Koffie saam met Anna Davel

Ek en Karen Hougaard kuier by die kunstenaar Helena Fourie in Friesland. Foto: Verskaf

Anna en Karen Hougaard kuier by die kunstenaar Helena Fourie in Friesland. Foto: Verskaf

Ons reël om mekaar by ʼn koffiewinkel in die ooste van Pretoria te ontmoet om oor haar onlangse besoek aan Nederland te praat, maar mense wat al in gesprek met Anna Davel was sal weet dat ’n mens nooit op een onderwerp kan bly nie – juis omdat sy oor ʼn verskeidenheid goed kan gesels.

Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse Dagen

Sy bestel ʼn cappuccino en gesels met oorgawe oor dié besoek aan Nederland. “Karin Hougaard het my gebel om te hoor of ek sou belangstel, en toe sy noem dat Herman van Veen betrokke is, het ek dadelik ingestem. Ek is ʼn enorme aanhanger van hom.”

Anna het saam met verskeie sangers soos Karin Hougaard, Joshua na die Reën, Coenie de Villiers, Jaconell Mouton, Jannie du Toit en Pops Mohammed opgetree in Harlekijn en de Zuid-Afrikaanse Dagen wat op 29 en 30 Augustus op Herman van Veen, die bekende kabaretsanger, se landgoed in Soest, Nederland, gehou is.

Tydens dié kort fees is ʼn CD, byvoorbeeld deur Ingrid Glorie, redakteur van die Nederlandse tydskrif Maandblad Zuid-Afrika bekendgestel. “Ingrid is passievol oor Afrikaans en beywer haar vir die bevordering van Afrikaans,” sê Anna.

Die album bestaan uit vroeëre en nuwe meer kontemporêre Afrikaanse musiek en word spesifiek vir die Nederlande mark versprei om mense ʼn historiese oorsig van Afrikaanse musiek te gee. Kunstenaars wat bereid was om hul musiek te deel, het geen vergoeding vir dié projek gekry nie en volgens Ingrid (in ’n onderhoud met Litnet) gaan alle wins aan die Teaterbystandsfonds (TBF).

Dit wil voorkom of Anna ʼn stukkie van haar hart in Nederland gelaat het, want sy meen sy sal graag weer daar wil optree. “Jou mark is nie meer beperk tot net jou land en jou kultuur nie, en ek glo die verhoudings wat ek daar gemaak het sal definitief help om dit ’n bietjie makliker te maak (om daar op te tree).”

Hoe verskil Nederland se musiekbedryf van ons eie? En skort daar iets?

Anna meen daar is nie fout met ons musiekbedryf nie en beskryf dit as ʼn fantastiese bedryf. “Ek dink mense wat neersien op Afrikaanse musiek is kleingeestig want jy moet alles in konteks sien. Die lojaliteit van die Afrikaanse luisteraar en gehoorlid is vir my ongelooflik. Ons gehoor staan by ons, maak nie saak wat gebeur nie. Dié soort lojaliteit kan ’n mens vir niks verruil nie.”

Sal jy ooit ʼn liedjie sing vir die kommersiële waarde daarvan?

“Elke sanger het verskillende prioriteite en ek sien glad nie neer daarop nie. Vir party gaan dit oor geld en ander moet ʼn gesin onderhou, maar ek wat Anna is, gaan nie lekker kan slaap as ek nie van die musiek hou wat ek sing nie.” Sy meen wel dat sy meer oop is as in die verlede om saam iemand te werk of ’n bietjie meer aan haar styl te werk. “Ek dink dis goed om ’n bietjie te vernuwe.”

Nadat twee van haar aanhangers gou kom groet het, gesels ons verder oor haar musiek en haar kunstenaarskap.

Saam met wie sal jy nog wil werk?

“Ek sal saam met enigiemand werk wie se werk ek respekteer en met wie ek ʼn konneksie het. Ons het soveel fenomenale jong kunstenaars van wie ek weet die identiteit sterk is en wat ʼn missie het. Ek sal enige tyd saam met so ʼn persoon werk, maar vir my is dit organies – dit sal natuurlik kom”.

ʼn Goeie voorbeeld van so ʼn “organiese” samewerking is haar optredes saam Mathys Roets en Jaconel Mouton. Dié drie maak omtrent ’n goeie span. “Dis die lekkerste ding op aarde om die vriendskap wat ons het te vier op die verhoog.”

Ná omtrent ʼn uur se kuier is dit tyd om te groet.

As ’n mens vir ʼn rukkie met Anna Davel gesels het, besef jy hoe passievol sy oor musiek is. Sy laat jou met nuwe respek – nie net vir haar nie, maar ook vir kunstenaars soos sy wat getrou bly aan hul kuns en aan hulself.

Luister gerus na die podsending om te hoor wat Anna van Nederlandse gehore sê en hoe hulle kinders reeds blootstelling aan teater en ʼn verskeidenheid van swaarder musiek op ʼn jong ouderdom kry.

Anna en Mathys tree Saterdag 17 Oktober op in die Atterbury-teater in Pretoria. Besoek gerus hul webblad vir meer besonderhede.

[wpvideo oMn6gbAG]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.