Klassieke musiek seëvier tydens finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto

(V.l.n.r.) Bridgitte Mathews, voorsitter van die ATKV-direksie, Bongani Kubheka (wenner van ATKV-Muziqanto), Cameron Williams (wenner van ATKV-Muziq) en Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV (Foto verskaf)

Klassiekemusiekkunstenaars kry deesdae min erkenning vir die waarde wat hulle tot kultuur en die kunste toevoeg, maar by vanjaar se finaal van ATKV-Muziq en -Muziqanto is dié merkwaardige musici vir hul talente vereer.

Die kompetisie, by die Hugo Lambrechts Musieksentrum in Parow, Kaapstad, het Saterdag op ʼn hoë noot geëindig toe die wenners aangekondig is. ATKV-Muziq (‘n nasionale instrumentale klassiekemusiekkompetisie) en -Muziqanto (ʼn klassiekemusieksangkompetisie) se finale is hierdie jaar saam gehou.

Uit die sewe deelnemers in elke kompetisie wat Vrydag in die tweede ronde teen mekaar meegeding het, is drie gekies om Saterdagaand by ‘n swierige geleentheid saam met die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van maestro Richard Cock, op te tree.

“Ons is baie bevoorreg om ‘n direksie by die ATKV te hê wat ‘n groot bewondering en passie vir klassieke musiek koester,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV. “Ons het reg oor die land vir die beste klassieke musikante en sangers gesoek en vanaand het hulle gewys waartoe hulle in staat is.”

Die eersteplekwenners in albei kompetisies stap onderskeidelik weg met ‘n kontantprys van R70 000. Die tweedeplek- en derdeplekwenners ontvang onderskeidelik R35 000 en R20 000.

Die 21-jarige Cameron Williams het vanjaar koning gekraai in die ATKV-Muziqkompetisie. Dié saksofoonspeler se ratse vingers en lang asem het die gehoor en die beoordelaars in vervoering gehad. “Ek is in die wolke,” het Cameron ná die groot aankondiging gesê. “Ek het met die kompetisie grootgeword en nog altyd die deelnemers en wenners bewonder. Dit is wonderlik om dit te wen.”

Die naaswenner was die pianis Brian Bae en die violis Paul Loeb van Zuilenburg was derde.

Die bariton Bongani Kubheka is as die wenner van ATKV-Muziqanto aangewys. “Dit is ‘n wonderlike gevoel,” het Bongani gesê terwyl hy van oor tot oor geglimlag het. “My teenstanders was almal baie goed en dit was beslis ‘n moeilike kompetisie. Ek het voor die kompetisie nog ‘n vertoning in die Baxterteater gehad en ek was nie seker of ek voorbereid genoeg was nie.”

Bongani beoog om in Europa aan oudisies te gaan deelneem, terwyl Cameron nog nie veel uit die mou oor sy toekomsplanne wil laat nie.

Luvuyo Mbundu (bariton) was tweede en Segomotso Shupinyaneng (sopraan) derde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.