Karlien sing vir kankerlyertjie

Hendrik Stopforth (9). Foto: Facebook via Hendrik Stopforth Leukemia Updates

Hendrik Stopforth (9). Foto: Facebook via Hendrik Stopforth Leukemia Updates

Karlien van Jaarsveld gaan ʼn konsert hou om fondse in te samel vir Hendrik Stopforth, ʼn negejarige kankerlyertjie van Brits in Noordwes, nadat hy vir die tweede keer met bloedkanker gediagnoseer is.

Izel Stopforth, Hendrik se ma, het gesê hy is vroeër verlede jaar met bloedkanker gediagnoseer. “Sy behandeling was in September voltooi en dinge het begin beter gaan,” het sy vertel. “Ek het egter in Maart vanjaar weer blou kolle op sy lyf raakgesien en bloedtoetse het bevestig die kanker is terug.”

Dokters het intussen gesê Hendrik sal ʼn beenmurgoorplanting moet kry. Sy jonger sussie is ʼn geskikte kandidaat. “Ons is met ongelooflike dankbaarheid gevul toe ons die nuus gekry het. Dis egter nie eenvoudig nie, die kanker moet heeltemal weg wees voordat die oorplanting gedoen kan word.”

Hendrik is geskeduleer om vier behandelings chemoterapie te kry om te kyk of die kanker verdwyn. Aangesien dit hom egter siek maak, moet hy na elke behandeling minstens drie weke in die hospitaal bly.

“Ek bly by hom in die hospitaal terwyl my man by die ander twee kinders is. Dis baie erg op ʼn mens,” het Izelle vertel. “En dan is daar nog die hoë onkostes en die bybetalings. ʼn Mens kan eenvoudig nie bo uitkom nie.”

Hendrik Stopforth (9). Foto: Verskaf

Hendrik Stopforth (9). Foto: Verskaf

Die gesin gaan eerskomende Maandag die uitslag van die eerste biopsie kry. “Die dokter het gesê sy kan dit nie vooraf met my bespreek nie, dus sal ons maar sien wat die uitslag is. Ons hoop en bid maar.”

Intussen het Karlien van Jaarsveld ingestem om ʼn konsert te hou om fondse in te samel vir die gesin. “Ons is so dankbaar hieroor. Almal bid vir ons en probeer help waar hulle kan. Karlien het gesê sy voel in haar hart sy moet Hendrik help. Dié konsert gaan regtig ʼn groot bydrae lewer.”

Karlien van Jaarsveld gaan op 6 Mei by Laerskool Brits optree. Konsertgangers kan ʼn piekniekmandjie saambring vir die buitelugkonsert. Kaartjies kos R100 vir volwassenes en R50 vir kinders onder 12 jaar. Kleuters is gratis. Hekke open 17:30 en die konsert begin om 19:00.

Konsertgangers kan ook ʼn naweek vir agt mense by die Swa-Zulu Game Lodge wen met ʼn gelukkige trekking.

Kaartjies is by die volgende plekke in Brits beskikbaar:

  • Laerskool Brits
  • Model Melkwinkel
  • Lawwe Lyfies Kleuterskool
  • Borrel Britsies Kleuterskool
  • Becker Apteek
  • Laerskool Olienpark
  • Carla Schoeman
  • Supreme Brake & Clutch

Vir meer inligting, of om betrokke te raak, besoek Hendrik se Facebook-blad of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Xa ·

Karlien is n goeie mens, en ek dink aan julle, en glo sterk julle gaan goeie nuus kry :-)

Tollies ·

Dit le my na aan die hart Hendrik lyk sommer vrolik en daar om glo ek ook daai gesig spreek
boekdele dis net iets wat agter die rug moet kom dan pak hy die lewe verder aan

Alle sterkte en voorspoed aan die gesin met wat nog voorle Ek bid dat ons Hemelse Vader vir Hendrik sal aanraak .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.