Kom nader- Brandpunt

Daar is sonder twyfel ‘n oplewing in Afrikaanse lof-en-aanbiddingsmusiek, en veral groepe soos Onbeskamd en Luidkeels het die afgelope tyd baie gewild geword.

Die jongste groep wat tot hierdie genre van Christelike musiek toegetree het, is Brandpunt, wat bestaan uit die egpaar Ian en Jana Nieuwenhuizen.  Hulle is sewe jaar getroud, en verbonde aan die Ligpunt-gemeente in die Noordwes-dorp Schweizer-Reneke. Hulle het pas hul eerste album wat op die kommersiële mark gemik is, Kom nader, onlangs vrygestel.

Ian is die aabiddingsleier van die gemeente en het fetitlik elke snit geskryf, met een uitsondering waarby ek netnou sal kom. Hemelruim is die eerste snit op die album, en daar is ook ‘n radioweergawe saam met die persvrystelling van die album ingesluit. Al hoe meer Christelike musiek word deesdae oor die radio gespeel, en daarom sal hierdie snit miskien gereeld gehoor word. Hoe ook al, dit kan selfs byval vind by diegene wat nie noodwendig gereeld na Christelike musiek luister nie.  Wie is ek alleen is gebaseer op die bekende Psalm 121, en hierop sing hulle dat die mens eintlik van God afhanklik is. Jana sing voor op een van die snitte wat op You Tube te sien is, naamlik Soos trane. Dit is ‘n pragtige snit, en weer eens kom die gebrokenheid van die mens voor God ter sprake.  Mervis van der Merwe, wat ‘n baie bekende lof-en-aanbiddingsanger is, het die loflied My hart brand vir U geskryf; dit is seker een van die beste snitte op die hele album. Leza Liversage was deel van Luidkeels voordat sy ‘n solo-loopbaan begin volg het, en sy sing saam met hulle op U Naam, snit wat Ian al nege jaar gelede geskryf het. Weer eens is dit ‘n baie goeie snit wat radiolugtyd behoort te kry. Die titelsnit is ‘n oproep tot lof aan God, en kan selfs in gemeentes gesing word.  Nog twee snitte is op bekende Psalms gebaseer. Die Here is my herder is natuurlik gebaseer op Psalm 23; die woorde wat hulle sing, word gewoonlik op ‘n ander wysie gesing, maar Ian het dit nuut verwerk. Omdat die woorde so bekend is, sal dit sekerlik ook gereeld in gemeentes gesing word. Soos ‘n hert is gebaseer op Psalm 42, maar al klink die titel bekend, is dit ‘n splinternuwe komposisie.

Die Redder is hier is nog ‘n snit wat op You Tube te sien is, en waarvan die musiekvideo hieronder verskyn. Dit is blykbaar baie gewild, en dit is maklik om te verstaan hoekom. Dit is gebaseer op Romeine 8 vers 31,en die boodskap is eenvoudig maar kragtig.  Die kitaarwerk op Hier is my hart is baie goed, en dit is ‘n aanbiddingsnit, maar glad nie vervelig nie. Mervis sing Hy is die Een wat ek liefhet saam met hulle; hoewel dit die laaste snit op die album is, is dit allesbehalwe ‘n weggooisnit. Dit is dalk effens lank, maar steeds baie goed. Daar is ook ‘n DVD ingesluit; dit bevat lewendige opnames van tien van die snitte, en al is dit in ‘n plaaskuur opgeneem, is die klankgehalte baie goed.

Dis goed om te sien dat nie alle lof-en-aanbiddingsgroepe  net bekende liedere bevat nie. Dit gebeur gereeld dat kunstenaars wat hierdie tipe musiek sing, vashaak by bekende liedere, en dit is wat Brandpunt van dner soortgeluke groepe onderskei. Hulle het met ‘n oorspronklike album vorendag gekom wat ‘n groot bydrae tot Afrikaanse Christelike musiek lewer en kan daarom sterk vir enige Christen-musiekliefhebber aanbeveel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.