Kate Rok maak debuut met ‘teatrale Afrikana’

Kate Rok. (Foto: Facebook)

Die sangeres en liedjieskrywer Kate Rok het lank gevat – byna 16 jaar – om haar uiteindelik as solokunstenaar in die Afrikaanse musiekbedryf bekend te stel.

Met haar moderne Voortrekkerkappie en donker lokke is sy ʼn byderwetse Afrikaner, en beskryf haar musiekstyl as “teatrale Afrikana” – simbolies van die sterk vroue wat sy bewonder en haar onwrikbare trots op haar kultuur en herkoms.

Kate is gebore en getoë in die Oos-Vrystaat en dit is ook hier waar sy die musiekvideo vir haar debuutenkelsnit getiteld “Maangenade” geskiet het.

Nie net vang die video die natuurskoon van Clarens en sy omliggende dele vas nie, maar vang ook die essensie van Kate se rustige plaaslewe saam met haar familie op haar pa se prentjiemooi plaas, Witkrans, vas.

Haar geliefde Great Dane, Barnaby, maak ook ʼn kameeverskyning in die video. Dawid Raath was agter die kamera terwyl Adelheid Broom die regie behartig het.

Sy vertel sy moes ʼn paar kopgesprekke met haarself hê voordat sy die besluit geneem het om uiteindelik haar musiek uit te reik.

“Ek baie geworstel daaroor. Vir ʼn intense mens soos ek was daar baie vrae aan myself oor hoekom ek dit wil doen en om seker te wees waarvoor ek myself inlaat. Dit was werklik ʼn kopspel, maar na 16 jaar het ek gevoel my roeping bly my ontwyk en die woorde kom steeds net na my toe.

“My familie en hartsvriende is nog altyd ongelooflike ondersteuners van my musiek, maar ek dink ek het op ʼn punt gekom waar ek voel of 1 000 mense of ʼn miljoen mense of net een mens van my musiek hou, is dit ook goed.

“Ek doen dit omdat ek dit geniet en het geen verwagtinge oor die uitkoms nie – ek het dit in die Here se hande geplaas, want sy tydsberekening is altyd perfek.

“Dit is nie my woorde nie; dit kom net na my toe en is ʼn ingebore, Godgegewe talent. Dit is lekker om musiek te maak en dit voel asof tien berge van my skouers gelig is.”

Kate het onlangs van Clarens na Pretoria verhuis nadat sy ʼn werksaanbod by ʼn dinamiese sakeonderneming aanvaar het.

“Dit is moeilik om die platteland te verlaat, maar dit is ʼn nuwe, opwindende seisoen in my eie lewe en dié van Kate Rok.”

Sy vertel sy het “Maangenade” geskryf om te onthou dat ten spyte van die seer in ’n mens se lewe, daar ook soveel mooi en lekker dinge is.

“As jy op die mooi fokus, vind jy genesing in die vreugde van soveel ander goed – soos familie, vriende en die natuur. Ek raak soms baie vies oor die situasie in my land, maar dan besef ek dat die genade van my opvoeding en hoe ek redeneer, gesetel is in kennis wat ek onverdiend ontvang het.

“As jy besef hoe ʼn groot rol jou genade-aandeel in jou lewe speel, behoort jy meer empatie en liefde uit te deel, ongeag wie dit is.”

Volgens Kate is “Maangenade” ook geïnspireer deur haar oorweldigende gevoel van genade. “Ek is so lief vir die taal en is mal oor ons land en sy verskillende landskappe. Ons as gesin ry gereeld die grondpaaie plat, want dit is ʼn voorreg om die ongelooflike landskappe te beleef.

“Die maan en sy grootheid inspireer my en ek kon nie dink aan hoe anders om die genade wat ek in my lewe ervaar te beskryf as ‘maangenade’ nie.”

Kate Rok en Barnaby op die stel van die video vir ‘Maangenade’. (Foto: Facebook)

Sy vertel Barnaby het haar tydens die skiet van die video uit haar maag laat lag. “Die bakkie waarmee ons gery het, het vreeslik geskud en hom aan die slaap gesus. Elke kort-kort het sy slap lyf van die sitplek af gegly soos wat hy slaap. Dan moes ons hom eers om die bakkie laat draf dat hy kan wakker word en regop sit.

Barnaby is haar beste vriend, sê sy. “Ek en Barnaby gaan oral saam. Hy is my beskermengel en ’n legende in my gemeenskap. Ek wou in die video die dinge wat ons die gelukkigste maak ten toon stel; ons pretritte, om tyd saam met familie en vriende deur te bring en om nuwe mense te ontmoet en die beste van elke oomblik te maak.

“Ek het op Witkrans soveel liedjies geskryf, trane gestort en lewenslesse geleer. Al die mense en dinge in my lewe is deel van die video.”

“Maangenade” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.