Koos Kombuis wil ‘Afrikaans red’ met jongste album

Koos Kombuis (Foto: www.kooskombuis.com)

Koos Kombuis (Foto: www.kooskombuis.com)

Dit was so hittete of hy was klaar met musiek, het die anti-establishment sanger Koos Kombuis vroeër verlede jaar vertel.

“Dit was ook maar net-net,” sê dié sanger, “of ek het musiek vir ewig vaarwel geroep. Gelukkig het ek besef, ‘hel, musiek is nog steeds lekker’.” Hy het dadelik begin beplan aan ʼn nuwe album om “Afrikaanse musiek uit ʼn krisis te red” en nou is dié album pas uitgereik

Nóú is hy “meer positief oor die land as ooit tevore”.

Dié album, Langpad na Lekkersing, is verlede week amptelik uitgereik. Koos sê hoewel hy nie die impak van die album kan meet nie, hoop hy dat dit ʼn verskil kan maak in die lewe van ʼn paar mense.

“Ek wil nie snaaks of grootpraterig wees nie, maar ek hoop dat die album vir ʼn paar mense iets kan beteken. Ek is gelukkig met die album, en ook met die produksie daarvan, en dink ons kon opreg en eerlik wees daarmee. Ek wil net hê mense moet dit geniet – dis al,” sê hy.

Die sanger sê hoewel hy nooit doelbewus ʼn album of musiek maak wat “buite die hoofstroom is nie”, is baie Afrikaanse wat deesdae op die radio gespeel word in ʼn krisis. “Hoekom speel hulle die swakste musiek op die radio? Ek sê niks oor die mense nie; hulle is great en met baie van hulle is ek vriende. Maar die musiek is swak, en ek hoop dié album is nié.”

Die omslag van die album (Foto: Facebook)

Die omslag van die album (Foto: Facebook)

Hoewel sy sentimente oor Afrikaanse musiek nie juis positief is nie, is hy wel positief oor die toekoms van Suid-Afrika. “Ek is nie soseer positief omdat dit goed met ons gaan hier nie; inteendeel – dit gaan nie goed nie. Maar ek is positief omdat dit elders ook sleg gaan. So ons moet mooi musiek maak sodat ons daarvan kan vergeet.”

Koos is tans besig met die geskenkpakkies wat hy aan mense wat bydraes gemaak het, beloof het. “En dis ʼn helse werk! Ek het op YouTube gaan kyk hoe om ʼn strik te maak, maar dis te moeilik. Nou doen ek sommer my eie ding.”

Langpad na Lekkersing word opgedra aan David Kramer vir die “reusebydrae wat hy gemaak het tot die plaaslike en Afrikaans musiekbedryf”.

Daarby wil hy spesiale melding maak van die musikante Schalk Joubert (baskitaar, kitaar en klawerbord), Albert Frost (elektriese kitaar), Kevin Gibson (tromme), Nick Turner (akoestiese kitare en agtergrondsang), Ramon Alexander (klavier), David Kramer (kitare en sang op “Ek wil net huistoe gaan”), Wilken Calitz (viool), Corné Crous (agtergrondsang), Anna Davel (sang op “Tuisbly-kitaar” en agtergrondsang), Pietman Geldenhuys (agtergrondsang), Vernon Swart (perkussie) en Riku Lätti (trekklavier).

Hou Maroela Media dop vir ʼn ateljee-onderhoud met Koos Kombuis.

Langpad na Lekkersing is beskikbaar in talle musiekwinkels landwyd en op iTunes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ian ·

Moet sê, ek was nogal opgewonde oor hierdie nuwe album tot ek David Kramer se naam daarin raakgelees het. Jammer, ek kan nie dat een van my hard verdiende sente na die verraaier David toe gaan nie.

Dereck Le Roux ·

Koos wie? Ek het gedink hy het al lankal opgehou sing en spits hom toe deesdae op linkse politiek.

marous ·

Gaan maak musiek op ‘n plasie , sonder krag of sekuriteit …. net vir twee weke

Niel ·

Ou Koos gaan sing maar eerder vir die ANC, jy het mos jou lewe daaraan gewy om hulle aan bewind te bring!

Johan ·

Een van die swakste sogenaamde Afrikaanse kunstenaars seker wat daar is!!!

Gideon ·

Ek dink Koos is ‘n gawe ou. Hy is ‘n talentvolle kustenaar en liedjieskrywer. Ongelukkig kan hy nie sing nie.

Regi ·

Held van die liberale media en ander randfigure! Jou gehoor is maar klein Mnr. Kombuis.

Francie ·

Ek soek verniet na die erkenning wat aan Snotkop gegee word nadat hy op TV moreel verplig was om ‘n bydrae vir die vervaardiging van die cd te maak – dit wil voorkom of die twee mekaar privaat uitsorteer het.
Johan, ek stem grootliks saam met jou. Behalwe vir ‘n glipsie of twee wat soms gehoor word, is daar meer van sy pennevrugte waarvan ek liewers nooit wil hoor nie.
Verseker het hy ‘n bydrae gelewer: Wie sal dan kan vergeet van wat hy met ‘ Die Grotman’ aangevang het? Ek was gelukkig om die Engelse weergawe te geniet, en kon skaars glo dat mense uit die Afrikaanse weergawe se opvoerings geloop het. Hy blink selfs uit as vertaler!
Behoede Afrikaans daarvan dat hy die taal wil red!

Reinhardt ·

Uiteindelik! Het dit nounet op iTunes afgelaai. FPK, Die Heuwels Fantasties en Spoegwolf is ook besig met nuwe albums, dit gaan ‘n goeie jaar vir Afrikaanse musiek wees.

Takkie Takuuza ·

Ag regtig ou Koos. Jou musiek is nie eers vir my mooi as ek omkyk twak gerook het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.