Kaapse sopraan wen ATKV-sangkompetisie

Caroline Modiba (27) is Saterdagaand tydens ‘n glansgeleentheid in Oudtshoorn aangewys as die algehele wenner van die nasionale klassiekesangkompetisie, ATKV-Muziqanto.

ATKV-Muziq is die afgelope 12 jaar die ATKV se jaarlikse bydrae tot klassieke musiek in Suid-Afrika. Die ATKV het egter besluit om naas Muziq, wat ‘n instrumentale klassiekemusiekkompetisie is, sedert 2011 ‘n splinternuwe bydrae te lewer tot die stimulering van sang in Suid-Afrika. Dit staan bekend as Muziqanto en is ‘n nasionale klassiekesangkompetisie.

Die eerste ronde het gedurende Mei vanjaar plaasgevind. Deelnemers moes tussen 18 en 35 jaar oud wees. Die tweede en finale ronde van ATKV-Muziqanto het tydens die Klein Karoo Klassique Fees die afgelope naweek in Oudtshoorn plaasgevind. Dit is die tweede keer dat Muziqanto deel was van hierdie fees. Slegs 12 kandidate is landswyd gekies om in Oudtshoorn te gaan sing. Een kandidaat moes ongelukkig onttrek as gevolg van persoonlike omstandighede.

Vyf finaliste is aan die einde  van die tweede ronde gekies om tydens die finale ronde saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes onder leiding van maestro Albert Horne op te tree. Tydens hierdie geleentheid het die internasionaal bekende diva, Mimi Coertse die pryse oorhandig. ‘n Totale prysgeld van R60 000 is uitgeloof.

As algehele wenner het Caroline prysgeld ter waarde van R35 000 ontvang. Tans is sy ‘n lid van die Kaapstad Opera Studio en neem sy sang by Hanna van Niekerk aan die Universiteit van Kaapstad se College of Music.

Thembisile Twala (mezzo-sopraan) het ‘n algehele tweede plek ter waarde van R15 000 ingepalm. Noluvuyiso Mpofu (sopraan) is as die derde plek-pryswenner aangewys en het R7 000 ontvang. ‘n Prys van R3 000 is aan Bongiwe Nakani (mezzo-sopraan) toegeken vir die beste vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse werk tydens die tweede ronde van hierdie kompetisie. Sy het hierdie prys ontvang vir haar vertolking van Eerste Liefde gekomponeer deur J.P. Steyn.

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit Lize Thomas (sameroeper), voorheen hoof van die TUT Operaskool in Pretoria, maar deesdae betrokke by Cape Town Opera; die mezzo-sopraan Elizabeth Lombard en die internasionale bariton, Njabulo Madlala, een van Suid-Afrika se voorste stemme nou woonagtig in Londen, Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.