Kosie Beukes: ‘Ek verruil musiek vir niks in die wêreld’

Kosie Beukes (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hy speel die trekklavier asof dit tweede natuur is, het 13 ander instrumente al baasgeraak en is boonop net 12 jaar oud!

Kosie Beukes is lank nie meer ʼn nuweling in die bedryf nie, Maroela Media het reeds in 2016 berig oor Kosie se musiektalent – tóé was hy net agt jaar oud.

Kosie vertel aan Maroela Media dat hy as kleuter reeds instrumente begin speel het.

“My pa het van voor my geboorte af in ʼn boereorkes gespeel en toe ek klein was, het ek so ʼn klein oranje plastiek kitaartjie gehad. En dan, as my pa-hulle gespeel het, het ek maar gemaak asof ek saam tokkel.

“Ek was so vier jaar oud toe ek begin kitaarspeel het en ek was vyf toe ek die konsertina gevat het – en dís waar die magic begin het,” sê Kosie.

Kosie het onlangs ʼn verhoog met Snotkop en Ricus Nel gedeel vir hul vertoning van die gewilde liedjie “Boerepompie” by die Aitsa-musiektoekennings. Hy het ook pas ʼn kontrak met Universal Musiek aangegaan.

“Dit is vir my regtig ʼn baie groot eer om op so ʼn jong ouderdom al met so ʼn groot maatskappy te kan werk,” sê hy.

Kosie Beukes voor sy vertoning by die Aitsa-toekennings (Foto: Facebook)

Kosie sê die konsertina is beslis die instrument wat hy die meeste geniet om te speel, en dat hy reeds weet dat hy musiek wil maak vir die res van sy lewe.

“Ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie. Dit is vir my lekker om te sien hoe mense die musiek geniet, veral as hulle begin dans.

“Maar natuurlik moet ek ongelukkig skool toe gaan ook. Maar wanneer ek nie in die skool is nie, en nie musiekmaak nie, hou ek daarvan om saam met my broer (Braam) tyd te spandeer en te kuier,” sê hy.

Kosie vertel dit is sy grootste droom om vir koningin Elizabeth sy konsertina te speel, maar dat hy dit nie op haar begrafnis wil doen nie, eerder voor dán.

“Dan kan sy lekker ʼn koppie tee drink en ek kan Afrikaanse musiek vir haar speel.”

Kosie is besig om ʼn nuwe album op te neem en sy musiek is op alle digitale platforms asook by musiekwinkels landswyd beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Susan ·

Music soothes your soul…
Hou aan speel Kosie, musikante soos jy is die rede hoekom my lewe ‘n lied is, ongeag van al my bekommernis

Maria ·

Kosie tannie baie trots op jou alles kom uit jou hart uit. Hou aan speel res van jou lewe dit goed vir jou geeslik hart.

Angelique ·

Kosie, jou YSTER.Jy is een wonderlike jongman wat nog baie ver gaan kom in jou lewenspad. Ons wens jou alle geluk en opwinding vir wat voorlê. Bly so amazing soos jy is.
Bly so n borrelende jongman en moet nooit laat iemand jou gees afbreek nie. Jy skyn positiwiteit vir almal om jou. Jy is een goeie vriend vir Justin en Donnovan en geen twyfel dat jy so omgee vir al jou virende en medemense om jou nie.Hou die konsertina hoog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.