Kerkorrel se bydrae tot rewolusie in Afrikaanse musiek

johannes-kerkorrel

Johannes Kerkorrel. Foto: Johanneskerkorrel.com

In die laat 1980’s het baie min Afrikaanse kunstenaars dit gewaag het om ʼn politieke standpunt deur middel van hul musiek in te neem.

ʼn Groep kunstenaars het egter besluit hulle het genoeg gehad van die apartheidsregering en het geen doekies omgedraai oor hoe hulle daaroor gevoel het nie. Een van die leiersfigure was Ralph Rabie. Hy is op 27 Maart 1960 in Johannesburg gebore en het, soos Koos du Plessis, uit die joernalistiek in die musiekbedryf beland. Nadat hy drama by die aktrise, Babs Laker, wat veral bekend was vir haar rol as Liebet Rynhardt in die televisiereeks Ballade vir ʼn enkeling, gestudeer het, het hy as subredakteur by Die Burger gewerk en later, nadat hy na Johannesburg verhuis het, by Rapport.

Hy het die verhoognaam Johannes Kerkorrel gekies nadat hy eendag by ʼn winkel verbygestap het wat Johannus-kerkorrels verkoop en besluit het dit sou sy verhoognaam wees. Hy en ʼn paar ander alternatiewe Afrikaanse kunstenaars, soos Koos Kombuis en Bernoldus Niemand (die verhoogname van André le Roux du Toit en James Philips), het besluit om ʼn landwye toer te onderneem om ʼn groter gehoor aan hul musiek bloot te stel. Die naam van die toer was Voëlvry, na aanleiding van ʼn liedjie wat Pieter van der Lugt geskryf en gesing het.

Die toer is by verskeie universiteitskampusse verbied, predikante het landwyd van die kansel af standpunt teen hierdie musiek ingeneem en die SAUK het die hele album summier verbied, maar ʼn nuwe tydvak vir Afrikaanse musiek het aangebreek.  Ralph se base by Rapport het hom voor ʼn ultimatum gestel om van die Voëlvry-beweging weg te breek of te bedank. Hy het besluit om eerder te bedank.

Die Voëlvry-toer het van April tot Junie 1989 geduur, maar Kerkorrel het voor die toer sy eerste kortspeler uitgereik, met “Ry” as die treffersnit en “Hillbrow” op die keersy. Ironies genoeg was dit laasgenoemde snit wat die groot treffer geword het. Na die Voëlvry-toer het hy sy eerste album, Eet kreef, opgeneem en ʼn landwye toer onderneem. Feitlik die hele album is deur die SAUK verbied.

Op die eerste snit, “Sit dit af”, het Kerkorrel hoegenaamd geen geheim gemaak van hoe hy oor die destydse Nasionale Party-regering of die SAUK se nuusdekking gevoel het nie. Dit was egter nie die enigste snit waarop hy die status quo uitgedaag het nie. “Energie” was ʼn rebellie teen gesag, terwyl hy ook baie sterk standpunt teen snobisme ingeneem het op “BMW”. Naas “Hillbrow” was “Tronk” die enigste snit wat aanvaarbaar vir die SAUK was. “Ossewa” het ook radiolugtyd gekry, maar eers nadat ʼn woord uit dié liedjie verander is.

Kerkorrel se tweede album, Bloudruk, was seker een van die heel beste Afrikaanse albums van die 1990’s en het verskeie treffers opgelewer omdat die aanslag meer kommersieël en sy taalgebruik meer aanvaarbaar was.

Die eerste snit, “Halala Afrika”, was iets besonders, want dit was seker die eerste Afrikaanse liedjie waaraan wit en swart kunstenaars saamgewerk het. Onder die ander treffersnitte op hierdie album was “Somer” en “Hoe ek voel”.

In 1994 het hy die oorwegend Engelse album Cyanide in the beefcake bekendgestel met die snit “Awuwa”, waarin Tandie Klaasen en Stef Bos in onderskeidelik Zoeloe en Nederlands saam met hom sing.

Sy volgende Afrikaanse album, Ge-trans-for-meer is in 1996 vrygestel en het ʼn groot verrassing opgelewer, naamlik sy verwerking van die bekende volksliedjie “Al lê die berge nog so blou”, wat die groot treffersnit op dié album was. Daarby het hy ook Koos Kombuis en David Kramer se onderskeie treffers “Onder in my whiskyglas” en “Dawid Ryk” opgeneem.

Hy het sy dekade in die musiekbedryf gevier met “Tien jaar later” in 1998 met, benewens sy treffers, ook twee snitte wat hy opgeneem het voordat hy Eet kreef vrygestel het, naamlik “Almal moet gerook raak” en “Wat ʼn vriend het ons in PW”. In 2000 verskyn sy laaste album, Die ander kant, waarvan die titelsnit ʼn groot treffer geword het.

Johannes Kerkorrel het op 12 November 2002 sy eie lewe geneem op die jong ouderdom van 42. Huldeblyke het van oral ingestroom. Hy was baie goed bevriend met Amanda Strydom en op haar album Verspreide donderbuie het sy die snit “Ek het gedroom” ingesluit, wat sy ter nagedagtenis aan hom geskryf het waarin sy herinneringe van hul vriendskap deel. Sy komposisies “Halala Afrika” en “Hillbrow” is in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit.

Met sy waagmoed om die regering van die dag uit te daag en sy vermoë om sy musiek by veranderende tye aan te pas, het Johannes Kerkorrel ʼn rewolusie in Afrikaanse musiek meegebring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Derek Meyer ·

Al wat ek onthou van daai tyd se “alternatiewe” Afrikaanse musiek was “Ek ry my BMW”. Vervelig. Musiek wat nie regtig musiek was nie. Weet nie hoekom dit altyd so aangehaal word in die pers nie. Net weens die politieke ondertone en nie weens die kwaliteit van die musiek nie?

Jan ·

Sy dood was regtig ‘n verlies vir die Afrikaanse Kunste. En Afrikaanse sangers wat oor iets anders as Bokkie, Baby of liefie kan sing is juis so dun gesaai.

Derek Meyer ·

Nee, nie regtig nie.Vir my was soos Nommer Een se lofsangers vandag is. En Lord Milner se lofsangers was. Nie regtig betekenisvol vir enige Afrikaner nie.

Jan ·

Wel Derek, ek is ‘n Afrikaner en vir my is die kunstenaars vd Voëlvry toer volkshelde – mense wat kon sien dat daar fout was met ‘n stelsel en bereid was om op te staan vir hulle idees. Party Afrikaners is oop kop en lekker in staat tot onafhanklike denke, en vir sulke mense sal die protes musiek vd 80’s en 90’s altyd spesiaal wees.

Derek Meyer ·

Ja, Jan, ek weet dit is waar. Vir ‘n baie klein persentasie Afrikaners is hy ‘n volksheld. Ou “Doktor” Carl Niehaus is ‘n goeie voorbeeld daarvoor.

Dawie ·

Stem saam, hy was waarlik ‘n ikoon van alternatiewe afrikaanse musiek.

Francois ·

Ja die media hou daarvan om te maak of die reaksie van die NP regering gemaak het dat Orrel op kampusse verbied was; wat totaal onwaar is. Ek en n vriend was op Stellenbosch die oorsprong van n petisieskrif wat daartoe gelei het dat hulle daar verbied is!! Toe Orrel my konfronteer het daaroor het ek dit duidelik aan hom voor sy “hangers-on” gese dat dit oor sy VIESLIKE kru taal was. Maw dit was gewone christene wat hom geblok het. Ns ek was n PFP ondersteuner toe… niks met die NP te doen gehad..

Derek Meyer ·

Jip. Kerkorrel was glad nie verbied waar ek daardie tyd gestudeer het nie. Hy was doodgewoon nie goed genoeg om groot genoeg gehore te lok om vir sy vir sy optredes te betaal nie.

Hy het voorgegee dat hy “vervolg” word!

Victor ·

“VIESLIKE kru taal”? Haha, waarvan praat jy? Het jy al bietjie geluister na die musiek vandag, maar jy dink Kerkorrel het slegte taal gebruik?

JB ·

Gefolterde siel wat ‘n aanklank gevind het by ‘n klein groepie siele. As held opgehef deur liberale media en ander randfigure.

Victor ·

Nee, nie net ‘n klein groepie siele nie – meer as wat jy dink.

Hy, en Koos Kombuis, was wel op sensuur lyste want die verkrampte ou regering wou geen kritiek hoor nie

SkarrelKind ·

Ek dink hy was ongelooflik talentvol – en ook dapper. En hy is wel op sekere universiteite verbied. Ek stem ook nie noodwendig saam met sy kru taalgebruik nie, maar enige Afrikaner wat vir my wil kom vertel “Hoe ek voel” is nie een van die mooiste balades in Afrikaans nie, is eenvoudig moedsvillig. Speel die bal nie die man nie.

Francois ·

Ek wil graag net se dat ek ook dink dat Orrel n baie groot talent gehad het. Maar mens sif die sleg uit en neem die goeie. Dit is ons plig om nie mense klakkeloos te verheerlik nie. Hulle moet weet wat nie aanvaarbaar is nie en wat is. Een verkeerde ding maak nie n (verkeerde) ander reg nie.
Ek het ook daardie jare protes aangeteken teen die NP regering se beleid op n verskeidenheid van forums. Maar belangrik vir my dat my basiese beginsel(s) van christelike oortuigings altyd die vertrekpunt vir alle optredes sal vorm. En ja vandag is die taalgebruik alte dikwels kru…. net jammer dat die protes daarteen so skraps is. Ons moet mos ten alle koste polities korrek wees (@ rugraatloos)…. te bang vir kritiek… ons laat dikwels ons eie beginsels in die steek. Drankmisbruik, ydelike gebruik van die Here se naam, geweldspraatjies, hoerery, aborsies, korrupsie, n geskinder en homoseksualisme ensm vier hoogty- maar ons probeer Gods Woord by die dinge aan te pas om ons gewete te sus. Pleks dat ons begin om die wereld te verander deur ons te bekeer! Die dat afrikaners vandag so met die rug teen die toue is (net my 5c se opinie- vir wat dit werd is.)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.