Karlien slaan nuwe rigting in met klank

Karlien van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

Ter viering van ʼn dekade in die Afrikaanse musiekbedryf het die sangeres Karlien van Jaarsveld besluit dit is tyd om haar klank en styl as musikant te herontwerp.

ʼn Splinternuwe enkelsnit getiteld “Wegloop” is onlangs uitgereik en stel die nuwe klank en styl ten toon wat nou van dié gewilde sangeres verwag kan word.

Ná vier pop-albums en ’n rits toekennings is Van Jaarsveld ʼn huishoudelike naam en word sy as een van die land se voorste vroulike popkunstenaars bestempel.

Die sangeres dra egter ʼn boodskap in haar hart wat sy graag met aanhangers wou deel, maar wat sy nog nie kon verwoord nie.

“Ek dink ‘Wegloop’ se klank is een wat ek nog altyd maak, maar net nog nooit in die openbaar nie – dis eie aan my,” verduidelik Karlien.

Sy het die liedjie vir haar man, Joe Breytenbach, geskryf saam met haar goeie vriendin, die bekroonde kunstenaar Karen Zoid.

“Ek en Karen is al langer as tien jaar vriende en ek het ‘Wegloop’ vir haar gespeel toe ek op ʼn keer by haar gaan kuier het.

Karlien van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

“Sy het dadelik van die liedjie gehou en het so ʼn paar dinge bygevoeg om die liedjie sy volle potensiaal te laat bereik. Sy het ook die vervaardiging behartig en kan ook gehoor word as agtergrondsanger.”

Die musiekvideo, wat in die Kaap deur Mothership Studios geskiet is, is reeds byna 40 000 keer gekyk op YouTube.

Van Jaarsveld se vorige enkelsnit, “Stiltes”, het binne enkele dae die no. 1-posisie op iTunes gehaal en handel oor vergifnis. Dit was die eerste voorsmakie van die nuwe rigting wat Van Jaarsveld met haar styl wil inslaan.

“As daar ’n popliedjie uit my pen kom, sal dit my verras – maar dan sal ek hom sing. Vir nou wil ek net sing soos ek voel God my lei.”

“Wegloop” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.