Koos Kombuis maak nuwe album danksy publiek

Koos Kombuis (Foto: www.kooskombuis.com)

Koos Kombuis (Foto: www.kooskombuis.com)

Koos Kombuis se stem was so byna vir altyd stil. Dié anti-establishmentsanger vertel hy het reeds “vir almal gesê ek is klaar met musiek”. Dit was egter ʼn duet saam met die sanger Pietman Geldenhuys wat hom aan sy liefde vir musiek herinner het, en nou is ʼn nuwe album op pad.

“Dit was ook maar net-net,” sê dié sanger, “of ek het musiek vir ewig vaarwel geroep. Gelukkig het ek besef, ‘hel, musiek is nog steeds lekker’.”

Intussen het Kombuis hom op die publiek beroep om hom te steun in die vervaardiging van sy jongste projek, ʼn folk-album met multikulturele elemente. Genoeg geld is ingesamel om die vervaardiging van die album te verseker.

Dié album heet Langpad na Lekkersing en word opgedra aan die legendariese David Kramer.

“Lekkersing is meer as ʼn pleknaam, dis ook ʼn verwysing na David Kramer se liedjie ‘Matchbox Full of Diamonds’, en Langpad is natuurlik ook die titel van ʼn bekende video wat deur Jan Horn geskiet is en later op TV uitgesaai is,” sê hy.

Musikante soos Riku Lätti, Willim Welsyn, Anna Davel, Stef Bos en Ramon Alexander het reeds hul betrokkenheid aangedui.

Kramer gaan moontlik ook by die album betrokke wees. “Koos se spore en myne het al baie oor die jare gekruis. Ons het die ou land met bicycle en bakkie platgery. Nou stap hy in die rigting van Lekkersing en nooi my om saam ’n draai daar te kom maak. Lyk vir my ek moet my rooi vellies afstof en my blikkitaar instem. Wie weet, miskien kry ons ’n diamant of twee langs die pad,” sê Kramer.

Kombuis sê egter meer geld is nodig om ʼn album van ʼn hoër gehalte te maak.

“As ons meer kan kry, kan ons langer in die ateljee deurbring en meer doen. R100 000 was die absolute minimum. Volgens sommige van ons konsultante kos dit deesdae ten minste R300 000 om ʼn CD te maak. Ons mik nou vir R200 000. Dan kan ons ook meer geld in post-produksie instoot.”

Langpad na Lekkersing word in September en Oktober opgeneem.

Die eerste oplaag sal uit die hand verkoop word en beskikbaar wees vir aflaai op die internet. Die CD sal eers volgende jaar in winkels versprei word.

As jy wil betrokke raak, of iets vir die projek bydra, besoek Koos se Jumpstarter-skarefinansieringswebwerf.

Besoek ook sy webwerf en Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marianne ·

Ek is bly Koos Kombuis gaan weer ‘n CD uitreik. Ek het nie besef wat die onkostes aan so ‘n uitreiking behels nie. Ek hoop van Harte sy CD word verwerklik.
Die man sing diep. Hy sing uit sy hart. Sy musiek raak my hart.

Pieter ·

As armoede begin druk moet ‘n man plan maak. Nou wonder ek net, is die armoede so erg dat nie een van die “Bekende ” kunstenaars kan bydra nie. Nog ‘n ding, Koos het so paar jaar gelede nogal in die pers luid laat weet hy sien af van sy Afrikanerskap, Nê Koos. Onthou Afrikaans is inherent deel van die Afrikaner. Nou, watter taal sing jy deesdae en dan ook die nuwe CD, in watter taal, seker nie afrikaans nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.