Klaviervirtuoso raap pryse op

klavierwenner

Swunhtat Oo. Foto: Verskaf.

Die algehele wenner van vanjaar se Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is ʼn onpretensieuse, plat-op-die-aarde 17-jarige van Harrismith, met ʼn eksotiese naam, danksy sy Burmese agtergrond en ʼn paar hande wat 12 note op ʼn klavier in een vat kan raakvat.

Swunhtat Oo is ook ʼn uithaler-danser en naelloper, wat die eerste leerling in sy skool se geskiedenis is wat die die wit erebaadjie mag dra vir sy uitmuntende akademiese prestasie (sy jaargemiddelde is sedert Graad 1 altyd 80%)  en ook vir dienslewering (hy het dubbel die voorgeskrewe aantal jaar diens aan die skool gelewer; meer as 120 uur oor ses jaar). Ons het Swunhtat Oo ʼn paar dae na sy triomf opgespoor vir ʼn geselsie.

Eerstens, hoe spreek ons jou naam reg uit?
Dis “Swan-tah”. My vriende noem my Swan. Jy weet jou naam is buitengewoon as jy die enigste een op Facebook is. Daar is wel vier Swunhtats, maar hulle is almal ek, want ek het die wagwoorde vergeet!

Jy is in Suid-Afrika gebore, né?
Ja, nogal ewe in Betlehem. Ek kan ʼn bietjie Afrikaans praat, maar my woordeskat laat my soms in die steek!

Vertel ons meer oor jou agtergrond.
Ek is die enigste kind en my ouers is van Myanmar in Burma, maar woon al hier van voor my geboorte. Ek is in Graad 11 aan Harriston-skool in Harrismith, waar ek van Graad 1 af leerder was. Volgende jaar is ek die hoofseun. Die res van ons familie is oraloor, meestal in Myanmar, maar ook in Singapoer en Kanada.

Jy is seker baie opgewonde dat jy eindelik die groot prys gewen het, want jy het voorheen ook aan die kompetisie deelgeneem en pryse gewen, dan nie?
Ja, ek het al vier keer deelgeneem. Die eerste keer was in 2012 en ek het al van die kategorieë gewen, maar dis baie spesiaal om die grote te wen.

Hoe lank speel jy al klavier en aan hoeveel kompetisies het jy al deelgeneem?
Ek speel vandat ek sewe was. Ek het sover drie onderwysers gehad, Mev Martie den Heyer, Beulah van Aswegen en sedert verlede jaar, Professor Joseph Stanford by Tukkies. Ek het al aan omtrent 14 kompetisies deelgeneem.

Watter van die stukke wat jy vanjaar gespeel het was jou gunsteling en wat was die spesifieke uitdaging?
Ons moes vyf stukke speel: barok, romanties, klassiek, modern/impressionisties en dan ʼn opsionele Suid-Afrikaanse komposisie. Ek het verlede jaar die SA kategorie gewen en daarom het ek vanjaar eerder nog ʼn moderne komposisie gekies. Maar my gunsteling was die romantiese komposisie, waarvoor ek Liszt se “Hongaarse Rapsodie Nr 6” gekies het. Die spoed daarvan is opwindend, maar ook die musikaliteit van die stadiger gedeeltes.

Hoeveel kategorieë het jy gewen? Is dit die grootste prys wat jy nog kon huis toe neem?
Ek het drie kategorieë en die algehele prys gewen, wat beteken ek het R51 750 in totaal gewen.

Wat gaan jy daarmee maak?
Vir nou gee ek dit natuurlik vir my ouers en hulle sal dit seker vir my opvoeding belê. Ek wil òf musiek òf medies gaan swot na matriek. Ek wil graag ʼn chirurg word.

Sê nou jy moes al die geld nou dadelik uitgee. Wat sou jy koop?
Ek het regtig alles wat ek wil hê, daarom dink ek ek sal dit gee vir welsynswerk, soos om kos vir kinders te verskaf. Ek sien so baie kinders op straat wat honger ly. My ouers maak soms kerrie en rys en dan gaan gee ons dit vir die mense by 42nd Hill, ʼn baie armoedige woonbuurt naby Harrismith se vullishoop.

Die meeste tieners verkies kommersiële musiek bo klassieke musiek. Wat van jou?
Ek hou wel van ander soorte musiek. Ek het onlangs Koreaanse popmusiek ontdek. Gaan soek ʼn bietjie na 15& om te sien wat ek bedoel. Ek verstaan nie die taal nie, dus luister mens half daarna soos na klassieke musiek. Die musiekbedryf is vol sulke negatiwiteit met lirieke oor dwelms en seks en geweld, dus hou ek daarvan om te luister net vir die musiek en my eie interpretasie daarvan. Ek hou ook van dansmusiek, want ek dans graag.

Speel jy enige ander instrumente?
Nee, dit was nog maar van die begin af klavier. Ek het soms al gedink dit sou lekker wees om viool te speel, maar dan hoor ek hoe moeilik dit is en dan is ek maar bly ek het klavier gekies.

Hoe lank oefen jy per week?
Omtrent vyf uur per dag in die vakansie en een of twee uur per dag gedurende die kwartaal. Ons ry elke naweek Pretoria toe vir ʼn twee-uur les by Prof Stanford.

Wat motiveer jou om so hard te werk?
Ek dink dis omdat ek graag suksesvol wil wees en wil aanhou mik na beter. Ek wil nie later jammer wees omdat ek nie die beste gemaak het van die geleenthede wat ek gekry het nie.

Watter musiek wat jy nog nie baasgeraak het nie, waarop jy nog in jou visier het vir eendag?
Mmm, Rachmaninoff se concerto’s. Ek het al een beweging gespeel, maar die hele concerto’s is so moeilik omdat dit so vinnig en musikaal is. En hy het enorme hande gehad!
Ek het ʼn handspan van 12 note, wat nie sleg is nie, maar syne was waarskynlik 13 of 14 note!

En as jy nie klavier oefen nie, wat geniet jy?
Wel, ek studeer, of ek hardloop vir oefening, of ek dans! Ek het myself verskillende dansbewegings geleer deur lesse op Youtube te kyk, want dis lekker oefening en nie so eentonig soos hardloop nie. Ons skool hou elke tweede jaar ʼn megadrama en ek het vir vanjaar sʼn ons graad se choreografie gedoen. Ek het dit basies soos ʼn klavierstuk ingestudeer en toe my klasmaats al die passies geleer. En ek het ook ʼn rol gedans. Dit was regtig pret!

Waar hoop jy om oor tien jaar te wees? Wat is jou wildste droom?
Ek sal nogal daarvan hou om bekend te wees as daardie internasionaal-bekende chirurg-pianis!

AL DIE KATEGORIEWENNERS
Onder 12: Dane van Graan.
Onder 15: Beate Boshoff.
Onder 19: Swunhtat Oo.
Beste Barokstuk:  Louis Nel.
Beste Klassieke en Beste Suid-Afrikaanse stukke: Cindy Ju.
Beste Romantiese en Moderne stukke: Swunhtat Oo.
Algehele wenners:
3de plek: Louis Nel.
2de plek: Cindy Ju.
1ste plek: Swunhtat Oo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.