KKNK stel 2017-program bekend

Peter-Dirk Uys is een van die kunstenaars wat by die KKNK in 2017 vereer word (Foto: Instagram)

Peter-Dirk Uys is een van die kunstenaars wat by die KKNK in 2017 vereer word (Foto: Instagram)

deur Ester van der Walt

Die 23ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees-program is pas bekendgemaak en beloof om weer Oudtshoorn se strate in ’n bont, betowerende Afrikaanse makietie te verander.

Die fees wat van 8 tot 15 April 2017 plaasvind, bied iets vir elke smaak – vermaak vir oud en jonk met die program wat byna uit sy nate bars met drama, humor, musiek en diskoers en die strate propvol vrolike stalletjies.

Besoekers van die week lange fees kan uiteenlopende teaterproduksies, konserte, visuele kuns, dans en opvoedkundige kindervermaak verwag wat relevant is tot die Suid-Afrikaanse sowel as die internasionale konteks. Klassieke en nuwe produksies is op die planke by die KKNK.

Produksies van Pieter-Dirk Uys tot grappies van Schalk Bezuidenhout, die musiektalent van Karen Zoid en die talente van Sandra Prinsloo kan onder meer gesien word en die uiteenlopende program waarborg vermaak deur top Suid-Afrikaanse persoonlikhede. Daar is natuurlik ook kindervermaak om die jongspan besig te hou met prettige en opvoedkundige aktiwiteite, optredes en werksessies of slypskole.

Besoekers kan met ’n roomys in die hand van galery tot galery in die hoofstraat rondwandel en plaaslike kunstenaars ondersteun, en as jou maag grom vir iets meer as net ’n roomys kan jy by een van die vrolike kosstalletjies ’n lekkerny kry om jou honger te stil.

Die volledige program is beskikbaar op die KKNK se webwerf. Kaartjieverkope is reeds oop vir Kliek Klublede en open op Dinsdag 17 Januarie 2017 vir die publiek by Computicket, Shoprite, Checkers en House & Home. Vir verblyfbesprekings, stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 044 203 8600.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.