Kommentaar: Is dit nodig dat legendariese kunstenaars “vervang” word?

Gé KorstenDit is vandag vyftien jaar sedert Gé Korsten sy eie lewe geneem het.

Hy was een van ‘n handjievol Suid-Afrikaanse kunstenaars wat werklik as ‘n legende beskou kon word. Een van die belangrikste redes hiervoor, was dat hy feitlik enige tipe musiek kon sing. Hy het, in sy lang loopbaan meer as 50 albums vrygstel, en hierop het hy enigiets van ligte Afrikaanse musiek en Christelike musiek tot pop en opera gesing. In 1978 het hy byvoorbeeld die album Thank you for the music vrygestel waarop hy sowaar die treffers van die dag gesing het. Onder hulle was My broken souvenirs van Pussycat, Love is in the air van John Paul Young , die titelsnit, wat natuurlik ‘n groot treffer vir ABBA was, en seker die grootste verrassing, Free me deur die rock-groep Uriah Heep. Gé het ook bekendheid as akteur verwerf, en was te sien in roplrente soos Kruger-miljoene, Lied in my hart, Lokval in Venisië en natuurlik die onvergeetlike Hoor my lied, terwyl hy later die rol van Walt Vorster in die televisiesepie Egoli vertolk het.

Gé het inderdaad ‘n uiters indrukwekkende CV gehad, en die vraag is nou, is daar nog iemand soos hy? Die eintlik vraag behoort te wees of dit nodig is dat enigiemand in sy voetspore volg. Daar was al verskeie kunstenaars wat die gaping wat sy dood gelaat het, probeer vul het, en nie almal het heeltemal daarin geslaag nie. Jannie Moolman het homself seker gevestig as die sanger wat die naaste kon kom aan wat Gé bereik het. Jannie was op hoërskool ‘n tenoor in die Natalse Jeugkoor, en het daarna, soos Gé, ook in heelwat operas opgetree. Sedertdien het hy hom op ligte musiek begin toespits, en onder andere ‘n album saam met Gé se eertydse sangmaat, Rina Hugo, opgeneem. Nog ‘n tenoor wat al baie gedoen het om Gé se plek te probeer inneem, was Fanie de Jager. Fanie het in die laat 1980’s tot die musiekbedryf toegetree, en weer eens was die vergelyking met Gé onafwendbaar, veral omdat hul musiek op dieselfde gehoor gemik was. Fanie het egter lank laas nuwe musiek opgeneem. Die een kunstenaar wat egter tot dusver die meeste gedoen het om Gé se nalatenskap te laat voortleef, is Kevin Leo. Op Kevin se opname van Gé se treffer Lied van die lewe is Gé se stem deur middel van tegnologie bygevoeg, en dit is ook, selfs op ‘n meer vindingryke manier, in die musiekvideo gedoen deurdat dit op dieselfde plek as Gé se oorspronklike video verfilm is en Gé se video by die duetopname ingevoeg is. Daarby het Kevin ook ‘n huldeblykvertoning saamgestel, wat mettertyd op DVD vrygestel sal word.

Dit is alles goed en wel, en ‘n mens kan seker verstaan hoekom dit nodig was om ‘n legende se musiek te laat voortleef. Aan die ander kant is daar kunstenaars wat legendes geword het omdat hulle oorspronklik was en omdat hulle dinge op ‘n nuwe manier begin doen het. Die beste voorbeeld is seker Anton Goosen. Hoewel baie van sy komposisies verbied is, het hy tog bewys dat ‘n mens nie noodwendig dinge op dieselfde manier as voorheen hoef te doen of te sê nie. Koos du Plessis is nog ‘n voorbeeld; hy het oor taboe-onderwerpe geskryf, en hoewel hy nie juis ‘n goeie sangstem gehad het nie, was sy lirieke iets heeltmal anders in ‘n Afrikaanse musiekbedryf wat heeltmal te veel vertalings en swak lirieke moes trotseer. Ongelukkig is daar ook ‘n spul kunstenaars wat dink hulle kan sukses behaal deur “soos” ‘n bekende kunstenaar (veral dié wat reeds oorlede is), te probeer sing. Dit gaan nie lank duur voordat mense agter kom dat dit nie die ware Jakob is nie, en dan gaan die verkope van so ‘n kunstenaar se musiek al hoe meer begin afneem. Daar is veral ‘n aantal kunstenaars wat dink dat Bles Bridges die beste ding is wat ooit met die musiekbedryf gebeur het, terwyl Bles bitter min oorspronklike musiek gesing het en die meeste van sy “treffers” ‘n verlede gehad het. Dié wat nie bestaande wysies met Afrikaanse lirieke was nie, was al voorheen deur ander kunstenaars opgeneem en ‘n mens kon baie selde sê dat hy met iets vars en oorspronkliks vorendag kon kom. In sy guns moet ‘n mens darem sê dat hy ‘n baie goeie vokale reikwydte gehad het en feitlik enige tipe musiek kon sing. Daar is egter ook nou ‘n paar kunstenaars, veral Manie Jackson en tot ‘n mindere mate Gerrie Pretorius, wie se musiek op dieselfde gehoor gemik is. Gerrie het ‘n suksesvolle huldeblykvertoning aan Bles gedoen en ‘n CD daarvan gemaak terwyl Manie weliswaar nie Bles se musiek sing nie, maar ‘n uitgesproke Bles-aanhanger is en sy musiek dalk net te veel met dié van Bles ooreenstem.

Hoewel ‘n mens kan verstaan hoekom kunstenaars eer wil gee aan dié wat hulle geïnspireer het, kan die lewe, soos Gé tereg gesing het, nie stilstaan nie. Daar moet gedurig nuwe kunstenaars wees wat die grense van musiek verskuif, en dié wat miskien op watter manier hulde aan legendes wil bring, moet bloot ‘n CD van daardie kunstenaar/s vrystel, miskien met ‘n gepaardgaande vertoning, maar dan weer  hul eie oorspronklike musiek opneem. Dit is die enigste manier waarop daar vooruitgang in plaaslike musiek sal wees.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae