Kom kuier om ’n langtafel saam met Centurion Hospice, Tobi Jooste

Die Centurion Hospice vier die begin van vlak 1 van die nasionale inperking met ʼn eksklusiewe langtafelgeleentheid wat ʼn vyfgangmaaltyd, landgoedwyn en die strelende klanke van die Afrikaanse sanger Tobi Jooste insluit.

Geleenthede soos hierdie het nog altyd ʼn belangrike finansiële hupstoot vir ʼn nieregeringsorganisasie (NRO) beteken, maar die Covid-19-pandemie het ʼn stokkie voor sulke geleenthede gesteek. Die Centurion Hospice het wel ʼn paar aanlyn geleenthede aangebied, maar niks kan ooit die gesellige samesyn van vriende en familie wat oor ʼn glasie wyn en ʼn bord goeie kos kuier, vervang nie.

“’A Starlight serenade is net die begin van nog baie langtafel-okkasies,” sê Annette Reed, die algemene bestuurder van die Centurion Hospice. “Om kragte saam met wonderlike kunstenaars soos Tobi Jooste en sjef Paule-Henry Botha te snoer, is besonders spesiaal. Ek glo dat meer intieme geleenthede die toekoms van geldinsamelingsprojekte is en dat die gemeenskap ons met dié soort projekte sal steun.”

Om die geleentheid gesellig, maar tog intiem te hou sal slegs vyftig mense die geleentheid kan bywoon en Centurion Hospice kan net 30 kaartjies aan die publiek beskikbaar stel.

“Omdat dit so ʼn spesiale geleentheid is, wil ek mense aanmoedig om hul beste uitrustings aan te trek,” sê Jooste, wat bekend is vir sy stylvolle uitrustings en goedversorgde voorkoms.

“Ek het ʼn baie hartseer kankerpad saam met my oupa gestap, en daarom sal ek altyd organisasies soos die Centurion Hospice ondersteun.”

Sjef Paule-Henry, wat bykans twee dekades lank gourmet-geregte aan die Italiaanse koninklikes opgedis het, is veral bekend vir die interessante opdiening van sy kos en sy liplekker nageregte.

Die hospitaal-gedeelte van die Centurion Hospice maak binnekort weer sy deure oop en daarom het die organisasie ook geld nodig om die laaste dae van ʼn pasiënt se lewe so rustig en gemaklik as moontlik te maak. Die Centurion Hospice bied ʼn laaste hawe aan almal – ongeag of hulle vir die dienste kan betaal of nie.

A Starlight serenade vind op Saterdag 3 Oktober om 16:00 vir 16:30 by die Strawberry Moose plaas, ʼn splinternuwe koffiekroeg en bakkery wat op die Centurion Hospice se perseel geleë is.

Kaartjies kos R900 per paartjie of R450 per persoon en dit sluit wyn, koeldranke of vrugtesappe, ʼn vyfgangmaaltyd en vermaak in.

Alle geld wat ingesamel word, is ten bate van die Centurion Hospice.

Vir verdere inligting en besprekings bel Andrie Alberts by 012 664 6175 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.