Klipwerf Orkes vier vanjaar ʼn Hantam Kersfees

Die Klipwerf Orkes is al vyf dekades lank deel van die Afrikaanse musiekhartklop en daar is steeds geen keer aan dié geliefde boereorkes nie.

Op Vrydag 12 November reik die groep sy jongste album, getiteld Hantam Kersfees, uit en Gené van Niekerk, wat al 21 jaar lank deel is van die groep, sê dit is vir hulle die grootste voorreg om weer ʼn vollengte-album te kon opneem.

“Met dié dat albums ʼn ding van die verlede raak en kunstenaars meer geneig is om enkelsnitte uit te reik, besef ons watse voorreg dit is om die geleentheid te hê om ʼn album op te neem, asook dat mense steeds na ons wil luister ná al die jare.”

Met liedjies soos “Mary’s Boy Child”, “Die Heiland is gebore”, “Jingle Bell Rock”, “Feliz Navidad”, “Stille Nag”, “Somer Kersfees” en “Little Drummer Boy”, hou dié album die belofte van die Kersfeesgesindheid behoorlik in.

Daar is 11 snitte op die album en vir die eerste keer in die geskiedenis van die groep sluit die album ook ʼn bonussnit met ʼn stem daarby in – dié van Danelle Smith, ʼn sangeres van Upington.

“Ons wou graag ‘Plea for Africa’ deel maak van die album, aangesien dit te gewyd is vir ʼn sekulêre dansalbum, al pas dit nie noodwendig in by die Kerstema nie. Toe ons die liedjie reeds opgeneem het, het ons gevoel die liedjie is só mooi dat ons ʼn stem daarby wil voeg. Dit het toe die bonussnit van die album geword en dit is werklik iets besonders,” vertel Van Niekerk.

Sy sê dit was ʼn natuurlike keuse om die album Hantam Kersfees te noem. “Ons orkes is in Calvinia gesetel en dit lê in die Hantam-streek. Al ons ander albums het ook die woord Hantam vooraan, so dit was vir ons ʼn vanselfsprekende besluit om dié album ook so te noem.”

Die Klipwerf Orkes by die Voortrekkermonument in 2019.

Die groep sit nie stil nie en sedert die inperkingsmaatreëls weens die pandemie verslap is, is hulle weer elke naweek by al wat ʼn dansgeleentheid is te hoor. Hulle het onlangs in Cullinan, Prieska en Olifantshoek opgetree en sal ook binnekort in Pretoria wees, waar hulle benoem is vir ʼn Aitsa-musiektoekenning deur die luisteraars van PretoriaFM.

“Die mense staan steeds tou ná ʼn vertoning om ons albums te koop, en ons kan net met die grootste nederigheid vir die Here dankie sê vir die genade. Ons maak ongetwyfeld musiek met ʼn onblusbare passie en dit kom ook so oor op die verhoog, want mense kan sien dat ons dit net soveel geniet soos hulle.”

Van Niekerk sê die groep is trots op Hantam Kersfees. “Van die omslag tot die liedjies lê dit ons baie na aan die hart. Ons wil hê dit moet ʼn album wees wat dwarsdeur die jaar vir mense vreugde verskaf, of dit nou op 25 Desember of 1 Januarie of 15 November is. ‘Stille Nag’ bly enige tyd van die jaar mooi en die musiek is werklik besonders. Dit skep die gevoel van samesyn, samehorigheid en dankbaarheid.”

Sy voeg by dat die groeplede ná soveel jare ʼn diep band met mekaar het en dat hulle lang ure saam op die pad deurbring waarin hulle mekaar op ʼn vlak leer ken wat in hulle instrumentasie weerspieël word.

“Jy kan nie op die verhoog gaan staan as jy kwaad is vir iemand en verwag die musiek gaan goed wees nie. Ons is almal passievolle musikante wat elkeen sy kant bring en wat toegewyd is aan die groep. Ons weet byvoorbeeld dat ons nie ná ʼn vertoning aan partytjies kan deelneem nie, want môre moet ons weer die langpad aandurf of weer saam op die verhoog staan. Ons sal nie die pas kan volhou as ons nie goed uitgerus is nie. Die musiek is vir elkeen van ons die belangrikste en ons gee al die eer aan die Here vir die musikale talent wat Hy vir elkeen van ons gegee het.”

Die Klipwerf Orkes en prof. Danie Goosen. (Foto: Johann van Staden)

Van Niekerk voeg by dat sy toevallig 21 jaar gelede by die groep aangesluit het toe ʼn ander groeplid voor ʼn vertoning siek geword het, en sy het nooit weer teruggekyk nie.

“Dit is ʼn wonderlike reis in my lewe. Ek kan boeke skryf oor die ervaring wat ek opgedoen het in my tyd saam met Klipwerf. As ek terugkyk na die dagboeke van die afgelope 21 jaar, besef ek dit is ʼn leeftyd van toewyding, maar ons sou dit ook nie kon doen sonder om nederig te wees nie. Iemand vra ons nou die dag wat ons gedoen het om bekend te word, maar ons dink nie aan die bekendheid nie – ons is daar om musiek te maak omdat dit vir ons lekker is.”

Sy sê hulle wens vir die album is dat die Here dit sal seën en dat die musiek êrens in Suid-Afrika vir iemand iets sal beteken.

“My wens is dat elkeen van ons ligdraers van sy lig in die wêreld sal wees en dat Hantam Kersfees hiertoe sal bydra.”

Hantam Kersfees is vanaf 12 November op alle digitale platforms beskikbaar. Fisieke albums sal ook by uitgesoekte winkels en by vertonings beskikbaar wees.

Wen: Vyf gelukkige lesers kan elkeen ʼn kopie van die Klipwerf Orkes se nuwe Kersfeesalbum, Hantam Kersfees, wen. Die kompetisie sluit op Vrydag 19 November. Beantwoord die vraag korrek en staan ʼn kans om te wen. Die album sal direk van die platemaatskappy af versend word.

Die kompetisie het gesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.