Kom sing saam by die ‘moewiese jol’

Krone. Foto:  Verskaf

Krone. Foto: Verskaf

Die land se top Afrikaanse kunstenaars is slaggereed vir die derde aflewering van Suid-Afrika se gunstelingkonsert, Krone 3, wat as “ʼn moewiese saamsing jol” beskryf word.

Volgens  Tania Fourie, publisiteitsbeampte van Select musiek gaan die kunstenaars Carnival City op 13 en 14 Augustus “op horings neem met treffer na treffer” met ʼn konsert vir die hele gesin.

Kunstenaars soos Nicholis Louw, Kurt Darren, Ray Dylan, Snotkop, Juanita du Plessis, Adam Tas, Brendan Peyper, Andriëtte, Elizma Theron, Ricus Nel, Liezel Pieters, Manie Jackson, Refentse, Jacques Tereblance en 4 Werke gaan ʼn hele rits keurspelle van plaaslike en internasionale ranglysgunstelinge uitvoer.

Fourie verduidelik konsertgangers kan oudergewoonte uitsien na ʼn interaktiewe konsert. “Net soos met die stampvol vertonings van die verlede, sal die gehoor in karaoke-styl, met lirieke op die grootskerm, na hartelus kan saamsing vir so lank as wat asem en stembande hou,” het sy gesê.

Die konsert is gemik op die hele gesin. “Professionele sangers en stortsangers, dié wat die woorde van alle liedjies wat al ooit geskryf is ken, dié wat verkies om nie te sing nie en selfs dié wat áángeraai is om eerder nie te sing nie – almal is welkom,” het sy bygevoeg.

Kaartjies vir die konsert is nou beskikbaar by Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae