Karin Hougaard gesels hartsake, oor die VSA en rooimiere

Foto: Facebook/Karin Hougaard

Sy praat soos sy skryf: Poëties, met woorde wat jy nie sommer in enige geselskap sal hoor nie. “Per abuis” en “haltes” vloei gemaklik uit haar mond en ek besef sy is soveel meer as net die sangeres wat roem behaal het met liedjies soos “Lui, lui, telefoon” en “Bly”.

Wat noem ʼn mens iemand wie se kuns in verskeie vorms manifesteer? ʼn Kreatiewe wese?

Ek wonder hoeveel mense weet Karin Hougaard kan skilder én skryf. Nie net liedjies nie, maar kortverhale en gedigte (Karin noem haar digbundels “woorde sonder wysies”, maar vir my is dit digkuns in sy suiwerste vorm).

Jy’s die klippie
in my skoen
die rots
in my maag
die gruisgroef
in my kop

Haar kuns is haar eie, en of dit die kommersiële mark haal of nie, pla haar min. Woorde soos “teikenmark” en “demografie” was nog nooit in haar woordeskat nie.

“Ek het nog altyd baie selfsugtig omgegaan met my musiek en ander kreatiewe werk. Ek maak eerstens vir myself musiek en dan deel ek dit met wie ook al eensgesind is,” sê sy.

Ek ontmoet haar in Pretoria voor sy die Kaap invaar vir vertonings daar. Karin en haar gesin woon sedert 2009 in Noord-Carolina in die VSA en hoewel sy in Maart 2016 dubbele burgerskap gekry het, meen sy hul tydjie in die VSA is nie permanent nie.

“Ons het nie besluit om Suid-Afrika te verlaat nie. Daar was ʼn geleentheid om in die VSA te woon en ons het dit aangegryp – dit was ʼn avontuur. Die idee was dat dit ʼn tydelike ding sou wees, maar die kontrak van twee jaar is toe hernu, en toe besluit ons om nog te bly. Ons eindbestemming is altyd Suid-Afrika. Dit is altyd waarheen ons huis toe kom. Hierdie huidige blyplek is net een van die haltes op die reistog.”

Maar skrik die politiek hier in Suid-Afrika haar nie af nie, vra ek.

“Die beste stuurman staan aan wal,” sê sy versigtig. “Moenie vir ʼn oomblik dink ek is blind vir die misdaad en korrupsie nie, maar op ʼn sekere manier is ek verwyderd en dalk nie so bewus van hoe moeilik dit hier in Suid-Afrika gaan nie. Ek is dankbaar vir die persoonlike vryheid in die VSA – ek het nie ʼn wapen of ʼn heining om my huis nie, maar ten spyte daarvan wil ek steeds in Suid-Afrika wees. My hart is hier.”

En die lewe daar in die VSA?

“Dit is ʼn wonderlike ervaring om ʼn ander kultuur te beleef. Dit is een ding om dit te besoek; dit is ʼn ander ding om jou brood daar te koop en jou bestuurslisensie daar te kry. Dit maak jou volrond, want jy leer om die wêreld uit ʼn ander perspektief te sien. En die Amerikaanse perspektief is gewis anders,” sê sy.

Sy vertel van ʼn kleinhoewe wat sy en haar lewensmaat self in stand moet hou, van kraggereedskap wat aangeskaf moes word omdat bome wat in die pad val hulself nie uit die pad gaan sleep nie.

Maar dit is nie net haar perspektief en lewenswyse wat verander het nie: Karin se kuns is ook deur haar milieu geraak.

’n Mens absorbeer inspirasie vanuit jou omgewing. Ek dink nie dit is ʼn doelbewuste proses nie, dit is goed wat per abuis gebeur. Dit is onvermydelik, jou omgewing raak gewis hoe ʼn mens skep.

Ek wonder of dié groei nie haar gehoor in Suid-Afrika sal vervreem nie, of hulle nog kan aanklank vind by haar musiek. Haar laaste album, Alien Sky, handel juis oor vervreemding en hoe dit is om ʼn buitestander te wees. (NS: Dit is ʼn pragtige album wat beslis die moeite werd is om na te luister.)

“Ek dink egter dat die mense wat van my musiek hou, met my die pad stap, hoewel daar sekerlik mense is wat ’n mens langs die pad verloor. Ek het die afgelope 30 jaar besef dat die mense wat my ondersteun as’t ware langtermynvriende word – hulle stap saam met jou deur elke album. Wesenlik skryf ek liefdesliedjies en dit is universeel,” sê Karin.

Ek dink aan die liedjie “Lui, lui telefoon”, wat soveel ander geleenthede vir Karin geskep het, maar nie eintlik weerspieël wie sy as kunstenaar is nie.

“Ek het ʼn liefde-haat-verhouding met die liedjie, want dit was so reëlreg teen alles wie ek was. Ek het in daardie stadium Brel gesing! En natuurlik is ek dankbaar, want in retrospek besef ek hoe bevoorreg ek was om hierdie liedjie te kry wat vir my soveel deure oopgemaak het, en wat mense nog 35 jaar later ken.”

Foto: Jannes Fourie

Vir Karin, wat nooit dieselfde konsert ʼn tweede keer op die planke bring nie, is dit belangrik dat mense iets nuuts in elke konsert kry. Nietemin meen sy sy besef die waarde van ou treffers en dat mense dit steeds wil hoor.

“Daar is ook plek tydens konserte waar jy jou ou goed sing.”

Die wind steek op en ek voel ʼn reëndruppel op my wang. Dit is in elk geval tyd om te groet, maar ek is nog nuuskierig oor een ding.

“Het jy vrede met waar jy jou nou bevind,” vra ek.

“Ek het rooimiere, ek kan nie ophou uitkyk vir die volgende avontuur nie, maar ek is gemaklik in my lyf en met wie en waar ek is. Hoewel ek ʼn paar kilogram sal wil afskud, is ek vir nou op ʼn goeie plek,” skerts sy.

Ek besef dat ek dalk nooit weer die geleentheid sal hê om so saam met Karin Hougaard ʼn drankie te sit en drink nie, en ek is dankbaar vir die geleentheid. Ek klim in my motor, sit Alien Sky in my speler en draai die volume oorverdowend hard.

Karin tree op 27 April in die Kunstekaap-teater in Kaapstad op tydens die Suidoosterfees, en op 29 April saam met Jaconell Mouton in die Drostdy-teater in Stellenbosch. Besoek haar webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.