Klassieke musiekfeeste span kragte saam vir digitale konsertreeks

Ralitza Macheva (barokviool) en Refiloe Olifant (barokviool) uit ‘Misshapen Pearls’ (Foto: Verskaf)

Die Klassique Baroque-fees vind vanjaar vir die eerste keer plaas en is ’n samewerking tussen twee van Suid-Afrika se klassieke musiekfeeste: Klein Karoo Klassique, wat jaarliks in Oudtshoorn plaasvind, en die Kaapstad Barokfees, wat elke jaar in Kaapstad aangebied word.

Dié klassieke musiekfeeste kon weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 plaasvind nie, maar span nou kragte saam om vier eksklusiewe musiekkonserte aanlyn aan te bied. Die konserte is spesiaal vir dié aanlyn fees, met die steun van die Rupert Musiekstigting, opgeneem. Ian Burgess-Simpson Pianos het’n Fazioli-klavier gratis vir die konserte beskikbaar gestel.

Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), is Klein Karoo Klassique se eerste digitale speelvak met groot sukses aangebied.

“Ons is oorweldig deur die ongelooflike belangstelling en digitale bywoning van Klein Karoo Klassique se eerste aanlyn konsertreeks in September,” sê Theart. Hy sê die feesbestuur sien daarna uit om gehore in Oktober met vier splinternuwe, voortreflike klassieke musiekkonserte te trakteer.

Die eerste konsert in die reeks vind op Donderdag 1 Oktober plaas. Daarna word ’n nuwe konsert elke Donderdag beskikbaar gemaak. Die konserte is van 18:00 op die betrokke Donderdae tot Saterdag 31 Oktober om middernag beskikbaar.

Erik Dippenaar, artistieke direkteur van die Kaapstad Barokfees, sê dat hulle die samewerking met Klein Karoo Klassique geniet omdat albei feeste ’n sterk fokus op kamermusiek het.

“Die konsertreeks bestaan uit ’n veelsydige repertorium wat strek van die eerste helfte van die 17de tot die mid-20ste eeu,” sê hy.

“Elke musikant is uitgesoek vir sy of haar kenmerkende eienskappe en sterkpunte en die eindresultaat is ’n opmerklik unieke kamermusiekervaring.”

Erik Dippenaar (klavesimbel) en Lynelle Kenned (sopraan) in ‘Misshapen Pearls’ (Foto: Verskaf)

Die reeks begin met Misshapen Pearls, ’n program wat op die sterk kontraste in Barokmusiek fokus. Dit betrek ook die improvisasie-aspek van musiek uit die betrokke tydperk, wat intrinsiek deel is van die Barok-estetika. Die sopraan Lynelle Kenned tree saam met Ralitza Macheva (barokviool), Refiloe Olifant (barokviool) en Erik Dippenaar (klavesimbel) op.

Met Haydn in London voer lede van Camerata Tinta Barocca Joseph Haydn se Simfonie no. 94, bekend as die “Verrassingsimfonie”, uit, soos verwerk vir kamermusiek-ensemble deur Johann Peter Salomon. Lede van die Camerata Tinta Barocca sluit in Refiloe Olifant (eerste viool), Bonolo Kgaile (tweede viool), Lynn Rudolph (altviool), Cheryl de Havilland (tjello), Mariechen Meyer (kontrabas), Liesl Stoltz (dwarsfluit) en Erik Dippenaar (klavesimbel). Die program word aangevul deur CPE Bach se Hamburger Sonate vir dwarsfluit en basso continuo, wat die eerste keer in 1786 gepubliseer is.

Janel Speelman (sopraan) en Esthea Kruger (klavier) bied in 1840 ’n program van Lieder en musiek vir solo-klavier deur Robert Schumann aan. Al die liedere in hierdie program dateer van 1840, Schumann se sogenaamde Liederjahr, ook die jaar waarin hy met Clara Wieck getroud is. Dit sluit werke uit die liedsiklus “Myrthen”, op. 25 en “Liederkreis” op. 39 in. Kruger voer ook die Sonate no. 2 in g, op. 22 uit. Die tweede beweging van dié werk is gebaseer op “Im Herbste”, een van die liedere in die program.

Die hoogaangeskrewe Zomari Duo, wat uit Bridget Rennie-Salonen (dwarsfluit) en James Grace (kitaar) bestaan, sluit die Klassique Baroque-fees af met Histoire du Tango, ’n uiteenlopende uitvoering van opwindende musiek vir dwarsfluit en kitaar uit Suid-Amerika. Die program gebruik die ikoniese werk van Astor Piazzolla, “L’histoire du tango”, as vertrekpunt. Dit bevat ook werke van die Brasiliaanse komponis, Celso Machado en die Argentyn Máximo Diego Pujol.

Kaartjies vir die vier uitvoerings is tot 31 Oktober beskikbaar en kos slegs R100 per uitvoering. ’n Beperkte aantal pakkette vir al vier uitvoerings is teen slegs R300 beskikbaar. Kaartjies is aanlyn op Quicket te koop.

Besoek Klassique Baroque se webwerf vir meer inligting oor dié aanlyn klassieke musiekkonsertreeks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sylvia ·

Vanoggend oor die radio het hulle gepraat van R40,00 per uitvoering? en R100,00 vir al die uitvoerings?…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.