Juanita en kroos gesels oor saam sing, kinderjare en gesinstyd

Juanita du Plessis en haar kinders, Franja en Ruan, se nuwe album ‘Sing Country’ het pas die lig gesien. (Foto: Willem Botha)

Wanneer jy vir Juanita du Plessis en haar twee singende spruite, Franja du Plessis en Ruan Josh, in een vertrek kry, besef jy vroeg reeds dat daar ʼn onwrikbare band tussen dié Afrikaanse sangsensasies is – nié net as ma en kinders nie, maar ook as musikante wat wéét hoe goeie musiek moet klink.

Al drie giggel onbeheersd saam as hulle oor die “lawwe” ervaring gesels om saam agter die mikrofoon in te skuif, iets wat hulle onlangs weer gedoen het met die opname van hulle jongste album, Sing Country.

Dié album, wat ʼn keur van die Du Plessis’s se gunsteling-countryliedjies bevat, weerspieël nie net hulle liefde vir countrymusiek nie, maar ook hulle liefde vir mekaar. Want, sê dié drie Namibiërs wat deesdae in Pretoria woon, daar is vir hulle niks lekkerder onder die son as om saam te kan sing nie.

“Dit is vir my die grootste voorreg om saam met my kinders te kan optree. Toe ek jare gelede agterkom dat hulle hou van sing en dat hulle geseënd is met ʼn musiektalent, het ek hulle begin saamneem na vertonings waar hulle my voorprogramme behartig het,” vertel Juanita aan Maroela Media.

“Later het die gehoor begin vra vir ons al drie saam op die verhoog. Tydens die inperking vanjaar het ons saam die “Waar is dit lekker”-program aanlyn aangebied en die mense het soveel daarvan gehou dat ons besluit het dit is tyd om weer saam musiek op te neem – en wat dan anders as countrymusiek, ʼn genre waarvoor ons al drie so lief is.”

Ruan, wat deesdae ook sy lyf bok-en-koolboer hou, beaam dit en sê daar is “’n tipe magic” wat gebeur wanneer hy saam met sy ma en jonger suster agter die mikrofoon inskuif.

“Wat dit nog soveel lekkerder maak, is dat ons kan sien daar is ʼn openbare aanvraag vir ons drie wat saam sing. Ons weergawe van ‘Just an Illusion’ het sedert dit in 2019 uitgereik is meer as agt miljoen kykbeurte op YouTube gekry en ná die positiewe terugvoer oor ‘Kaalvoetkind’ het ons geweet mense wil graag hoor hoe ons drie saam sing.”

Hulle het noukeurig te werk gegaan met die liedjiekeuses in die nuwe album en het uiteindelik saam op snitte soos “Help Me Make it through the Night”, “Only Jesus”, “Angels Above Me” en “What would Dolly Do” besluit. Hulle het ook die popliedjie “Mmmbop”, oorspronklik deur Hanson, en die bekende wals “Waltzing Maria” ʼn country-geur gegee.

Daar is ook een oorspronklike snit in die album, “Trapkap”, uit die pen van Juanita en Franja. Franja is ʼn liedjieskrywer in eie reg en haar jongste enkelsnit, “Bring dit”, ook uit haar eie pen, pryk al vir weke op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 en is uiters gewild onder TikTok-gebruikers.

Franja vertel haar tweelingbroer, Mario, het met die idee vir die liedjie “Trapkap” vorendag gekom en sê dit is ʼn beskrywing vir ʼn sogenaamde loopdop – die laaste drankie wat jy drink by ʼn partytjie voordat jy huiswaarts keer.

“Ek en my ma het die melodie vir die liedjie so rukkie gelede al geskryf en opgeneem en ons het toe net die woorde bygevoeg. Dit is ʼn regte partytjieliedjie met ʼn lekker energie. Mense is uitgehonger vir kuier en ek dink hulle sal die liedjie baie geniet,” sê Franja.

Franja het die vervaardiging van die album behartig en volgens Juanita is sy baie trots op wat haar dogter met Sing Country vermag het.

“Ek moet vir Franja ʼn pluimpie gee, want hoewel ek hier en daar in haar oor gefluister het met raad en idees, het sy vir ons ʼn baie mooi produk uitgesit. Ruan is net so trots op Franja soos wat ek is. Dit is die eerste vollengte album wat sy op haar eie vervaardig het en ek weet nou dat ek uiteindelik kan agteroor sit en die laat aande in die ateljee met gemoedsrus aan haar kan oorlaat,” sê Juanita.

Volgens Ruan is dit die Here se hand in hulle lewens en in die loopbaan van sy ma, wat in 1998 ʼn gesogte Namibiese countrymusiek-toekenning gewen en daarna in 2001 die Afrikaanse musiekbedryf in Suid-Afrika stormgeloop het met die oorwurm “Ska-rumba”, wat bygedra het tot die hegte gesinsband wat hulle het.

“Die Here het geweet wat Hy vir my ma se loopbaan beplan en dat sy vir ʼn tydperk min by die huis gaan wees. Daarom het hy vir die eerste dekade van ons lewens vir ons ʼn regte huis-mamma gegee, wat saam met ons huiswerk gedoen het, gehelp het met skooltake, ons gebad en gevoer het en ons gedissiplineer het en respek afgedwing het. Dit het baie bygedra tot die respekvolle dog vriendskaplike verhoudings wat ons vandag as volwassenes met mekaar het,” sê hy.

Franja, wat sowat sewe jaar oud was toe haar ma begin naam maak het as sangeres, stem saam met haar ouboet dat die dissipline wat Juanita en hulle pa, Doepie, in hulle lewens ingeboesem het as jong kinders ʼn groot rol speel in die verhoudings wat hulle vandag koester.

“Hulle was streng toe ons klein was en dit het ʼn baie goeie grondslag van respek vir ons gelê as kinders. Vandag kan ons baie lekker saam lag en kuier terwyl daar steeds ʼn goeie balans gehou word met die respek wat ons vir hulle het. Ons sien mekaar die laaste ruk nie so baie soos ons graag wil nie, maar ons maak die beste van die tyd wat ons saam is en maak tyd vir mekaar.”

Juanita du Plessis, Franja du Plessis en Ruan Josh. (Foto: Willem Botha)

Vir Juanita was dit as ma nog altyd belangrik om die band tussen haar en haar kinders tot die uiterste te beskerm en veilig te hou.

“Ek bid altyd en vra vir die Here om my te help om die band tussen ons te beskerm, maak nie saak watter rigting een van ons sou inslaan nie. Dit is vir my baie spesiaal dat ek en Doepie sulke wonderlike kinders het en ons is werklik mekaar se beste vriende. Ek kuier die heel lekkerste saam met my gesin en ons kan ʼn partytjie gooi wanneer ons bymekaar is, maar ons hanteer mekaar ook met respek.

“Dissipline skep tog vir jong kinders ʼn omgewing van sekuriteit en liefde en daarom was dit vir my belangrik om streng te wees toe hulle klein was. Die Here se hand in ons menswees en die feit dat Hy ons anker is, bring net alles by mekaar,” sê sy.

Juis daarom is dié album vir hulle buitengewoon spesiaal. “Die terugvoer wat ons tot dusver oor die liedjies wat reeds beskikbaar was gekry het, dui daarop dat mense mal gaan wees oor die volle album. Dit is waarvoor ons hoop. Dit sal die kersie op die koek wees.”

Sing Country is van vandag (Vrydag) op alle groot digitale platforms beskikbaar. Fisieke kopieë is ook beskikbaar by vertonings en kan hier bestel word. Die Du Plessis’s gaan later in Desember in die Wes-Kaap op die verhoog te sien wees.

Vir meer inligting oor albums en vertonings besoek hulle Facebook- en Instagram-platforms of maak kontak met CO Productions by 083 380 3810, [email protected] of op die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiewiet ·

Julle 3 is só ‘n goeie voorbeeld van Christene wees julle is mense mense en só ‘n pragtige trio mens kan die liefde en respek tussen julle sien julle is voorwaar ‘n voorbeeld v baie mense.. maar wat v n ou foto’tjie met tweeling boetie by wil graag v hom ook sien…julle rook hou só aan…alle voorspoed v julle nuwe album ek kon nie wag nie!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.