Kiekies – Lucas se liedjies – Jannie du Toit en Thean Kotze

Lucas Maree: Kiekies

Lucas Maree: Kiekies

Lucas Maree het in 1985 op die Afrikaanse musiektoneel verskyn en hy is dadelik beskou as die opvolger van die legendariese sanger en liedjieskrywer, Koos du Plessis, wat die vorige jaar op ʼn jong ouderdom in ʼn motorongeluk oorlede is.

In 2011 het Lucas ongelukkig die stryd teen kanker verloor, maar nie voordat hy ʼn aantal uitstekende liedjies nagelaat het nie. Nou het Jannie du Toit en Thean Kotze besluit om hulde aan hom te bring met ʼn konsert en ʼn CD getiteld Kiekies – Lucas se liedjies.

Die eerste snit op die CD is “Jerigo”, wat oorspronklik deel was van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek se album Winde van verandering. Lucas was deel van Anton se projek, maar het hom daaraan onttrek, omdat hy glo nie van die politieke strekking van sommige van die lirieke gehou het nie. Lucas het dit ook later op sy album Miljoen ingesluit.

Die volgende snit, “Die bedelspeler”, was op dieselfde album en was een van die treffers op dié album. “Kiekies in  my plakboek” was Lucas se eerste treffer en Leon Schuster het hom in een van sy rolprente met hierdie liedjie uitgevang. Toe Lucas sy album Die kiekies-konsert vrygestel het, het hy lekker met homself gespot deur na daardie rolprent te verwys.

“Die arend” was nog ʼn snit van die Miljoen-album en hierop het Lucas die versugting na vryheid baie goed verwoord. “Wiegeliedjie” is nog een van die snitte op die album “Kiekies”; Jannie sing voor op hierdie snit en dit klink baie goed. Die lirieke is eenvoudig skitterend en dit is nie jou konvensionele wiegeliedjie nie.

Thean en Jannie sing albei voor op “Gebed in die laataand”, een van Lucas se minder bekende snitte. Op “Legkaart” het Lucas filosofies geraak; hy het die lewe as ʼn legkaart beskou, met elke stuk ʼn lewensdroom wat vervul is.

“Die tyd stap aan” is aanvanklik deur Laurika Rauch opgeneem en dis goed dat Jannie en Thean dit ook ingesluit het, want hoewel Lucas dit later opgeneem het, het mense effens daarvan vergeet. Soos gewoonlik, is Jannie en Thean se kitaarwerk baie goed, en hul harmonieë is uitstekend.

“Sunnyside” is een van die hoogtepunte van die album en Thean klink byna presies soos Lucas. “Victoriabaai” was natuurlik ʼn groot treffer en dit was ʼn liedjie wat vir Lucas groot persoonlike betekenis gehad het, omdat sy ma se as daar gestrooi is. Die kitaarwerk op Jannie en Thean se weergawe is uitstekend.

Baie mense sal nie glo dat Manuel Escorcio “Die N1-roete noord” oorspronklik opgeneem het nie, al het Lucas dit geskryf. Die lirieke van “Weer ʼn keer” is eenvoudig skitterend en baie mense kan hulle sekerlik daarmee vereenselwig. Lucas het met hierdie snit gewys dat hy geweet het hoe om met woorde te speel.

Die baslyn van “Dooiemansdeur”, wat oorspronklik op die album Kiekies voorgekom het, klink baie goed. Dit is een van die min snitte waarop daar iets anders as ʼn akoestiese kitaar gehoor kan word, tensy Thean die baslyn met ʼn akoestiese kitaar speel. Indien wel, is dit nog meer bewys dat hy inderdaad een van ons land se beste kitaarspelers is.

“Droomvrou” is een van Lucas se grootste treffers en is al deur verskeie kunstenaars opgeneem. Nog ʼn hoogtepunt van die album is “Die weduwee se kruik”, veral omdat die woorde die waarheid is.

Jannie het “Die windpomp” twintig jaar gelede op sy album Volgende winter opgeneem. Daarom  is dit nie ʼn verrassing dat Jannie voorsing nie. Die laaste twee snitte het oorspronklik op die album Miljoen verskyn. “Nog een koppie  koffie” was ʼn treffer en Jannie en Thean se harmonieë klink baie goed. Die titelsnit was met reg Lucas se grootste treffer. Daar is seker niemand wat hulle nie met daardie versugting kan vereenselwig nie, veral in vandag se ekonomiese toestande. Daarby het mense die wanindruk gehad dat Lucas ʼn ernstige en introspektiewe mens was. Dit is juis hulle wat die beste humorsin het en dit is iets wat Lucas met hierdie juweel bewys het.

Daar is mense wat tereg sê Afrikaanse kunstenaars stel te veel huldeblykalbums vry, maar die gehalte van sommige is beter as ander. Lucas was egter een van die beste liedjieskrywers en sangers in ons land se geskiedenis en daar is min kunstenaars wat met so ʼn goeie album hulde aan hom kon bring.

Aangesien dit moeilik is om ʼn trefferversameling van Lucas in die hande te kry, kan hierdie album baie sterk aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

CH ·

Is Lucas in 2011 oorlede??? Indien ek reg onthou, is dit nie so lank gelede nie.

My tweesent bydrae ·

Lucas Mares was n ware musikant . Toe die Jakarandafees nog op Kerkplein was het hy eendag saam met sy orkes Kommissie van Ondersoek daar opgetree . Die aand was daar stortreen en almal het padgegee . Ons was so drie wat agtergebly het . Lucas en sy orkes het in die reen papnat geword om vir ons n vertoning te gee . Wat n held was hy nie .

Tanya ·

Ek het hierdie Lucas baie liefgehad. Van plastiek was hy nie gemaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.