Juanita terug met splinternuwe enkelsnit

Een van Afrikaans se musieklieflinge, Juanita du Plessis, het bykans vyf jaar gelede laas ʼn kommersiële album uitgebring. Dié geliefde sangeres en liedjieskrywer se nuutste enkelsnit, “Maak dit los!”, is Donderdag bekendgestel.

Du Plessis, wat dié snit saam met haar dogter, Franja, geskryf het, sê aan Maroela Media sy wou doelbewus “Maak dit los!” vir die somervakansie uitreik.

“Dit is ʼn goedvoel-liedjie met ʼn vinnige tempo wat enige partytjie aan die gang kan kry,” sê Du Plessis. “Hierdie tyd van die jaar wil mense net ontspan en ʼn lekker tyd hê en dié liedjie sal dit vir hulle kan bied.”

Du Plessis se nuwe album, Dis Tyd, word vroeg in 2020 uitgereik. Volgens Du Plessis het sy en Franja ʼn hele paar snitte op dié lankverwagte album saam geskryf.

“Ek behartig meestal die lirieke van my liedjies, terwyl my dogter my help met die melodieë.”

Dis Tyd simboliseer ʼn nuwe seisoen in Du Plessis se lewe. “Ek is verskriklik opgewonde om nuwe musiek vir die mense te bring. Ek is reg vir nuwe dinge en ʼn nuwe vertoning op die pad.”

Die musiekvideo vir “Maak dit los!” is in Pretoria geskiet deur die bekende videograaf Christiaan Wolf.

“Die teikenmark van my musiek is oud en jonk en daarom wou ek graag ʼn musiekvideo maak waarby mense van alle ouderdomme aanklank sal vind. Die musiekvideo beeld ʼn groot partytjie by ʼn huis uit, waar mense van verskillende agtergronde en ouderdomme ʼn lekker tyd het,” sê sy.

“Die video is vol energie en glimlagte. Ek glo almal sal die video kan geniet en daarmee kan identifiseer.”

“Maak dit los!” is op alle digitale platforms beskikbaar vir aankope.

Die musiekvideo sal Donderdag om 19:00 op YouTube beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Leon ·

Niks wat regtig uitstaan nie. Net nog ‘n gekloonde Afrikaanse liedjie. geen wow nie. Vervelig.

Dankie, maar NEE dankie! ·

Ag nee wat dankie! Niks om oor opgewonde te raak nie!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.