring, kan jy jou kontant omskakel na ʼn Jacaranda Day-kaart by ʼn kaartstasie op die terrein.

Onthou kussings om op te sit en sonbrandmiddel. Jy is welkom om ʼn piekniekmandjie, water, kos, verversings, sambrele, komberse en kampstoele te bring.

Laat alkohol, troeteldiere, braai, enige blikkies en glas, dwelms en onwettige stowwe, “hubbly bubbly”, vuurwerk, wapens en koelbokse tuis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nogal nie ·

Dit is nogal nie duur nie, miskien voel dit vir 1 konsert, glo my ek reel ook konserte en ons betaal 100 tot 150 vir 1 kunstenaar, dit is wat dit kos om hul in te bring. So jul kry ‘n hele rits 150.00 kunstenaars vir 165.00. Knyp daai geld af en gaan geniet ‘n heerlike dag, ons sou wat wou gee!!!! Ver weg van die gerief. Die siel het nodig om gevoed te word met positief, lees bietjie die nuus!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.