Kommentaar: Is Boeremusiek besig om uit te sterf?

KonsertinaDaar is sommige dinge wat eie aan Suid-Afrika is, soos braaivleis, biltong, Castle Lager, Afrikaans en natuurlik Boeremusiek.

Die probleem is egter dat Boeremusiek nie meer die aandag in die media kry wat dit voorheen geniet het nie, en dat Boeremusiek-legendes een na die ander sterf. Een van die laaste bekende konsertinaspelers was oom Manie Bodenstein, wat verlede jaar in die ouderdom van 85 jaar oorlede is.

Die SAUK het van 1980 tot 1992 elke tweede jaar ‘n Boeremusiek-kompetisie aangebied, maar sedertdien was daar nie veel televisiedekking nie. Daarby is die meeste van die destydse Boereorkesleiers, indien nie almal nie, reeds oorlede, onder meer Dirkie Smit, Nico van Rensburg en Hansie Roodt. KykNet het ‘n soortgelyke kompetisie, naamlik Varstrap, van stapel gestuur, maar wanneer daar weer ‘n reeks daarvan uitgesaai gaan word, weet nugter. Die een radioprogram waarin Boeremusiek gespeel word en wat landyd gehoor kan word, is Konsertinaklub, wat op RSG deur Fonnie du Plooy aangebied word, maar daar is omtrent niks anders nie.

Daar is wel ‘n aantal jong konsertinaspelers en Boereorkeste wat probeer om Boeremusiek lewend te hou, en een daarvan slaan die opvatting dat Boeremusiek slegs deur ou mans gespeel word, behoorlik die nek in. Die Kaapse Affodille is ‘n groep jong dames wat Boeremusiek so goed kan speel dat ‘n mens dit amper nie kan glo tensy jy hulle sien optree nie. Hulle het tot dusver nog net een CD vrygestel, en ‘n volgende een kan nie gou genoeg verskyn nie. Brian Nieuwoudt, wat onder sy bynaam Basjan optree, is ‘n multi-instrumentalis wat , benewens die konsertina,ook onder meer die klawerbord, die kitaar en die mondfluitjie kan bespeel. Hy het al een of twee Boeremusiek-CD’s vrygestel, maar hy konsentreer hoofsaaklik op ligte Afrikaanse musiek, soortgelyk aan dié wat Worsie Visser bekend gemaak het. Ricus Nel val byna in dieselfde kategorie. Hy is uiters gesog as ‘n ateljeemusikant, maar het ook al drie CD’s as sanger vrygestel. Hy kan die konsertina bespeel, maar hy het nog nooit ‘n volledige Boeremusiek-CD opgeneem nie. Miskien het dit tyd geword dat hy daaraan dink.

Twee Afrikaanse sangers het die afgelope paar jaar al CD’s saam met Boeremusiek-legendes opgeneem. Dit is algemeen bekend dat Blackie Swart ‘n groot Boeremusiekliefhebber is, en sy album saam met wyle oom Manie Bodenstein, So ry die Boere, het groot sukses behaal. Valiant Swart het twee albums, Vuur en vlam en Wild en wakker, saam met die bekende trekklavierspeler Ollie Viljoen opgeneem, en veral die titelsnit van eersgenoemde album was uiters gewild. Die mees eienaardige kombinasie van tradisionele- en kontemporêre musiek was egter Jack Parow, wat Dans met my saam met die Klipwerf-orkes opgeneem het. Aan die ander kant is dit ‘n ope vraag of Klipwerf se musiek as Boeremusiek beskou kan word. Hoewel dit nie ‘n reël is nie, is die hoofinstrument van ‘n Boereorkes gewoonlik ‘n konsertina. Daar is egter ook Boereorkeste wat ‘n trekklavier, ‘n viool of ‘n kitaar as hoofinstrument gebruik, en tog kan hul musiek as Boeremusiek beskou word. As daar een of twee elektroniese klawerborde gebruik word, moet ‘n mens egter begin wonder.

Die vraag is natuurlik ook of daar hoegenaamd vir elektriese- of elektroniese instrumente in Boeremusiek behoort te wees. Daar is twee denkrigrings; sommige mense gee nie om as dit gebruik word nie, maar ander, onder meer ekself, verkies dat daar niks meer as ‘n konsertina en/of ‘n trekklavier, ‘n ritmekitaar, ‘n klavier of ‘n orrel en ‘n outydse basviool (in Engels bekend as ‘n “double bass”) in ‘n Boereorkes voorkom nie. Dit is ‘n tradisionele musiekvorm en behoort as sodanig gespeel te word om te keer dat dit sy unieke identiteit en karakter verloor en bloot instrumentale musiek word.

Daar is instellings soos die Boeremusiekgilde wat steeds voortgaan om Boeremusiek te bevorder, maar dit alleen is nie genoeg nie. As Boeremusiek nie weer die aandag op veral radio en televisie kry wat dit verdien nie, gaan jongmense nie meer daarin belangstel nie, en gaan ons land ‘n belangrike kultuurerfenis verloor. Ons kan nie bekostig dat dit gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Andries Mouton ·

Daantjie Dinamiet. Dankie vir die artikel en die vrae wat jy vra. In Namibië bied die uwe ook ‘n boeremusiekprogram aan genaamd, “Balke toe”. Luister gerus op http://www.nbc.na Groetnis. Andries Mouton.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.