Resensie: Julanie J se Afrikaanse debuutalbum perfek vir die Kerskous

Die sangeres en liedjieskrywer Julanie J se jong stem tref moeiteloos die hoë en lae note in haar Afrikaanse debuutalbum Mooi en die sielvolle kwaliteit in haar stem maak dit sag op die oor.

Die album is 33 minute lank en bevat 10 Afrikaanse snitte, almal hoofsaaklik uit Julanie se eie pen. Mooi het vroeër vanjaar die lig gesien en word beskryf as ʼn kort liefdesverhaal met ʼn tema van selfontdekking. Elke liedjie vertel ʼn storie oor ʼn gebeurtenis in die 22-jarige sangeres se lewe.

Dit skop af met die opgewekte radiotreffer “Dalk is ek”, wat vroeër vanjaar as ʼn enkelsnit uitgereik is. Ander radiotreffers uit die album soos “Sandkastele”, “Genadig” en “Moeite werd” trek ook dadelik aandag op die album.

Vir die minder aandagtige luisteraar sal die snitte baie eenders klink en dit kan met tye voel asof die hele album se snitte in mekaar vloei. Daar ontbreek soms ʼn snit wat die luisteraar ʼn blaaskans gee van die opgewekte ritmes, hoewel “Mooi wees” hierin slaag soos die album einde se kant toe staan.

Mooi is regdeur ʼn lekker-luister-album met ʼn moderne, vars klank. Die album is egter nie vir enige iemand wat borrelgom-pop verkies met ʼn Afrikaanse sokkie-aanslag en eenvoudiger lirieke nie.

Die popliedjie “Liefde wat ons heelmaak” is ʼn duet wat saam met die sanger Ivan Roux van Die Kontrak-faam opgeneem is. Die snit is ʼn uitskieter in die album wat ongetwyfeld ʼn treffer sal wees onder liefhebbers van Afrikaanse popmusiek.

Mooi is ʼn ritmiese album wat goed ontvang sal word op enige byeenkoms gedurende die feesseisoen.

Julanie J se Afrikaanse debuutalbum Mooi is die perfekte geskenk in die Kerskous vir Afrikaanse musiekliefhebbers wat hou van weldeurdagte lirieke saam met opgewekte melodieë.

Mooi is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.