Kom nader- Anneke Hanekom

Daar is deesdae soveel Afrikaanse kunstenaars dat ‘n mens wonder of daar hoegenaamd enigiemand is wat met iets oorspronkliks vorendag kan kom.

Anneke Hanekom sing al van kleins af, maar sy het nou eers haar debuutalbum, Kom nader, vrygestel. Die eerste snit vanaf dié album, Ferreira blues, is iets besonders. Die musikale verwerking is deur Mathys Maree gedoen, en die lirieke is lekker hardekwas. Die titelsnit is volgende, en dit is lekker om ‘n banjo op hierdie snit te hoor. Anneke het blykbaar vir Mathys die idee gegee van die klank wat sy wou gehad het, en soos sy self sê, het sy verwerkings haar verwagtinge oortref.  Dans is een van die hoogtepunte van die album, veral omdat die refrein se ritme van dié van die res van die liedjie verskil en die boodskap van die lirieke is dat ‘n mens soms net moet vergeet van jou probleme, veral as iemand jou in die steek gelaat het. In Pretoria-liefde sing van twee mense wat mekaar liefhet,maar een van hulle is in Kaapstad en een in Pretoria, en een van hulle sal ‘n skuif moet maak. Dit is iets waarmee baie mense hulle kan vereenselwig. Koningin van harte is nog een van die hoogtepunte van die album; die musikale verwerking op dié snit is besonder goed. Hierin sing sy van ‘n vrou wat alles in haar vermoë doen om ‘n man te verlei.

Rondloper is iets heeltemal anders; die mineur-tonaard van die musiek laat jou lekkerkry en die lirieke vertel die verhaal van ‘n losloper wat haar in die liefde vasloop.  Rooi rok is nog ‘n snit wat ‘n mens laat lekkerkry; as daar een snit met trefferpotensiaal is, is dit hierdie een.  Anneke het Liefste Magdeleen vir haar peetkind geskryf; sy het net nie haar regte naam gebruik nie omdat dié naam nie sou inpas nie. Die musikale verwerking van Alles of niks sal dalk bekend klink; dit herinner baie sterk aan dié van Gotye se groot treffer Somebody that I used to know.  Dit maak egter nie regtig saak nie; dit klink baie goed. In die lirieke sing sy van twee mense wat byna heeltemal van mekaar verskil, maar tog by mekaar pas.

Dit gebeur selde dat ‘n mens só ‘n goeie debuutalbum Afrikaans hoor. Diegene wat in niks anders as kommersiële musiek belangstel nie, moet maar na iets anders gaan luister, want hulle sal nie hier kry waarna hulle soek nie. Dis goed so, want hiedie album is iets heeltemal anders. Dit is gemik op diegene wat na musiek soek wat regtig iets om die lyf het. Jy sal nog hierna kan luister lank nadat jy die kommersiële snert wat op die radio gespeel word, vergeet het. Dit is sonder twyfel een van die heel beste Afrikaanse albums van die jaar!

http://www.youtube.com/watch?v=8E09eKiuVCM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.