Kommentaar: Hoe geloofwaardig is Christelike musiek?

Jan de Wet

Jan de Wet

Toe ek ‘n kind was, was feitlik alle Christelike musiek “veronderstel” om stemmig en gewyd te wees, en toe die eerste hersiening van die Psalm- en-Gesangeboek gedoen is, is die Halleluja-liedere uit die kerk verbied met die uitsondering van ‘n paar wat die nuwe Psalm-en-Gesangeboek gehaal het.

Toe gebeur dit. Jan de Wet klim as jong predikant met ‘n kitaar op die kansel en hoewel hy aanvanklik as ‘n ketter uitgekryt word, begin ‘n rewolusie in die manier waarop Afrikaanssprekende Christene die Here loof en aanbid. Dit het egter nie onmiddellik gebeur nie, en toe Boney M drie maande lank in die nr. 1-posisie met Rivers of Babylon, ‘n verwerking van Psalm 137, op Springbok Radio se Top 20 was, was die amptelike standpunt dat dit dalk aanvaarbaar was om daarna te luister, maar dat dit taboe was om daarop te dans. Anton Goosen skryf kort daarna die Kerslied Ster van Bethlehem, wat deur Cora-Marie opgeneem word, maar dit word onmiddellik deur die SAUK verbied en verdwyn in die vergetelheid.

In 1984 gebeur daar egter twee dinge wat die toekoms van Afrikaanse Christelike musiek onherroeplik verander het. Die Afrikaanse susterskerke stel die Jeugsangbundel bekend, en kitaardrukke kom vir die eerste keer in ‘n amptelike kerksangbundel voor. Veral die lied Loof Hom met die tromme verander mense se denkrigting rondom lof en aanbidding. Die ander gebeurtenis van daardie jaar was egter van groter betekenis. Die platemaatskappy Maranatha word gestig met die uitsluitlike doel om kontemporêre Afrikaanse Christelike musiek aan die publiek bekend te stel. Weer eens was Jan een van die eerste kunstenaars wie se musiek bekendgestel word, terwyl ander kunstenaars gou in sy voetspore gevolg het. Nou, drie dekades later, is daar ‘n verskeidenheid kunstenaars wat Christelike musiek sing. Daar is ‘n verskil tussen kontemporêre Christelike musiek en Gospel; laasgenoemde is ‘n spesifieke musiekvorm wat deur plaaslike kunstenaars soos Sifiso Ncwane, Benjamin Dube en die bekende koor Joyous celebration gesing word, Daarom is dit nie hier ter sprake nie.

Kunstenaars wat Christelike musiek sing, val in drie kategorieë; naamlik dié wat hulle van die begin af uitsluitlik daarop toegespits het, soos Piet Smit, Willie Joubert, Dewald Gouws en Louis Brittz, dié wat aanvanklik kommersiële Afrikaanse musiek gesing het en heeltemal oorgeskakel het na Christelike musiek, soos Danie Botha, Freda Francis en Ronell Erasmus en dié wat twee parallelle loopbane het, soos Juanita du Plessis. Die vraag is net; watter van hierdie kunstenaars is geloofwaardig en hoe weet jy of iemand se bedoelings opreg is?

Daar staan in die Bybel geskrywe dat ‘n boom aan sy vrugte geken sal word. Daar is geen rede hoekom ‘n kunstenaar nie kommersiële- en Christelike musiek kan opneem en met albei sukses kan behaal nie. Die beste voorbeeld hiervan is Juanita du Plessis. Haar Christelike komposisies, soos Vlieg hoog en Wees lig, is net so gewild soos kommersiële treffers soos Lepellê, Kaalvoetkind en Ska-rumba. Daarby het sy al meer as een ker bewys dat sy wéét wanneer om laf te wees en wanneer om ernstig te wees; sy doen albei met dieselde oorgawe en wat sy ook al doen, is geloofwaardig. Daarby is sy getroud en het sy haar kinders gekry voordat sy bekend geword het, en sal ‘n mens nooit haar naam in die skindermedia sien nie.

Daar is egter ‘n paar ander kunstenaars wie se Christelike albums niks anders was as ‘n poging om op die “lawaaiwa” te spring nie. Ek gaan nie name noem nie; ek dink enigiemand wat iets van musiek weet, sal presies weet wie dit is. Hoe ook al, een of twee van hulle het al liedjies gesing met sulke eksplisiete lirieke dat dit selfs so onlangs soos twintig jaar gelede heeltemal verbied sou word. Soms was dit op aandrang van die platemaatskappye, wat buitendien geen waarde aan musikale integriteit heg nie. Dit laat ‘n mens wonder of hiedie kunstenaars nie dalk Christelike musiek opneem om net nog meer geld te verdien eerder as om die Woord van die Here deur musiek te verkondig nie. As jy tot eer van die Here sing, moet jy ook tot Sy eer lewe. Jy moet ‘n mens van integriteit wees en daar behoort geen bymotiewe te wees nie.

Daar is ook sommige kunstenaars wat dink dat ‘n sterk boodskap genoeg is en dat musikale uitnemendheid nie belagrik is nie, want “dit is vir die Here en nie vir mense nie.” Gelukkig is hulle besig om van die toneel te verdwyn, want niks is verder van die waarheid nie. As jy tot eer van die Here wil sing, moet jou musiek van ‘n hoë standaard wees, nie net die woorde nie, maar die musikale verwerking ook. Dit is waarom Jan de Wet so ‘n groot treffer met Hierdie Kind gehad het, nie net as gevolg van die boodskap nie, maar ook omdat die musikale verwerking van hoogstaande gehalte was. Daar is ander Christelike liedere waarvan dieselfde gesê kan word; Piet Smit se komposisie Die heel beste rede was gewild om dieselfde rede, selfs al het Piet al gesê dat hy nie van die werwerking gehou het nie. Daar is ook ander voorbeelde van Christelike liedjies wat groot kommersiële treffers geword het, onder meer Houtkruis van Prophet, Oorwinningslied van Piet Smit, Ek sal nie bang wees nie van Joe Niemand, God van wonders van Willie Joubert en Hy is van Adam Barnard.

Ten slotte gaan dit alles hoofsaaklik oor integriteit. Wie gaan jou glo as jy vandag tot eer van die Here sing en môre die voorblaaie van koerante en tydskrifte haal omdat jy in een of ander skandaal betrokke was? Ek wil nie noodwendig sê dat alle kunstenaars wat nog nooit enigiets anders as Christelike musiek sing, sondelose mense is of dat hulle nog nooit verkeerde dinge gedoen het nie. Kyk maar na Dawid; hy het ‘n hele aantal Psalms geskryf, maar hom aan owerspel skuldig gemaak. Wat ek wil sê, is dat jy ‘n opregte en toegewyde kind van die Here moet wees as jy tot Sy eer wil sing, en dit nie moet doen om beroemd of ryk te word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Canned Phantom ·

Ek kyk gewoonlik op ‘n “Gospel CD” se houer vir die kopiereg fynskrif. Sodra ek dit sien sit ek dit terug op die rak. My eerste gevoel is dat die CD net vir die finansiële gewin was en nie ‘n saak van die hart nie. Ek het CDs waar die kunstenaar sê kopieër vrylik en versprei wyd. Ek koop sy CD want dit is vir hom/haar ‘n saak van die hart. Is julle bewus dat die Afrikaanse Bybel die enigste een, waarvan ek bewus is, wat kopiereg beskerming het? Watter sin maak dit?

Daantjie Dinamiet ·

Ek wil net een ding by jou weet; moet kunstenaars wat besluit om Christelike musiek sing, dan honger ly? Daar is wel dié van hulle wat dit doen om geld te verdien, maar ek is oortuig daarvan dat hulle gou ontmasker word. Daar is wel ‘n aantal kunstenaars wie se boodskap opreg is en wie se musiek van hoogstaande gehalte is, en om van hulle te verwag om van die ellende te krepeer, sou onbillik wees. Dit is so goed om te sê dat predikante ook nie salarisse mag verdien nie omdat hulle die Woord van God verkondig. Christelike sangers doen dit ook; hulle sing net eerder as om te preek.

Christelle ·

Ek koop glad nie gospel musiek nie. My geloofsoortuigings is vir my ‘n persoonlike saak. Baie van die gospel musiek dra die sanger en skrywer se sienings oor wat glad nie ooreenstem met wat die Bybel sê nie. Juanita het ‘n liedjie gesing ‘Ons gaan hemel toe’, hoop ek onthou die titel reg, waar sê die Bybel ons gaan hemel toe? In Handelinge sê dit dan dat nie eers Dawid hemel toe gegaan het nie. Die Bybel praat van ‘n opstanding van regverdige en onregverdige mense, as ons reeds hemel toe gaan, waar pas die opstanding dan in? Nog iets, gospel sangers is lief om te sing van liewe Jesus, maar Jesus self het gesê ons moet hom nie aanbid nie maar net die Vader alleen. Kersfees is ‘n heidense fees, dit kan julle maar gaan google, dit is algemene kennis. Tog sing Juanita van kersfees in die liedjie ‘Die fiets’. Niks persoonlik teen Juanita nie, maar die probleem met gospel musiek is dat mense dit begin aanhang as ‘n evangelie. Hulle spandeer hope geld op hierdie musiek terwyl hulle Bybels iewers op ‘n rak onder die stof lê. En verder, glo hulle die goed wat hierdie sangers sing, sonder om self seker te maak wat die Woord van God sê. Nee wat, mense moet aangespoor word om weer ernstig hulle Bybels te studeer ipv om gospel musiek te luister van mense wat self nie ‘n benul het wat die Bybel sê nie.

Daantjie Dinamiet ·

Christelle, jy kan gerus na kunstenaars soos Jan de Wet, Willie Joubert, Piet Smit, Dewald Gouws en die sanggroep Manne wat Glo luister; daar is niks met hul boodskap verkeerd nie. Ek het egter ‘n probleem met Gerhard Steyn en Nicholis Louw wat op die “bandwagon” gespring het.

Christelle ·

As ek vir iemand soos Juanita raad kan gee, maak eerder ‘n cd met liedjies wat inspireer. Twee van haar liedjies wat my inspireer is ‘Tyd vir omdraai’, en ‘Opstaan’, dit is liedjies met ‘n boodskap en dit laat mens dink oor die lewe.

Daantjie Dinamiet ·

Christelle, ek kan nie sterker van jou verskil nie. Jy het nie ‘n teologiese agtergrond nodig om Christelike liedjies te sing of te skryf nie; jy hoef net ‘n toegewyde kind van die Here te wees. Ek dink egter dat jou lewe in alle opsigte daarvan moet getuig. Ek ken Juanita persoonlik goed genoeg om seker te wees dat sy dit wat sy sing, uitleef en daarom kan sy nie net daarmee voortgaan nie; sy moet dit doen.

Christelle ·

Daantjie ek stem glad nie met jou saam nie. Niemand sê sangers moet teologiese agtergronde hê voor hulle christelike liedjies sing nie, maar maak dan seker van jou feite voordat jy valse leerstellings aan ander mense oordra. Ek het reeds genoem van kersfees, meeste mense weet dit is heidens, maar net omdat ‘voorbeeldige’ sangers van kersfees sing maak dit nie reg nie. Hulle verlei mos nou die mensdom en laat almal dink dit is ‘n christusfees wat dit nie is nie. Die bybel sê tog die WAARHEID sal ons vry maak. Gaan lees maar wat met die Israeliete van ouds gebeur het toe hulle die heidense nasies om hulle se heidense gebruike beoefen het. Hulle was vernietig!! Ja dit is waar dat elke persoon vir homself moet besluit of hy kersfees wil vier of nie, maar mense verafgod sekere sangers. So, elke woord wat hierdie mense sing hang hulle aan soos ‘n evangelie. En glo my, baie mense dink as hulle ywerig gospel musiek luister en koop dan is dit hulle kaartjie hemel toe. Hoe groot gaan hulle ontnugtering wees eendag. En om aan te sluit by Canned se kommentaar, hy is heeltemal reg. Die bybel sê verniet het jy ontvang, verniet moet jy gee. Ons moet nie die woord verkoop nie. Predikante moet Paulus se voorbeeld volg, hy was ‘n tentmaker van beroep, hy het nooit ‘n salaris ontvang vir sy predikingswerk nie. So ja, niks of niemand gaan my oortuig dat gospel, of jy dit sing of preek nie een groot geldmaak storie is nie. Juanita verkoop duisende en duisende kommersiële cd’s, waarom gebruik sy nie daardie geld om gospel musiek gratis beskikbaar te stel nie. Sy hoef nie cd’s te druk nie, maak gebruik van die internet. Baie sangers stel deesdae hulle musiek gratis beskikbaar vir mense om dit af te laai. Maar sy sal dit nie doen nie, want haar gospel verkoop soos soetkoek. Geld geld geld is al wat ek kan sê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.