Jy’s bonatuurlik- Heinz Winckler

heinz winckler‘n Musiekvideo volg onderaan die berig. In 2001 het Heinz Winckler die eerste wenner van die Suid-Afrikaanse Idols-kompetisie geword en groot sukses met sy musiek behaal.

Hoewel hy aanvanklik net Engels gesing het, het hy mettertyd oorgeskakel na Afrikaans toe die albums Ek kan weer in liefde glo en 24/7/365 vrygestel. Nou is hy terug met sy derde Afrikaanse album, Jy’s bonatuurlik.

Die eerste snit, Vat my hand, is reeds ‘n treffer, en die musiekvideo word gereeld op televisie gewys. Soos al die snitte op die album is dit ‘n oorspronklike komposisie; dis baie beter as die een of twee oorsese melodieë met Afrikaanse lirieke wat hy al voorheen gesing het. Uit die oorvloed van my hart is nog ‘n baie goeie snit wat radiolugtyd verdien.

Heinz het egter nie net kommersiële liedjies op hierdie album ingesluit nie, maar vir ‘n groot verrassing gesorg deur ook tot eer van die Here te sing. 100 000 gebede is sowaar al ‘n treffer en hoekom nie; dit kan beslis saamgesels met enige ander Afrikaanse liedjie.  Die beste van alles is dat hy dit self geskryf het.  Who you really are is die eerste Engelse snit op die album, en dit behoort lugtyd te kry op radiostasies wat sy vroeë musiek gespeel het.  Kamers vol geskenke is maar net ‘n manier om dankie te sê vir die liefde wat ‘n mens net by iemand spesiaal kry.  Die tweede Engelse snit, The truth is here to stay, is nog ‘n baie goeie snit wat radiolugtyd verdien.  In dertig sekondes vertel die ware verhaal van hoe Heinz sy vrou, Alette, ontmoet het.  Ek sê dankie is ‘n pragtige liedjie waarin hy dankie sê vir wat sy vrou vir hom beteken.  Die kitaarwerk op Honeymoon by die huis is uitstekend, en hierin sê hy dat ‘n mens nie altyd weg moet gaan om te rus en te ontspan nie. Live like you’ll never die motiveer jou om voluit te lewe asof dit vir ewig sal wees.

Vaste grond gaan oor die seerkry wat gepaard gaan met die einde van ‘n verhouding, en baie mense sal daarmee kan identifiseer.  Spreek Heer is die tweede Christelike snit op die album , en hierin sê hy dat ‘n mens met ‘n oop gemoed na God se Woord moet luister.  Die titelsnit is pragtig, en verskil byna heeltemal van die res van die album. Die boodskap van hiedie snit is dat enigiemand goed genoeg is, maak nie saak wat jy van jouself dink nie. Enigiemand met ‘n swak selfbeeld behoort hierna te luister.

Heinz het beslis as kunstenaar gegroei sedert hy Afrikaans begin sing het, en hierdie album is die beste een wat hy sedertdien vrygestel het. Dis goed dat hy ook ‘n paar Christelike snitte ingesluit het; dit sal maak dat sy musiek by ‘n groter gehoor byval sal vind. Daarom kan hierdie album sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.