Keur van Kersmusiek in dié Aardklop Aubade-vertoning

Argieffoto (Foto: Islem Benzegouta/Pixabay)

Kersmusiek is stadig maar seker besig om oral op te klink. In winkelsentrums, by spesiale konserte, op die radio, en in die kerk. Vir baie mense is dit ʼn manier om na ʼn rowwe jaar ratte te verwissel en in die regte gemoedstemming vir die feestyd te kom.

Op Sondag 3 Desember kan aanhangers van Kersmusiek juis naderskuif wanneer die Chanticleer Singers, onder leiding van maestro Richard Cock, ʼn keur van musiek in Christmas Cracker opvoer.

Cock vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media dat die konsert se naam ʼn sinspeling op die oomblik is wanneer jy en iemand anders saam aan ʼn Kersklapper trek en nie een van julle weet wat ná die knalgeluid uit die kreukelpapier gaan spring nie.

“In die gees van Kersfees sal ons uiteraard al die bekende liedere sing wat ʼn mens gewoonlik op so program verwag. Ons bring ʼn klomp heerlike verrassingselemente, en konsertgangers kan veral uitsien na die spreekwoordelike ontploffing van Kersmusiek.

“Tesame met alombekende Kersliedere, is daar ook opvoerings van minder bekende musiek. Die program is saamgestel om ʼn verskeidenheid vir mense te gee en die Kersfeesaanslag nuut en vars te hou.”

Gehore kan uitsien na bekende liedere soos “Kom alle getroues”, “Lofsing die Heer”, “Stille nag”, “Hark the Herald Angels” en “Joy to the World” wat opgevoer word, en met van die liedere sal die gehoor boonop kans kry om uit volle bors saam te sing. Tussendeur gaan Cock ʼn verskeidenheid staaltjies en stories vertel wat by die tema van feestyd inskakel.

“Ek geniet dit ontsettend baie om programme vir Kerskonserte saam te stel en dit is elke keer vir my ʼn heerlike uitdaging om so iets op nuwe en interessante maniere aan te bied.”

Richard Cock (heel links) en die Chanticleer Singers. (Foto: Chanticleer Singers/Facebook)

Die Chanticleer Singers is in 1980 deur Cock, bekende dirigent en musiekkenner, gestig. Sedertdien het dié kamerkoor wêreldwyd bekendheid verwerf en opgetree, hetsy dit in a cappella-optredes of konserte saam met ʼn simfonieorkes was.

Hierdie spesiale Kersprogram word deur Momentum Beleggings Aardklop Aubade by die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria aangebied.

Die konsert begin om 11:00. Kaartjies vir Christmas Cracker kos R190 en R150 en kan by Ticketpro bespreek word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer inligting oor die Aardklop Aubade-konsertreeks.

  • Christmas Cracker word Dinsdag 5 Desember om 19:30 in Johannesburg aangebied. Kaartjies kan by Quicket bespreek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.