Klipwerf Orkes se nuwe album vier 50 jaar

Die Klipwerf Orkes (Foto: Facebook)

Die Klipwerf Orkes wat al dekades lank mense op hul voete het, is terug met ’n splinternuwe album, 50 jaar se hoogtepunte, en dié album, wat pas uitgereik is, het reeds goue status bereik.

Met hierdie album vier dié groep die ongelooflike mylpaal van 50 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf deur hul grootste treffers in een album vas te vang.

Ná 20 jaar het die Klipwerf Orkes sy eerste album uitgereik en daarna aanhangers jaarliks met ’n nuwe album getrakteer. Met albumverkope van meer as 1,4 miljoen is dié orkes een van die suksesvolste orkeste in Suid-Afrika.

Uit 29 albums het sewe daarvan platinum status bereik en 22 albums goue status. Onder die hoogtepunte in die orkes se loopbaan is verskeie Samas en die erkenning wat dié musikante van die ATKV, vir die bevordering van Afrikaanse musiek, ontvang het.

Vir die Klipwerf Orkes was elke album ’n vreugde om aan te werk en elke album wat hulle uitgereik het, was ’n treffer wat verkope betref.

“Die heel eerste album wat ons uitgereik het, Kom kuier in die Hantam, sal ons altyd onthou. Dit was ’n ongelooflike ondervinding,” het Kobus Visagie, wat die klawer speel, vertel.

Dié veelsydige orkes het ontstaan toe pa Hentie en sy twee seuns, Johann en Kobus, in 1969 tuis begin musiek maak het. Toe mense van hulle begin hoor, was daar talle navrae vir die orkes om op te tree.

Versoeke vir optredes het begin instroom en die eerste optrede, wat hulle na aan die hart lê, was op ’n plaas genaamd Klipwerf. Hulle het daar en dan besluit die naam van hul orkes is Klipwerf en dit was die begin van groot sukses vir dié groep musikante.

Met die dood van Hentie en Johann het daar ’n herstrukturering van die groep plaasgevind, om die perfekte kombinasie aan gehore te bied, en dit is die Klipwerf Orkes wat jy vandag hoor.

Vir die album 50 jaar se hoogtepunte was die idee om ’n album saam te stel vir gebruik by enige geleentheid en daarom bevat dié album die beste Klipwerf-treffers deur die jare, om te verseker dat daar iets vir almal is.

50 jaar se hoogtepunte is beskikbaar by alle goeie musiekwinkels. Diegene wat verkies om aanlyn na die Klipwerf Orkes te luister, kan ʼn draai gooi op Apple Music en JOOX Musiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.