Julanie J stel Afrikaanse debuutalbum bekend

Julanie J. (Foto: Willem Botha)

Julanie J, die sangeres en liedjieskrywer wat onlangs die radiogolwe getref het met die enkelsnit “Gegrond”, se Afrikaanse debuutalbum getiteld Mooi het pas die lig gesien.

Haar radiotreffers “Dalk is ek” en “Sandkastele” verskyn saam met snitte soos “Genadig” en “Moeite werd” in dié album.

“Ek was nog nooit so trots op enigiets nie. Ek is baie dankbaar teenoor Warner Music South Africa en die musikante en tegnici wat my die afgelope twee jaar as kunstenaar help vorm het. My beker loop oor.”

Julanie (22) vertel dat elkeen van die liedjies in die album ʼn kort liefdesverhaal is. “Mooi se tema is selfontdekking en elke liedjie vertel ʼn storie oor ʼn gebeurtenis in my lewe wat ek graag met ander wil deel.”

Die snit “Liefde wat ons heel maak” is ʼn duet wat sy saam met Die kontrak-sanger, Ivan Roux, opgeneem het.

“Dit is vir my ʼn voorreg om saam met Ivan te kon sing. Met sy donker, warm stem het hy die gevoel van hierdie liedjie perfek help oordra. Ek is baie opgewonde oor hierdie liedjie. Ek mik altyd na internasionale produksie-gehalte en ek is trots op dít wat ons met hierdie liedjie reggekry het.”

Een van die snitte wat haar die naaste aan haar die hart lê is die lied “Arm.” Sy het dit vir haar man, JP Chetty, geskryf. Hulle is verlede jaar getroud en Julanie het dié snit kort voor die troue neergepen.

“Die liedjie vertel ʼn bietjie van wie ons is en hoe ek oor hom voel. ‘Jy’s die stil van stilheid wat praat’ – JP is vreeslik stil en praat omtrent nie ʼn woord nie, maar as hy iets sê is dit gewoonlik in die kol. Ek kan myself soms heeltemal te ernstig opneem en hy het ʼn manier om my altyd te laat lag. Dit is waar die lirieke ‘Jy’s die suiker in my koffie sodat ek nie bitter smaak’ vandaan kom.”

Julanie se Engelse debuutalbum Spirit Breakout het in 2015 binne 24 uur die Top-30-treffersparade van die internasionale iTunes-trefferlys gehaal. Sy is ook in 2016 vir ʼn Mzanzi Christian-musiektoekenning benoem.

Sy skryf ook vir verskeie ander kunstenaars en het al liedjies geskryf vir onder andere Lokua Kanza, Sanet Lambrechts en Nadia Vorster.

Mooi is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die liriekvideo vir “Liefde wat ons heel maak”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.