Koos Doep in nuwe verhoogproduksie gegroet

Jacques Botes en André Kempen is te sien in die nuwe verhoogproduksie 'Koebaai Koos, koebaai ..." (Foto: Verskaf)

Jacques Botes en André Kempen is te sien in die nuwe verhoogproduksie ‘Koebaai Koos, koebaai …” (Foto: Verskaf)

Hy stap al ʼn lang pad met Koos du Plessis, sê die gesoute akteur, radio- en televisieaanbieder en kabaretkunstenaar Jacques Botes, en daarom wou hy weer ʼn verhoogproduksie op die been bring wat dié geliefde en legendariese Afrikaanse kunstenaar vereer.

“Ek het besef ek het nooit vir Koos gegroet nie. Daarom is die naam van die produksie Koebaai, Koos, koebaai…,” vertel Botes in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“André Kempen het op ʼn dag vir my gevra wanneer doen ek weer Koos Doep. Ek het ʼn grap gemaak en gesê ek sal dit doen die dag wanneer hy vir my speel. ʼn Hele ruk later bel hy my en sê hy het ʼn paar verwerkings van Koos se werk gedoen en vra of ek wil kom luister.”

Botes was uit die veld geslaan. “Ek het vir hom gesê ek het nie geld om hom te betaal nie,” lag hy, “maar hy sê toe hy wil die projek doen om Koos se werk beter te leer ken en om hulde aan hom te bring. Ek kon hoor André het ure met die musiek gesit en toe moes ek inspring.”

Die verhoogproduksie fokus op die musiek en woorde van Du Plessis. “Daar is geen projeksies en ander fieterjasies nie. Ek gebruik Koos se gedigte om soos ʼn goue draad die liedjies aan mekaar te bind en sy storie te vertel.”

Koebaai, Koos, Koebaai… is gebore uit die deeglike en diepgaande navorsing oor Du Plessis se werk en lewe. Goeie vriende en oudkollegas van Du Plessis, akademici en meningsvormers het hul harte oopgemaak en hul kennis oor Du Plessis met Botes gedeel, sodat selfs die humoristiese Du Plessis ontmasker word.

“Ek het baie onderhoude gedoen met Etienne Kriel wat destyds die redakteur van Stywe Lyne en ʼn goeie vriend van Koos was. Hulle het saam gewerk by die Oggendblad. Etienne se eerste woorde oor Koos was: ‘Daar was nou vir jou ʼn plaatjie!’.

“Hy het oor Koos se grappige kant vertel en gelag oor die poetse wat hy mense gebak het, oor hoe hulle gekuier het, baie eerder as die ernstige oomblikke.”

Botes benadruk dit is nie ʼn komedievertoning nie. “Dit is vir die persoon wat dink oor die lewe. Dit is beslis nie ligsinnig nie. Die filosofie van Koos praat met ons almal wat die groter vrae oor die lewe vra.”

Koebaai, Koos, koebaai… is op 30 November by La Fleur Café in Vaalwater te sien. Vir besprekings kontak Lucinda by 083 574 8341 of [email protected].

Die vertoning is ook op 6 en 8 Desember om 19:00 te sien by die Pierneefteater in Pretoria. Vir besprekings kontak Jopie Koen by (012) 329 0709 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barries ·

Een van my gunsteling CD’s bly maar Johannes Kerkorrel sing Koos du Plessis.

tessa ·

Net Koos kon sy musiek oordra.
As ‘n ander kunstenaar dit sing, klink dit soos ‘n Moslem wat uit die Bybel voorlees. Nie dieselfde nie. Van alle krag ontneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.