Kollig op gesondheidwerkers by Brit Awards

Dua Lipa ontvang haar toekenning vir Britse album van die jaar. (Foto: John Marshall / John Marshall / AFP)

Dua Lipa het Dinsdag die gesogte toekenning vir die Britse album van die jaar gewen op die Brit Awards. Dié prysaand is deur vrouekunstenaars in verskeie kategorieë oorheers.

Sowat 4 000 gehoorlede was in Londen se O2 Arena byeen vir die grootste aand in Britse popmusiek dié jaar. Die geleentheid het vir die eerste keer in twee jaar ʼn gehoor ingesluit as deel van die regering se loodsskema om beperkings weens die koronavirus te verslap.

Die Brit Awards het in die verlede onder skerp kritiek deurgeloop oor hoofsaaklik manskunstenaars benoem is, maar vanjaar is die meerderheid van die groot pryse aan vrouekunstenaars toegeken.

Little Mix het gewen vir beste Britse popgroep – die eerste vrouegroep om dié prys te wen. Die sanger en digter Arlo Parks het die deurbraak kunstenaar-toekenning gewen en die prys vir beste internasionale groep het aan die Amerikaanse groep HAIM gegaan.

Nog ʼn geskiedkundige oomblik was toe Taylor Swift die eerste vrouewenner van die Global Icon-toekenning geword het. Volgens die organiseerders vereer dié prys Swift se “groot impak op musiek wêreldwyd en haar ongelooflike repertoire en prestasies tot op hede”.

Dua Lipa (25) het die soul sangeres Celeste, Parks en die kletsrymer J Hus, wat die enigste manskunstenaar was wat benoem is in dié kategorie, uitgestof met haar album Future Nostalgia.

Dua Lipa en J Hus is ook onderskeidelik as beste vroue- en beste manskunstenaar aangewys.

“Toe ek in 2018 die laaste keer hier bo [op die verhoog] was om hierdie toekenning te aanvaar, het ek gesê ek wil meer vroue op hierdie verhoog sien,” het Dua Lipa gesê.

“Ek voel so trots daarop dat ons drie jaar later kan sien wat gebeur het en dit is werklik so ʼn eer om deel te wees van hierdie golf van vroue in musiek.”

‘Gee vir Boris ʼn boodskap’

Leigh-Anne Pinnock, Jade Thirlwall en Perrie Edwards van Little Mix op die rooi tapyt. (Foto: John Marshall / John Marshall / AFP)

Dua Lipa het een van haar toekennings opgedra aan die Britse verpleegster, dame Elizabeth Anionwu. “Daar is ʼn groot verskil tussen dankbaarheid en respek vir gesondheidswerkers, want dit is goed om vir hulle te klap, maar ons moet hulle betaal.

“So ek dink wat ons almal moet doen is om deur ʼn massiewe applous vir Boris [Johnson, die Britse eerste minister] ʼn boodskap te gee dat ons ʼn regverdige salarisverhoging ondersteun.”

Die gehoor, wat uit 2 500 gesondheidswerkers bestaan het nadat organiseerders plek vir hulle reserveer het, het ʼn staande toejuiging gegee.

Ander wenners van Brit Awards sluit in Harry Styles, wat die toekenning vir beste Britse enkelsnit ingeoes het vir “Watermelon Sugar”, asook Billie Eilish en The Weeknd, wat onderskeidelik gewen het vir beste internasionale vroue- en manskunstenaar.

Coldplay het die prysaand afgeskop met ʼn uitvoering op die Thames-rivier. Dua Lipa het ook opgetree in ʼn Union Jack-minirompie en ʼn Amy Winehouse-haardos.

Die Britse kletsrymer Ragʼn’Bone Man het regstreeks opgetree saam met die koor van die Britse Nasionale Gesondheidsdiens (NHS), terwyl Amerikaanse sangeres Pink virtueel uit die VSA aangesluit het.

“Om mense te hê wat hierdie spesiale aand bywoon maak my regtig opgewonde vir toere wat voorlê,” het Ragʼn’Bone Man voor die geleentheid gesê.

Dié jaarlikse geleentheid, wat gewoonlik in Februarie plaasvind, is vir drie maande uitgestel weens bekommernisse oor koronavirus-veiligheid en logistieke kwessies.

Gehoorlede het nie aan sosiale afstandmaatreëls voldoen of maskers gedra nie, maar moes vooraf ʼn negatiewe koronavirustoets lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.