Julanie J: ‘Ek voel nou nóg nader aan die liedjie’

Sangeres en liedjieskrywer Julanie J, wat verlede jaar op die Suid-Afrikaanse musieklandskap gedebuteer het met die radiotreffer “Dalk is ek”, se splinternuwe enkelsnit is vandag (Vrydag) uitgereik.

“Gegrond”, ʼn liedjie wat sy in 2018 al geskryf het, is haar derde enkelsnit. Haar vorige enkelsnit, “Sandkastele”, is in Oktober verlede jaar vrygestel en die musiekvideo het reeds meer as 35 000 trefslae op YouTube.

Julanie vertel sy het “Gegrond” in 2018 al geskryf. “Dit is een laataand in ʼn oomblik van algehele moedeloosheid geskryf. My hart breek altyd as ek stories hoor van wat in die wêreld om ons aangaan. Dit voel soms of almal teenstrydige menings het en mekaar eerder wil afbreek as wat ons mekaar ondersteun en bemoedig,” vertel die sangeres.

“Nou, in die tyd waarin ons hele land in algehele afsondering is weens die koronavirus (Covid-19-pandemie), voel ek nog nader aan die liedjie. Ons het nou tyd om ʼn bietjie na te dink. Daar is groot onsekerheid oor die tyd waarin ons leef en dit is nou belangriker as ooit om mekaar by te staan. Ons woorde en dade moet veral nou sinvol wees.”

Julanie J. (Foto: Buchanan Studios/Facebook)

ʼn Vollengte-album sal na verwagting later vanjaar uitgereik word. Julanie, wat ook bekend is as liedjieskrywer, het saam met die vervaardiger Gideon Botes gewerk om ʼn spesiale album te maak. Botes is bekend vir sy ateljeewerk met onder andere Nianell, Watershed en die Soweto String Quartet.

“Ons is amper klaar met die opnames, maar natuurlik is ek nou gedurende die algehele afsondering vir eers tuis. Dit is nou die tyd van familie en selfliefde. ʼn Mens kry mos gewoonlik nooit die kans om lank in die bad te lê of om daardie tuisgemaakte pastaresep wat jy nog altyd wou uittoets, te maak nie. Hoekom nie nou nie? Ek bak ook lekker koekies en kolwyntjies!” voeg sy by.

“Tussendeur is ek besig met die proses om die uitreiking van my album te finaliseer. Ek skryf ook tans nuwe liedjies, want daar is baie inspirasie. Ondanks hierdie moeilike tye is ek diep dankbaar en optimisties oor die pad vorentoe.”

Julanie sê verskeie mense het haar via sosiale media laat weet dat haar liedjies vir hulle iets beteken. “Dit is waaroor dit alles gaan. Ek kan nie wag om my nuwe album met mense te deel nie.”

“Gegrond” is op digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die liriekvideo vir “Gegrond”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae