Kate Rok: ‘Stadig maar seker het ek berge versit’

Kate Rok. (Foto: Facebook/Kate Rok)

Kate Rok het vroeër vanjaar haar debuut in die Afrikaanse musiekwêreld gemaak nadat sy amper twee dekades lank geworstel het met die idee om haar musiek aan die publiek bekend te stel.

Tog het Kate altyd in haar hart der harte geweet dat sy ʼn musikant en kunstenaar in murg en been is wat haar talente met die ganse wêreld moet deel en in Julie vanjaar het sy haar eerste enkelsnit, “Maangenade”, uitgereik.

Vandaar het liedjies, in ʼn genre wat sy self “teatrale Afrikana” gedoop het, soos “Staat”, “Verlate”, “Wilgerlied” en “Tequila Karoo” gevolg.

“Ek voel asof ek die afgelope jaar ongelooflike groot berge versit het en die terugvoer op my musiek is ongelooflik. My progressie is stadig, maar dit raak mense aan, en dit is waarvoor ek gebid het,” vertel Kate in ʼn onderhoud met Maroela Media.

As onafhanklike kunstenaar hanteer sy elke aspek van haar musiekloopbaan self terwyl sy van agt tot vyf daagliks die pot aan die kook hou met ander werk – van die skryfwerk van haar musiek tot musiekvideo’s en omslagontwerpe – en daarom span sy ook ander kunstenaars in om haar met dié enorme take te help.

“Die realiteit van die musiekbedryf, veral as onafhanklike kunstenaar, is dat die ure rof is en dat jy jouself met ander mense moet omring wat ook lief is vir wat hulle doen. Dit is na kantoorure wanneer al hierdie magical dinge bymekaar moet kom en jy spertye moet bereik terwyl die lewe rof rondom jou aangaan.”

Kate, wat oorspronklik van Clarens in die Vrystaat kom, sê dit voel asof “bergreekse” van haar skouers af is noudat sy uiteindelik haar drome en passie ten volle uitleef.

Kate Rok. (Foto: Verskaf)

“As jy vir 18 jaar in jou hart en agter in jou keel voel jy moet iets doen en jy doen dit uiteindelik, is daar niks wat naby aan daardie gevoel kan kom nie. Jy dink jy is te oud, maar jy is nie. Om jou drome na te jaag is die lekkerste ding van alles en ek is uiters dankbaar vir die ontvangs wat ek gekry het.”

Tog sou sy dié mylpaal in haar lewe nooit sonder haar ondersteuningsnetwerk kon behaal nie, en sy sonder haar ouers uit as die mense wat die grootste indruk op haar gelaat het.

“My ouers is geskei toe ek ʼn klein dogtertjie was. My ma het my in dié proses geleer om te vergewe en om vreugde in alles te vind, al het dit baie keer verskriklik swaar gegaan. Om deel te wees van ʼn gebroke gesin was nie altyd maklik nie, maar my ma het dit amper op ʼn bonatuurlike wyse hanteer sonder om ooit ʼn lelike woord oor enigiemand te sê,” vertel Kate.

“As ʼn mens haar dan weer sou vra waar sy haar krag vandaan kry, sal sy altyd antwoord dit kom van die Here af. As sy wou opgee het sy aangegaan vir haar kinders, vir my en my twee broers, Johan en Theunis. Sy het ons geleer dat ʼn mens se denke moet vernuwe en sy is die versinnebeelding daarvan om dit nie nét te sê nie, maar absoluut uit te leef.”

Kate sê haar band met haar pa is vandag nog net so sterk. Die musiekvideo vir “Maangenade” vang nie net die natuurskoon van Clarens en sy omliggende dele vas nie, maar ook die essensie van Kate se rustige plaaslewe saam met haar familie op haar pa se prentjiemooi plaas, Witkrans.

“Ek glo dat moeilike tye karakter kweek. As ons nie deur ʼn egskeiding was as kinders nie, het ons nie die karakter gebou wat ons het nie. ʼn Mens besef nie altyd dadelik dat daar ʼn lig gaan skyn deur dit wat jy nou deurgaan nie, maar wanneer ek en my broers terugkyk, besef ons dat ons dankbaar moet wees dat ons saam met ons twee halfboeties uiteindelik deel was van ʼn Smartie-boks-gesin, want dit het die tipe karakter gebou wat ʼn mens nie met geld kan koop nie.”

Kate Rok op die stel van “Wilgerlied”. (Foto: Facebook/Kate Rok)

Haar tien hartsvriendinne, elkeen uniek en uiteenlopend in eie reg, is ook haar grootste ondersteuners sonder wie sy nie haar lewensreis sou kon aanpak nie, sê Kate.

“My vriendinne is die grootste seën in my lewe. Hulle is die tipe vriendinne wat mekaar se rûe toe hou en wat my inspireer. Ek raak emosioneel wanneer ek aan hulle dink, want hulle laat my nooit alleen deur my lewe se seer of vreugdes gaan nie. Hulle is nie eens noodwendig al almal onder een dak nie en bly die wêreld vol, maar hulle is karaktervolle mense met integriteit wat my dra en na my hart luister.”

Sy vertel een van haar jongste musiekskeppings, “Wilgerlied”, is ook geskep op haar pa se plaas in die Clarens-omgewing.

“Dit is ʼn liefdeslied aan die natuur – die plek waar ek die naaste voel aan my Skepper. Tussen die kranse kry my drome en bekommernisse skielik perspektief en ek besef net hoe nietig en klein ons is. Ons is so egosentries en ons kyk nie meer na die natuur nie.”

Kate Rok se enkelsnitte is op groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo van “Wilgerlied”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AW

So, het elke mens ń Storie !!