Van Suid-Afrika se grootste sterre is op 5 Desember op die verhoog op Loftus Versveld in Pretoria tydens JacarandaFM en Spar Carols se Candlelight-konsert te sien om te verseker dat jy in die regte luim vir die feesseisoen kom.
Dié konsert keer vanjaar weer terug na Pretoria ná ʼn suksesvolle aanbieding die afgelope naweek in Johannesburg.
Juanita du Plessis, Karen Zoid, Refentse, Elvis Blue, Charlize Berg, Jo Black, die Mzansi Youth Choir en Joe Niemand is in vanjaar se konsert te sien.
Carols by Candlelight is jaarliks ʼn geleentheid vir die hele gesin om in die buitelug te kuier én om speelgoed en geld vir liefdadigheid in te samel.
Toegang tot dié konsert is gratis, maar konsertgangers word gevra om ʼn nuwe speelding te skenk wat aan uitgesoekte liefdadigheidsorganisasies geskenk sal word.
Alle opbrengste van die kerse en liedboekies wat op die aand verkoop word, sal aan JacarandaFM se Good Morning Angels-veldtog gegee word.
Die hekke open om 16:00 en die konsert begin om 19:00. Die konsert duur tot 21:00. Die JacarandaFM-span gaan regstreeks vanaf Loftus Versveld uitsaai.
Vir meer inligting besoek JacarandaFM se Facebook-blad.