‘Kraakvars’ het iets vir almal se smaak

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Dit lyk asof al hoe meer versamelalbums deesdae uitgereik word, en een van ons land se grootste platemaatskappye se jongste een, Kraakvars, het pas verskyn.

Hierop verskyn die jongste Afrikaanse treffers deur dié platemaatskappy se kunstenaars, maar daar is ook ’n internasionaal bekende Christelike snit, asook ’n plaaslike kunstenaar se weergawe van ’n country-treffer ingesluit. Meer hieroor later.

Die eerste snit in die album is die eerste enkelsnit van Kurt Darren se jongste album, naamlik “Ek wens vir jou”. Hierin bewys Kurt dat hy nie net dansmusiek kan sing nie, maar ook musiek wat meer om die lyf het. Dié snit het die groot treffer geword wat dit verdien om te wees.

André Venter was voorheen lid van die groep Romanz, maar sedert hulle ontbind het, het hy die aanbieder van die musiekprogram Jam op kykNET geword en ’n solo-album uitgereik.

“Ek lief jou belowe” is een van die snitte in daardie album en is ook hier ingesluit. Almarie du Preez het intussen as aanbieder van Jam by André oorgeneem.

“Pêrel vir ’n kroon” is ’n komposisie van Rudi Claase wat verskeie treffers van die afgelope jaar of wat geskryf het. Dit is die titelsnit van Andriëtte se jongste album en het een van haar grootste treffers tot dusver geword. Die eerste van twee snitte wat nie Afrikaans is nie, is Manie Jackson se weergawe van “Amazing Grace” uit sy Christelike album, wat beslis sy beste een tot dusver was.

Sedert ’n musiekvideo van Refentse, waarop hy Bok van Blerk se treffer “De la Rey” sing op YouTube geplaas is, het hy dadelik gewild geword, en met goeie rede. Sy weergawe van Valiant Swart se treffer “Sonvanger” is eenvoudig uitstekend. Adam Tas het verlede jaar ’n Johnny Cash-huldeblykalbum, ’n Tas vol Cash, uitgereik en intussen het hy die snit “Afrikagrond” bekendgestel. Dit sal sekerlik in sy volgende album ingesluit word, maar intussen is dit eksklusief in hierdie album beskikbaar.

Brendan Peyper was een van verlede jaar se gewildste debuutkunstenaars en “Die perfekte een vir my” is een van vier enkelsnitte wat sy debuutalbum tot dusver opgelewer het.

Die volgende twee snitte het iets gemeen: Liezel Pieters. Die eerste hiervan is haar nuwe solo-enkelsnit, “Miljoene druppels”, nog ’n snit wat eksklusief in hierdie album beskikbaar is. Haar debuut-solo-album word binnekort uitgereik. Liezel het ook deel van 4 Werke geword nadat Monique die groep verlaat het.

“Jy slaan die wind in my seile” is die eerste enkelsnit wat die groep uitgereik het sedert Liezel by hulle aangesluit het, en dit is ook die eerste treffer in hul nuwe album, 4 Warm, wat tans besig is om gewild te word.

Nicholis Louw se mees onlangse album, Só rock ons die wêreld reg, was seker sy beste een in ’n baie lang tyd, en “Bring die storm”, die eerste enkelsnit in die album, was ’n groot treffer.

Deon Groot is ’n nuweling op die musiektoneel, maar in “400 voet van oorbegin” kan ’n mens agterkom dat hy nog baie ver gaan kom. Ricus Nel is een van ons land se talentvolste musikante, maar hy het eers redelik onlangs begin sing. Hy het verlede jaar ’n album uitgereik waarin hy hulde aan die country-sanger Don Williams gebring het. Ray Dylan se “Warm girls en koue bier” is ook ’n snit op die CD.

Daar is twee nuwe weergawes van bekende Afrikaanse treffers in dié versameling. Die eerste een is Jacques Terre’blanche se weergawe van Lucas Maree se treffer “Droomvrou”. Dit is reeds besig om ’n groot treffer te word en ’n mens hoop dat Jacques, wat in die verlede aan Idols deelgeneem het, meer gereeld in Afrikaans sal sing.

Snotkop se nuwe album is pas uitgereik, maar “Hiekies in Hartenbos” het in sy vorige album voorgekom.

Francois van Coke en Karen Zoid het ’n groot treffer gehad met “Toe vind ek jou” en dit het selfs byval gevind by mense wat nie noodwendig van hul musiek hou nie. Woord’loos het ’n pragtige instrumentale weergawe daarvan opgeneem, en dit is hier ingesluit.

Net meer as ’n jaar gelede het Jan de Wet, Willie Joubert, Dewald Gouws en Leon Ferreira die Christelike supergroep Manne wat glo gevorm. Hul gelyknamige debuutalbum is kort daarna uitgereik en Leon se komposisie “Mosterdsaad” is hier ingesluit. Nadat Pierre Rossouw die televisiereeks Ons soek die sanger gewen het, het die musiekbedryf hom leer ken as ’n sanger en liedjieskrywer met ’n skerp sin vir humor, maar in “Ek is net ’n pa” wys hy sy ernstige kant.  Elizma Theron is die vierde en laaste lid van 4 Werke van wie ’n solo-snit ingesluit is. “Soen of nie” is een van die treffersnitte in haar mees onlangse album. Die laaste snit op dié versameling is die titelsnit uit Vegas se album, Beste tyd van jou lewe.

Soos wat ’n mens van ’n versameling soos hierdie een kan verwag, is daar iets waarvan almal behoort te hou, en daarom behoort dit baie gewild te wees. Dit het deesdae baie duur geword om CD’s te koop en nie almal het toegang tot iTunes nie. Dus kan ’n mens hierdie album sterk aanbeveel vir enigiemand wat lief is vir Afrikaanse musiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.