Klofie-orkes roer hartsnare met aanlyn uitvoering

Skermgreep uit die video

Die lede van die Hoërskool Waterkloof se orkes, ook die Klofie-orkes genoem, het ondanks afsonderingsmaatreëls hul eie weergawe van Christopher Tin se treffer “Baba Yetu” opgeneem.

“Dit was ʼn groot eksperiment vir my én die leerders,” vertel Eddie Clayton, dirigent van dié orkes. “Hulle was geweldig entoesiasties en dit maak die hele proses soveel lekkerder.”

In dié video is dit duidelik dat leerders nie bymekaar was nie en dat elkeen sy of haar gedeelte in die gemak van ʼn kamer, woonkamer of huis opgeneem het.

Clayton verduidelik dat hy die musikale verwerking en klankopname van sy rekenaar af gedoen en toe op WhatsApp aan leerders gestuur het.

“Die opname bevat musiek en stemleiding van my af. Leerders kon daarna luister terwyl hulle speel. Ek het byvoorbeeld ingetel wanneer hulle moet begin,” verduidelik hy.

Clayton het almal se video’s en klank gemeng om die finale produk te skep. Hy en sy sangeresvrou, Zita Pretorius, het die redigering en finale meng behartig.

“Aan die begin het dit geweldig lank gevat om video’s te redigeer en saam te voeg, maar ná sewe opnames begin ons nou die proses baasraak,” vertel hy.

Clayton is ʼn welbekende dirigent, komponis en musiekregisseur. Hy is by die Johannesburgse Filharmoniese orkes en Jeugorkes, asook vele ander musiekgroepe betrokke. Clayton was onder meer die dirigent van Classics is Groot en dirigent en musikale regisseur vir Lion King, wat in 2019 by Sun Arena se Times Square aangebied is.

Luister hier na die Klofie-orkes se weergawe van “Baba Yetu”:

Hoërskool Waterkloof Konsertorkes onder leiding van mnr. Eddie Clayton se virtuele weergawe van Christopher Tin se Baba Yetu.

Posted by Hoërskool Waterkloof on Sunday, May 17, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Rika ·

Dit is soo soo mooi…het my in trane gehad!Kry kinders so jammer in die aaklige tyd waarin ons nou is!Ons, ek (nou 58jr) hulle, almal het in ons wildste drome nooit voorspel dat so iets ons menswees, kindwees, alles van ons wegneem sal word nie.Sterkte aan julle mooi kinders in die video en sommer aan elke kind wat verlang na hulle maats, verlang om hulle talent te kan uitoefen.Ek dankbaar bly my kinders is groot, alhoewel my een dogter 500km vêr is en ek haar Desember 2019 laas gesien het…baie verlang..weet ek hoe dit vir jul moet voel. Sterkte aan julle.

Leon ·

Ek wil weet hoe het hulle die outjies ge-sinchroniseer. Dit sal nogal interessant wees.

Karlahari ·

Die klank van net die trom of die viool sou in die stuk nie sin maak nie.
Maar sit dit alkes bymekaar en die som totaal is meer as die insette.
Baie goed gedoen.
Encore encore

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.