Klassieke musiekfees dié naweek in Oudtshoorn

Argieffoto (Foto: Rob Simmons/Unsplash)

Op 27 en 28 November kan klassieke musiekliefhebbers in Oudtshoorn aansluit vir ʼn fees van klassieke musiek by vanjaar se Klein Karoo Klassique.

Hugo Theart, artistieke direkteur van Klein Karoo Klassique, is opgewonde oor die fees en meen dat dit die perfekte geleentheid vir gehore is om terug te sit en te ontspan.

“Dit is so wonderlik om weer die klassieke musiekfees in Oudtshoorn aan te bied, en so ook die feestyd in te lei. Almal word uitgenooi om saam met ons te kom ontvlug en in die Klein Karoo asem te skep.”

Theart sê verder dat die fees nie sou plaasvind sonder die Rupert Musiekstigting nie, wat vanjaar vir die agtste keer by Klassique betrokke is.

Die fees skop Saterdag om 10:00 af met Guy Buttery en die Gqeberha-kwartet. David Bester (viool), Jan-Hendrik Harley (altviool), Lynn Daphne Rudolph (altviool), Mariechen Meyer (kontrabas) en Guy Buttery (akoestiese kitaar, sitar en mbira) sorg vir musikale interaksie tussen kontemporêre klassieke musiek en Buttery se kenmerkende komposisie-styl. Elke lid van die kwartet word as ʼn unieke musikale stem hanteer, wat unieke strykteksture tot gevolg het.

Nina Schumann, een van Suid-Afrika se voorste pianiste, is Saterdag om 15:00 te sien in Skoonheid in variasie/Variasie in skoonheid. In hierdie uitvoering word die kombinasie van vier komponiste – Bach, Mendelssohn, Rachmaninoff en Medtner – se werke nie net gebruik om die tradisionele variasievorm en die “herkomposisie” daarvan uit te lig nie, maar ook die gesprek tussen komponiste op grond van gedeelde estetika te beklemtoon.

Renee van der Westhuizen (tweede viool), Emile de Roubaix (altviool), Dane Coetzee (tjello) en Petrus de Beer (eerste viool) bied Saterdag om 18:30 Skemerkonsert by Karusa aan. Die program is saamgestel uit gewilde klassieke musiek, musiek uit blyspele, bekende rolprentmusiek en selfs ʼn paar klassieke verwerkings van hedendaagse populêre treffers.

Dié uitsonderlike strykkwartet bied werke van Mozart tot Andrew Lloyd Webber, Katy Perry tot Bach, met die Karoo-sonsondergang as agtergrond vir ʼn klassieke opelugervaring. Gaste kan vroeg aanmeld vir Karusa se à la carte-spyskaart en ʼn heerlike familieaand onder die sterre.

Die fees sluit Sondag met ʼn Barok-Kersfees-vertoning af. Vir hierdie uitvoering bied lede van die Kaapstad Barokorkes (Lynelle Kenned (sopraan), Joshua Frank (blokfluit), Erik Dippenaar (klavesimbel en musikale leiding)) ʼn program van Kersmusiek uit die Barok-era aan, waarvan vele werke steeds in Kers-repertoires ingesluit word. Die program sluit uittreksels uit Handel se Messiah en Corelli se Kersfees-concerto in, soos in 1780 deur Thomas Billington vir klawerbord verwerk is, asook gewilde Kersgesange soos Isaac Watts se “Joy to the World” uit 1719, en “O come, all ye faithful” uit die middel-1700’s. Die musiek word aangevul met voorlesings deur Sandra Prinsloo.

Theart herinner musiekliefhebbers ook aan Coenie de Villiers en Deon Meyer se spesiale vroeë Kerskonsert. Gehore landwyd was gaande oor De Villiers en Meyer se Karoo Suite-produksies en nou het dié twee Karoo-liefhebbers ʼn spesiale vertoning, Karoo-Kersfees saamgestel wat op 25 en 26 November om 19:00 by die Surval Boutique Olive Estate net buite Oudtshoorn opgevoer word. Karoo-Kersfees beloof om ʼn onvergeetlike en spesiale ervaring vir die hele gesin te wees.

Celebratio Granaatplaas, wat sowat 30 km buite Oudtshoorn op die Ou Sementpad geleë is, se spesiale ervaring Klassieke Klein Karoo Kersfees vind op 11 Desember plaas. Dié buitelugkonsert het die afgelope paar jaar ʼn instelling in die Klein Karoo geword. Vanjaar spog die produksie met ʼn splinternuwe program, waarin die soprano Lynelle Kenned die eerste keer haar buiging maak. Kenned deel die verhoog met die immergewilde Jannie Moolman en Corlea Botha. Soliste word begelei deur lede van die Stellenbosch Stadsorkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenburg.

“Sluit by ons aan vir ʼn viering van die land se voorste klassieke musici op Oudtshoorn, met ‘n program wat iets vir elke klassieke musieksmaak bied,” sê Theart.

Meer inligting oor al hierdie uitvoerings is op Klein Karoo Klassique se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.