Katy Perry, Orlando Bloom verwelkom eersteling

Katy Perry en Orlando Bloom. (Foto: Instagram/Katy Perry)

Die Amerikaanse popsangeres Katy Perry en die akteur Orlando Bloom se eersteling is gebore. Die paartjie se nuwe babadogtertjie heet Daisy Dove Bloom.

Perry en Bloom het Donderdag ʼn skattige swart-wit foto van ʼn babahandjie saam met ʼn verklaring deur Unicef, die VN se agentskap vir ontwikkelingshulp vir kinders, op Instagram gedeel. Die paartjie is albei ambassadeurs van Unicef.

“Ons sweef van liefde en verwondering ná die veilige en gesonde aankoms van ons dogter,” lui die inskrywing.

“Maar ons weet ons is die gelukkiges, en dat nie almal ʼn geboorteproses so vreedsaam soos ons s’n beleef nie. Gemeenskappe reg oor die wêreld ervaar ʼn tekort aan gesondheidswerkers en elke 11 sekondes sterf ʼn swanger vrou of pasgebore kind, en meestal kan dit voorkom word.

“Sedert die aanvang van Covid-19 is soveel meer pasgebore lewens in gevaar oor ʼn groter tekort aan water, seep, inentings en medisyne wat siektes kan voorkom. As ouers van ʼn pasgebore kind breek dit ons harte en het ons nou meer empatie met sukkelende ouers as ooit.”

Die paartjie, wat verlede jaar op Valentynsdag verloof geraak het, het ʼn donasiebladsy gestig om Daisy se geboortedag te vier en alle geld word geoormerk om pasgebore babas en hulle ma’s finansieel te ondersteun.

“Ons hoop julle harte kan blom met vrygewigheid,” het hulle bygevoeg. Perry het in Maart haar swangerskap in haar musiekvideo “Never Worn White” aangekondig.

Dit is die 35-jarige Perry se eerste kind. Bloom (43) het reeds ʼn negejarige seun, Flynn, saam met die supermodel Miranda Kerr met wie hy getroud was tot en met 2013. Perry was voorheen vir 14 maande getroud met die komediant Russell Brand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.