Klassiekemusiekfees bring harmonie na Wakkerstroom

Foto ter illustrasie. (Foto: Ludomił Sawicki/Unsplash)

Klassieke sangers neem vanjaar die voortou met ʼn verskeidenheid solokonserte wat van 21 tot 24 Maart by die 13de Wakkerstroom Musiekfees in Mpumalanga aangebied word.

Dit is veral ʼn paar baritonne, onder wie Chris Vale, Jean du Plessis – beter bekend as die singende mediese dokter van Johannesburg – en Thabang Senekal, wat uitstaan.

Vale, ʼn liriese bariton, bied twee konserte aan. Die eerste een is Winterreise (Schubert) waarin hy en die begeleier Eugene Joubert die konvensie van ʼn liedsiklus as ʼn eenvormige werk herkonseptualiseer. Hulle verdeel die oorspronklike siklus van 24 liedere in twee voordragte van 12 liedere elk. Met sy tweede konsert snoer Vale kragte saam met die liriese tenoor, Chris Mostert, in ʼn Engelse kunsliedprogram met komposisies deur onder andere Elgar, Britten en Williams.

Du Plessis, begelei deur Sonja van Zyl (klavier), bied ʼn kunsliedprogram getiteld Händel to Hahn aan, terwyl die sopraan Loveline Madumo en Senekal, ʼn deurwinterde bariton, se program ʼn verskeidenheid opera-arias en -duette van legendariese operas insluit.

Die bekende dramatiese koloratuursopraan Michelle Veenemans wat deur die Suid-Afrikaanse media as “The Nightingale of South Africa” bekroon is, sal deur Miroslav Chakarayan (viool) en Rudolf Geldenhuis (klavier) begelei word en die gehore trakteer op ʼn musikale reis van passie en romanse met hul Gypsy Love Dream-konsert.

Ander hoogtepunte van die Wakkerstroom Musiekfees sluit in ʼn fluittrio met die fluitspelers Handri Loots, Malané Hofmeyr-Burger en Bobby van der Watt, en twee soloklavierkonserte, naamlik Moonlight Meditations deur dr. Laetitia Orlandi, en Extases d’amour pour piano (Ekstases van liefde vir klavier) waarin Pieter van Zyl hoofsaaklik op die Franse komponis Gabriel Fauré se werk sal fokus.

Johan Ferreira, Liesl van der Merwe en Laetitia Orlandi wil die konvensionele fokus herkalibreer na ʼn trio-kombinasie vir hobo, fagot en klavier. Dit is in teenstelling met die gewone kombinasie van die viool-tjello-klaviertrio.

Die fluitspeler André Oosthuizen en kitaarspeler Thinus Boshoff bied ʼn program aan met ʼn verskeidenheid Noord- en Suid-Amerikaanse liedere en danse wat spesifiek vir hierdie instrumentkombinasie gekomponeer is, terwyl Nathalie Roué (klassieke kitaar) en Melissa Witbooi (viool) op reis deur die eeue gaan waar hulle die Romantiese tydperk se emosionele hartstog omhels om uiteindelik by die avant garde-landskap van moderne komponiste uit te kom.

Die Wakkerstroom Musiekfees bied ook ʼn paar klassieke jazz-konserte aan. Feesgangers kan vanjaar uitsien na ʼn konsert deur The Salon Boys van Pretoria Boys High School. Hulle bied ʼn verskeidenheidsprogram aan wat van Piazzolla tot Piaf insluit, en Lizanne Barnard (klavier en vokaal), saam met Wanda Zonke (saksofoon) en Tyrone Hinrichsen (kontrabas), sal gehore trakteer op ʼn Jazz Cocktail gemeng met komposisies wat persoonlike stories vertel van die lewe en die liefde.

Die volledige feesprogram is op die Wakkerstroom Musiekfees se webwerf beskikbaar. Kaartjieverkope is reeds oop. Weens die fees se toenemende gewildheid moet besoekers wat beplan om die fees by te woon, so spoedig moontlik verblyf bespreek. Enige navrae kan gerig word aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.