Kersfees saam met bekendes vir liefdadigheid

Die Garden World-kwekery in Muldersdrift in Gauteng bied weer eersdaags ʼn konsert ten bate van die Teaterbystandsfonds (TBF) aan en beloof om konsertgangers te vermaak met ʼn sterbelaaide vertoning.

Bekende en geliefde akteurs wat gereeld in televisiereekse en op die grootskerm verskyn, snoer kragte saam om ʼn onvergeetlike aand met ʼn vrolike Kerstema ten bate van liefdadigheid aan te bied.

Frank Opperman, Liane Heyl, Kaz Mcfadden, Wynand van Vollenstee, Hugh Mazebenza en Lizz Meiring van Ouboet en Wors-faam sal saam met David Louw en Michelle Botha van Getroud met rugby te sien wees.

Die dinamiese en gewilde televisiepersoonlikheid, Eloise Cupido, die pianis en orrelis, Martin Lane, en die kabaretster en kosaanbieder, Willie Strauss, tree ook tydens die geleentheid op.

Die sangers, Linda Killian, Henry van Dyk, Mari Bosman, Riaan Grobler en Elmé Churr, gaan ook die gehoor vermaak met hul trefferliedjies. Gretha Pers sal die kinders vermaak.

Lizz Meiring. (Foto: Verskaf)

Lizz Meiring. (Foto: Verskaf)

Kos- en drankstalletjies sal die honger en dors les terwyl die kwekery se winkel oop is vir aankopies. Daar is ook verskeie ander kunsstalletjies om te geniet en ʼn veilige springkasteel vir die woelwaters.

Die konsert vind Donderdag 29 November om 20:00 plaas. Kaartjies kos R120 vir volwassenes, R80 vir pensioenarisse en kinders onder 14 en R80 per persoon vir blokbesprekings van 10 persone of meer.

Vir besprekings skakel 011 957 2545 of stuur ʼn e-pos na [email protected] of [email protected].

Die TBF is ʼn geregistreerde PWO (Publieke Welwillendheidsorganisasie) wat omsien na die ernstige siekes, behoeftiges en bejaardes van alle beroepe in die vermaaklikheidsbedryf. Dit sluit rolprente, radio, televisie, teater en ander regstreekse optredes in. Die TBF is heeltemal afhanklik van skenkings om bogenoemdes te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.