Juanita vertel oor die hoogtes én laagtes van 20 jaar

Juanita du Plessis (Foto: Facebook)

Dalk is dit televisiemense se slim bemarkingstrategieë of die hordes koninklike tradisies, of dalk is dit selfs ons eie toedoen wat ons ʼn sekere soort gedrag van diegene met klas, statuur en aansien laat verwag.

Maar wanneer só ʼn persoon doodnormaal optree en boonop nie die kloutjie by die oor kan bring wanneer die verleë party kopkrap oor dié doodgewone gedrag nie, verdwyn elke vooropgestelde idee en oortuiging as’t ware soos mis voor die son.

In ʼn doodgewone voertuig met nét haar man aan haar sy daag sy by die mediakantoor op. Daar sit Juanita du Plessis – een van die suidpunt van Afrika se grootste kunstenaars van álle tye – geduldig en gedwee op ʼn donker leunstoel en groet elke verbyganger met dieselfde entoesiasme.

Hier sit die girl van Gobabis – soos sy na haarself verwys – met elke rede onder die son om te pronk, maar gestroop van alle waan; heel ordinêr soos sy sê, selfs dalk een van die gepeupel.

Dié jaar is dit reeds twee dekades ná die wêreld van haar kennis geneem het. Dit was “Skarumba” wat die aandag van die hordes getrek het – ʼn liedjie wat ʼn groot aandeel in die afgelope 20 jaar se sukses het, maar ook in dieselfde beginjare die tonge laat klap het.

Nou is dié tonge stil: Vanjaar het sy reeds meer as 2,5 miljoen albums verkoop, meer as 5 000 suksesvolle konserte agter die blad en boonop ook meer as 100 toptientreffers agter haar naam. By meer as een geleentheid het sy die rekordboeke herskryf.

Haar lewe as een van Suid-Afrika se mees suksesvolle kunstenaars is vandag ligjare verwyder van die beeld wat sy drie dekades gelede gehad het. Destyds, as ʼn jong vrou van Namibië, was sy vier jaar lank ʼn sekretaresse.

Ja, lag sy, vier jaar lank het sy met haar “sykousies en hoë hakkies” koffie aangedra en telefone geantwoord, maar dít was nie haar passie nie. En toe sy wél haar passie ontdek, moes sy ʼn grondpad vol duwweltjies loop.

Vandag kan aanhangers hulle geen oomblik indink toe die sangeres nié ʼn groot sukses was nie. Maar daar wás moeilike tye én deure wat toegeslaan het, maan sy.

Juanita, Ruan en Franja (Foto: Facebook)

In die laat 90’s het Afrikaans se goue girl ʼn platekontrak in Namibië losgeslaan en moes sy kort daarna hoor sy mag nét in Engels sing omdat “Afrikaans nie verkoop nie”. Sy het ʼn hele vier jaar gewag voordat ʼn enkele musiekdroom verwesenlik is – en nadat haar debuutalbum, Juanita, uitgereik is, het die wêreld nie onmiddellik kennis geneem nie. Selfs nadat Juanita met die wêreld kennis gemaak het, het haar loopbaan vir nóg byna drie jaar stilgestaan.

Nou vertel Juanita in ʼn intieme onderhoud oor dié beginjare wat haar in soveel aspekte as kunstenaar gevorm het.

Sy ken haar storie, dié vrou met die lang grys jas en die noupassende swart broek. Nie ʼn enkele antwoord spring by haar mond uit nie; elke vraag word goed oordink, elkeen word beleef en eerlik beantwoord.

“Ek en Doepie [haar man] moes in die beginjare alles self doen – ek was gereed met my liedjies, maar ná vier jaar het my loopbaan steeds nie posgevat nie. Ek moes alles self betaal het; daar was nie ʼn platemaatskappy wat genoeg in my geglo het om my te help nie. Niemand behalwe Doepie nie. Hy het gesê my liedjies is goed genoeg; ons moet borge gaan kry. Hy is die een wat gesê het: Kom ons staan op en dan probeer ons maar weer.

“Toe my loopbaan maar pas begin het, was daar baie toere, baie ure en baie beplanning. In die beginjare het Doepie self al die klank gedoen; dit was net ek en hy. Ek sou by plekke aankom waar net vyf mense vir die vertoning opgedaag het. Ek het een keer ʼn promo by ʼn winkelsentrum in Malmesbury gedoen en dit was net my drie kindertjies wat vir my sit en kyk het. Niemand het kom luister nie; net ons, en ons moes deur die harde jare druk om te kom waar ek nou uiteindelik vandag is,” vertel sy.

Ná elke vraag maak Juanita en Doepie weer oogkontak. Hy sit skuins agter haar en hoewel dit lyk asof sy volle aandag nié by die onderhoud is nie, luister hy fyn na elke vraag, rus sy kop teen die muur en luister dan na haar antwoord.

“As ʼn jong opkomende kunstenaar het ʼn mens mos maar nooit werklik genoeg selfvertroue nie,” sê sy dan, nog nie haar vorige gedagte voltooi nie. “Maar Doepie het in my bly glo en sê my liedjies is goed genoeg. Buiten die Here se hand, is dit te danke aan hom dat ek begin sing het én dat ek vandag hier is.”

Ruan, Juanita en Franja (Foto: Facebook)

“Dís al wat nodig is,” sê sy, en wys na Doepie, “net een mens wat in jou glo.”

Vir lang jare het sy “nét sterre in die oë gehad” en sou sy dae lank droom oor dié loopbaan waarvoor sy “so gereed was”. “Aan die begin wou niemand my ʼn kans gee nie,” sê sy. “Ek onthou dit nog soos nou die dag: Ek het pas begin sing, het nog in Namibië gewoon en toe vir Johan van Rensburg van Noot vir Noot-faam ʼn briefie geskryf het waarin ek gevra het of hulle my nie asseblief tog wil oorweeg om op die program te kom sing nie.

“Ek was niemand nie, ek het nie ʼn naam in die bedryf gehad nie, so hoekom sou hulle ʼn nobody op die show laat kom sing? Ek het ʼn baie mooi briefie teruggekry dat hulle my versoek nou van die hand wys, maar my baie sterkte toewens. Vandag was ek seker al so vier of vyf keer ʼn gas op die program.”

Sy sê in die sewe jaar vóór haar eerste treffer het sy nét hoop behou danksy haar geloof én die ondersteuning van haar man.

“My kinders was nog jonk en ek het vrede gehad dat dinge sou gebeur soos dit moet,” vertel sy. “Ek weet tot vandag toe dat die Here my loopbaan op die regte tyd laat uitwerk het. Ek moes eers daar wees vir my kinders voordat ek hierdie groot ding wat Hy vir my beplan het, kon aanpak. Hy het die vlammetjie laat aanhou brand totdat die tyd reg was.

Juanita saam met Steve in 2012 (Foto: Facebook)

“En selfs al was my verhouding met die Here nie 20 jaar gelede so diep en innig soos dit vandag is nie, het ek geweet dat die Here in sy stilheid altyd daar was. Ja, ek was desperaat vir ʼn loopbaan in musiek, maar het altyd geweet ons sou ʼn toekoms in Namibië kon maak as dit regtig nodig was. Nie baie mense wil dit weet of hoor nie, maar die Here het altyd ʼn plan.”

Vandag pak sy sale vol en die skares stroom na waar sý as kunstenaar op die verhoog te sien is. Maar dit was eers ná “Skarumba” uitgereik is dat sy met kontroversie te doen gehad het: Sy is deel van die spookasemsangers, sou sy toegesnou word. ʼn Regte flash in the pan – soos sy na die destydse kritiek verwys – wat bekend sou wees vir haar enkele treffer. En natuurlik ook katterige opmerkings oor haar Geraas-toekennings van sommiges in die bedryf.

“Daar was kritiek en dit was veral gemik op ‘Skarumba’,” sê sy. “Die kritiek het nie soseer van die publiek af gekom nie, maar eerder van die kunstenaars en platemaatskappye. En ek verstaan vandag hoekom sekere mense wel so opgetree het. Hulle het gedink ek is ʼn one hit wonder; dat dit net hierdie een liedjie is wat soveel geraas maak en dat die hype rondom my daarna weer sal verdwyn. Hulle sou dan sê ek gaan nêrens verder kom nie en was in ʼn mate vies oor die liedjie sinneloos en ‘kommin’ was.

Juanita se album Koningskind het platinum-verkoopstatus behaal na net twee weke (Foto: Facebook)

“Maar dit het nooit vir my sin gemaak nie – die liedjie was nooit bedoel om ʼn diep liedjie te wees nie. Dit was bloot ʼn bonussnit op die album. Om die waarheid te sê, ek het eintlik gehoop een van die ballades op die album sou die publiek se aandag trek. Maar toe is dit hierdie liedjie wat ek sommer net op die album gesit het omdat dit lekker by ʼn party in Namibië gewerk het wat die treffer van die album word. Dis vreemd hoe dinge uitwerk.”

Dit was ná dié liedjie dat haar loopbaan posgevat het. En nes hordes ander kunstenaars wat hul lewe lank smag na ʼn enkele geleentheid om hulself te bewys, was dié liedjie só ʼn platform wat van haar ʼn alombekende naam gemaak het.

Ja, min kan glo dat ook sý gedroom het om op ʼn Skouspel of groot musiekkonsert se verhoog te staan. “Ek het altyd DKNT en Skouspel gekyk en doodeenvoudig net sit en droom voor die televisie. My eerste jaar by KKNK – tydens die destydse groot afskopkonserte – het ek en Doepie daar gestaan en ek het vir hom gesê ek wens ek kan ook op daardie verhoog staan. Die volgende jaar was ek die hoofkunstenaar op daardie einste verhoog. En toe Skouspel en DKNT my vra om te kom kuier, het ek uitgefreak,” sê sy.

“Nè, Doepie?” Hy knik instemmend. “Dink jou net in hoe hierdie nuweling van Gobabis op só ʼn groot verhoog moes voel. En dan staan jy langs Rina Hugo en Steve Hofmeyr. Baie kere het ek nie ʼn woord uitgekry nie en ek het gemaak of alles normaal is, maar in my binnekant het ek geskree van opgewondenheid.”

Vandag is sy aanhangers se goue girl – die een wat nie ʼn enkele ding verkeerd kan doen nie, die sangeres wat eintlik maar net wil sing en ma wees sonder al die ander fieterjasies wat met bekendes se lewe gepaardgaan. En noem jy haar dit, sê sy nederig “dis nie so nie”.

Maar tog is dit: Aanhangers is geneig om haar op ʼn voetstuk te plaas, maar dít is verregaande, sê sy. “Ek is maar net ʼn mens,” vertel sy laggend. Sy en Doepie praat met hul oë.

“Baie mense dink jy is net wat hulle sien op die verhoog of op televisie. Maar dis seker maar net ʼn derde van alles wat vooraf moes gebeur het sodat jy wel op die verhoog of televisie kan wees. Ek is nié daardie beeld op die televisie nie; ek het foute soos enigiemand anders en ek wil nie hê mense moet dink ek’s perfek nie.”

Juanita tydens ‘n Krone-konsert (Foto: Facebook)

Onseker of sy dit wél wil sê, kyk sy eers na Doepie voordat sy praat. “Ek ís ver van perfek af. Daar was ʼn tydperk gewees so drie of vier jaar gelede dat ek heeltemal uitgebrand het. Ek het dit nie toe geweet nie, maar ek besef vandag ek het myself totaal uitgebrand.

“Ek het heeltemal passie verloor: ek wou nie meer toer nie, ek wou nie meer sing nie, ek was konstant moeg. In daardie selfde tyd het ek later agtergekom dat ek skildklierprobleme het en dit het ʼn geweldige invloed op my gemoedstoestand gehad. Maar dit was ook die druk van die toere en konserte wat tot die skildklierprobleme gelei het.

“As ek nou daaroor terugdink, weet ek nie eens of my gesin regtig besef het dat ek uitgebrand het nie. Dis maar ook iets wat tussen my en die Here gebeur het: Hy wou my dwing om te gaan heel word en rus kry. Ek dink ek het so by die Here gemoan dat Hy my op ʼn plek gebring het waar ek móés rus. Dit was rof, maar ek het geleer dat ek moes luister na my liggaam.”

Vandag is sy weer haarself met dié einste energieke passie waarmee sy al meer as 20 albums die lig laat sien het. Maar oor ʼn enkele paar dinge in die lewe bly sy ferm: haar geloof en haar privaatheid. O, en sy neem nié deel aan enige smeerveldtogte nie. Sy sê mos, sy wil nét sing. Tog staar ʼn moeilike werklikheid albei in die vermaakbedryf in die gesig: kritiek.

Hoe hanteer sý openlike kritiek oor haar geloof? “In dié bedryf het elkeen sy eie sienings en die dinge waarin hy glo. In die afgelope 20 jaar het die land my as mens en kunstenaar leer ken. Hulle weet ek glo in Jesus. En miskien word ek meer in ag geneem omdat ek nog al die jare my geloof verkondig.

“Dit sal nie sommer in die bedryf gebeur dat ek in ʼn ongemaklike situasie beland nie, maar wanneer dit gebeur, neem ek die vrymoedigheid om vir iemand te vra om maar asseblief nie die Here se naam te gebruik nie – of wat ook al die geval mag wees.”

Sy draai na Doepie. “Of hoe?” vra sy. “Dit is so,” sê hy. “Mense het respek vir jou, maar ook vir die dinge waarin jy glo.”

“Ons glo jou dade moet meer sê as jou woorde. Dis belangrik om alle mense – ongeag hul geloof of agtergrond – met liefde te behandel. Jou dade en jou lewe moet meer oor jou sê as enigiets wat uit jou mond uit kom.”

Juanita (Foto: Facebook)

En oor haar privaatheid: “My huis is my safe haven; dis myne, mý spasie. Ek wil nie alles vir die hele wêreld vertel nie. Toe my kinders klein was, wou ek hulle soveel moontlik uit die media hou, maar noudat hulle hul eie loopbane het, neem hulle hul eie besluite. Nou geld dit meer vir ons tweetjies; en ons is gelukkig met ʼn lewe op en af van die verhoog.”

Vanjaar is dié egpaar 29 jaar getroud. En dis 29 jaar van régtig saam wees: In die afgelope twee dekades was daar maar ʼn enkele vertoning waar Doepie, ook Juanita se klankman, nié was nie.

“Vir baie getroude couples werk dit nie om elke dag heeldag bymekaar te wees nie. Vir ons doen dit. Ons is nog my hele loopbaan met elke toer, elke program en elke konsert saam – en dís van dag een af. Baie mense weet dit nie noodwendig nie omdat hy altyd agter die skerms is. Maar daar is nie ʼn onderhoud of ʼn show waar hy nie was nie.”

“Daar was,” val hy haar in die rede. ʼn Diep frons vorm op haar voorkop. “Jy’s reg,” sê sy. “So twee jaar gelede tydens ʼn Afrikaans is Groot-konsertreeks was hy ongelooflik siek en dit was die eerste keer in my hele loopbaan dat hy nié daar was toe ek op die verhoog gestap het nie. Ek en hy het hierdie pad saamgestap. Dit waar ek vandag is, danksy hom. Ek sou nie die pad sonder hom kon stap nie. Hy is my rots; ek kan doodeenvoudig nie sonder hom nie.”

20 Jaar: Treffers van 2009 – 2018 (Foto: Facebook)

Doepie het egter nou onlangs begin boer – ʼn jare lange droom wat vir die eerste keer in byna drie dekades ʼn werklikheid word. “Ons het ʼn lieflike klein plasie en Doepie het nou onlangs begin boer met vleisbeeste. Vir jare het hy my gehelp en mý ondersteun, maar nou is dit sy beurt om sý droom na te jaag. Hy het nog al die jare daaroor gedroom en nou kan hy dit najaag.”

In die komende jare gun sy haarself meer rustigheid, sê sy ernstig. Maar dié jare is steeds vol musiek, daarom is haar jongste album, 20 Jaar: Treffers van 2009 – 2018, pas uitgereik.

“Ek verkeer onder geen illusie van presies hóé bevoorreg ek is om hierdie skoene vol te staan nie; en om iemand te hê wat my dag en nag ondersteun. My drome is verwesenlik: ek sing vir ʼn lewe, ek vier 20 jaar in die bedryf en het wonderlike ondersteuners wat nog al die pad saam met my loop. En dís wat ek hoop vir die volgende 20 jaar: sakke vol genade, my man langs my sy en nóg nuwe musiek.”

Luister Maroela Media se radio-onderhoud met Juanita oor 20 Jaar: Treffers van 2009 – 2018 boaan die artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maryna ·

Dankie vir die mooi berig. Altyd lekker om so iets moois te lees. Dankie vir die Positiewe gebaar van julle. Juanita bly maar net mens en baie baie mooi mens ook

Mal oor Juanita ·

Dis vir my hartseer om te lees dat so Groot ster vir ha eie 3 kinders moes sing. Hoekom kan ons die mense nie kies wie maak dit of wie nie ?? Want dit is tog ons wat die cd’s koop. Hoekom iemand met talent terug hou ? Maar soos jy sê als het sy eie tyd en die Vader weet wanne. Wonder maar net ?

Ina Cloete ·

Baie dankie vir hierdie positiewe berig! Sy lèèf haar geloof in ons Here.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.