Kom sing ‘n lied in duet- Gé Korsten

Kom sing 'n lied in duet

Daar is seker min kunstenaars in die plaaslike- of internasionale musiekbedryf wat ewe goed ligte- en klassieke musiek kan sing.

Sedert Gé Korsten se eerste album in 1965 verskyn het, het hy homself gevestig as een van die suksesvolste- en veelsydigste kunstenaars in die geskiedenis van die musiekbedryf, maar hy is in 1999 in die ouderdom van 71 jaar oorlede. Sedertdien het daar verskeie albums verskyn waarop sy musiek heruitgereik is, onder meer een waarop sy stem saam met dié van moderne kunstenaars gevoeg is vir ‘n “duetalbum.” Kevin Leo het ook groot sukses behaal met sy weergawe van Gé se treffer Lied van die lewe, waarop Gé se treffer Lied van die lewe, waarop Gé se stem in die agtergrond gehoor kan word; die video van hierdie opname is ook op dieselfde plek as die oorspronklike een vervaardig.

Nou is daar weer so ‘n album uitgereik, maar hierdie keer val die klem hoofsaaklik op sommige van die Christelike opnames wat Gé deur die jare opgeneem het. Die eerste snit is Kom sing nou ‘n lied, waarop Corlea Botha saam met hom sing. Hierdie snit behoort die treffersnit vanaf die album te wees. Die wysie sal bekend klink, want op Fanie de Jager se debuutalbum wat 25 jaar gelede verskyn het, het hy die snit Vriende ingesluit, wat op dieselfde wysie gesing word. Die volgende snit is Ek het geen vrees, waarop Joe Niemand saam sing. Dit is ‘n komposisie van die klassieke komponis Jean Sibelius, en Gé het die Afrikaanse woorde geskryf. Nianell sing saam met hom op die baie bekende Jerusalem.

Steve Hofmeyr word gewoonlik nie in dieselfde asem as Gé genoem nie, behalwe dat Steve ook Liefling opgeneem het. Hy sing egter saam met Gé op Mag God u seën, op die wysie van I’ll walk with God. Rina Hugo het een album saam met Gé opgeneem, en sing Stille nag saam met hom. Hoekom die ou woorde gesing word, weet nugter; die woorde wat tans in die Liedboek voorkom, is immers in Gé se leeftyd al in die vorige Psalm-en-Gesangeboek ingesluit, en daarom is daar geen verskoning om die ou woorde te sing nie. Dieselfde geld Kom herwaarts getroues wat Gé se “troonopvolger” Jannie Moolman saam met hom sing. Psalm 23 word saam met die nuweling Kris Jay gesing; dit word op die wysie van die bekende lied Ek sien ‘n nuwe hemel kom gesing. Op die volgende snit, Dis geen geheim, sing nog ‘n legende van Afrikaanse musiek, Dis geen geheim, saam met hom.

God sy met u is die volgende snit, waarop Manie Jackson saam met hom sing. Hierop wys Manie dat hy tot beter in staat is as die Afrikaanse musiek wat hy tot dusver gesing het. Laat die liewe kinders is ‘n snit wat Gé omtrent in die 1970’s saam met die Lynnwoodse Kinderkoor gesing het, maar op hierdie opname sing Derick Ellis saam met hom. Gé se opname van O Vader, wat eintlik niks anders as die Onse Vader is nie, is een van net twee snitte waarop niemand saam met hom sing nie. Dit maak nie saak nie, want dit is ‘n baie goeie snit. Die klavierspeler Rocco de Villiers kan op die laaste snit, I’ll walk with God, gehoor word.

Op hiedie album kan ‘n mens maar net weer agterkom dat Gé ‘n uiters talentvolle kunstenaar was en dat sy dood ‘n groot leemte in die plaaslike musiekbedryf gelaat het. Daar is wel kunstenaars soos Jannie Moolman en Kevin Leo wat sy musiek baie goed kan sing, en wat ook op hul eie manier ‘n groot indruk op die musiekbedryf maak, maar daar sal net een Gé wees. Daar is geen twyfel dat sy aanhangers hierdie album baie sal geniet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Elma ·

Na ‘n groot gesoek na die liedjie – Laat die liewe kinders kom na die Heer – het ek uiteindelik vandag by Loock and listen in Willobridge die CD gekoop. Daar is ‘n ander weergawe wat Gé dit saam met ‘n kinderkoor sing en wat klink asof dit ‘n engele koor is wat dit sing. Meenigte van Gé se musiek is te hoor op You Tube. Wens so die mooiste van aller mooi – snit no 10 – kan ek erens kry.

Sebastian Pistor ·

Die rede waarom die ou woorde van “Stille Nag” op hierdie album gesing word, is omdat dit die enigste Afrikaanse liriek daarvoor was toe Gé dit in 1967 in die rolprent Hoor My Lied gesing het. Gé het nie ‘n nuwe opname daarvan gemaak toe die Afrikaanse kerke “Stille Nag” se woorde in die 1980’s gewysig het nie. Dit is hoe maklik en eenvoudig dit te verklaar is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.