Kaapse sopraan wen ATKV Klassiekesangkompetisie

Vanessa Tait-Jones

Tydens ‘n glansgeleentheid in Port Elizabeth op Saterdagaand, 6 Augustus is Vanessa Tait-Jones(32) aangewys as die algehele wenner van die splinternuwe nasionale klassiekesangkompetisie, ATKV-Muziqanto.

ATKV-Muziq is die afgelope 10 jaar die ATKV se jaarlikse bydrae tot klassieke musiek in Suid-Afrika. Die ATKV het egter besluit om naas Muziq wat ‘n instrumentale klassiekemusiekkompetisie is, ‘n splinternuwe bydrae te lewer tot die stimulering van sang in Suid-Afrika. Dit staan bekend as Muziqanto en is ‘n nasionale klassiekesangkompetisie.

Jong volwasse sangers vanoor die hele Suid-Afrika in die ouderdomsgroep 15 – 32 jaar is vroeër vanjaar genooi om gedurende Mei teen mekaar mee te ding. Uit hierdie groep deelnemers is daar toe 20 baie talentvolle jongmense gekies waarvan 18 aan die tweede ronde van hierdie kompetisie die afgelope week in Port Elizabeth deelgeneem het. Ongelukkig moes 2 kandidate weens persoonlike redes onttrek. ‘n Totale prysgeld van R43 000 is uitgeloof.

As algehele wenner het Vanessa prysgeld ter waarde van R25 000 ontvang. Tans is sy ’n deeltydse sangdosent by Stellenbosch Universiteit asook die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow. Na aanleiding van haar honneurs- en magisternavorsing is sy ook deeltyds betrokke by ’n interdissiplinêre stemkliniek te Tygerberg Hospitaal waar sy in samewerking met ’n oor-, neus- en keelspesialis asook ’n spraakterapeut sangstemrehabilitasie vir sangers met stemprobleme aanbied. Vanessa is ’n student van Magdalena Oosthuizen.

Hlengiwe Mkhwanazi(sopraan) het ‘n algehele tweede plek ter waarde van R10 000 verower. Sopraan, Andiswa Makana is as die derde plek-pryswenner aangewys en ontvang R5 000.

‘n Prys van R3 000 is ook toegeken vir die beste vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie. Vanjaar is hierdie prys toegeken aan Magdalene Minnaar (sopraan) vir haar vertolking van “Troetelwoorde vir Ogilvie Douglas”,‘n komposisie spesiaal vir Magdalene geskryf deur Braam du Toit.

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit Lize Thomas(sameroeper), voorheen hoof van die TUT Operaskool in Pretoria maar deesdae betrokke by Cape Town Opera; die beroemde sopraan Carla Pohl (wat destyds vir meer as 30 jaar oorsee gewoon en gesing het); en Otto Maidi, tans een van Suid-Afrika se voorste basstemme.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.