Kruis van liefde: Skakel vandag in vir ’n Paasnaweek-bederf

Kruis van liefde (Foto verskaf aan Maroela Media)

So met die inperkings en beperkings van Covid-19 saam en die jammerte dat die eerste uitvoering van Franco Prinsloo se Paasoratorium, Kruis van liefde, ook verlede jaar in die slag gebly het, is daar die lieflike meevaller dat ʼn opname van dié koorwerk Vrydag (2 April) net na 14:00 op RSG uitgesaai word. Op dié manier kry soveel meer mense, hier én wêreldwyd, die geleentheid om na dié uitsonderlike oratorium te luister.

Kruis van liefde, die toonsetting van die gelyknamige Paasspel uit die pen van die digters Hans du Plessis en Bernard Odendaal, is onlangs vir die eerste keer voor ʼn klein gehoor uitgevoer in die SAUK se M1-ateljee in Auckland Park in Johannesburg.

In die bestek van ʼn uur kom die Paasgebeure – van die verskyning voor Pilatus tot en met die dood van Jesus, en ʼn besinning vanuit die perspektief van die opgestane Here – aan die orde in dié werk vir koor, orrel en perkussie.

So nodig as wat Du Plessis en Odendaal se teks op sigself is in ʼn braak landskap van Afrikaanse Paastekste, so welkom is Prinsloo se oratorium in die wêreld van Paasmusiek waarin hier te lande jaarliks teruggeval word op Händel en Bach. En boonop een wat nie so lywig (in besetting) en duur (om uit te voer) is soos die Messias of die Matteus-Passie nie.

Van beperkings is Prinsloo as komponis maar te bewus. Daarom laat vaar hy die idee van soliste en ʼn orkes en slaan munt uit die orkes waaroor die orrel beskik en flink perkussie – ʼn klein drama van sy eie met heelwat voetwerk tussen ʼn goeie verskeidenheid slaginstrumente. Die drama wat oratorium van kantate onderskei word reeds bewerkstellig in die gesprek tussen instrumente, en soveel meer deur die rolle wat die Vox-kamerkoor het. Deurgaans dra die koor die verhaaltrant, maar dié word dramaties aangevul deur enkele stemme wat by geleentheid sololyne het om te vertolk. Op dié manier genereer die koor in dialoog met orrel, marimba, keteltromme, buisklokke, tromme en bykomende slagwerk ʼn energie wat die onderbou vorm van die tafereel wat in klank ontvou – van die aanvanklike gedempte dreunsang-uitnodiging tot deelname, tot die opruiende dissonansie as die skare aandring dat Jesus gekruisig moet word, tot patos en eindelik tot intense deemoed by die dood van Jesus aan die kruis.

ʼn Paar jaar gelede het Prinsloo in ʼn onderhoud laat val dat die genre waarin hy skryf gewoon “musiek” is. “Ek verkies bloot musiek. Die term ‘klassiek’ verklap iets van ʼn opgesmukte houding,” het hy gesê. “In die tyd waarin ons leef is daar ʼn magdom musiek beskikbaar, wat nie in een leeftyd opgeluister kan word nie.

“Deur jouself oop te maak vir musiek wat vir jou onbekend is – vir watter rede ook al (kultureel, geografies of vanweë ʼn ideologie) – word ’n onskatbare dimensie van bewuswording en waardering ontsluit. Dit sou jammer wees as een musikale styl hoër as ’n ander geag word. Die hibriede vorm is juis om hierdie rede so interessant vir my.”

Kruis van liefde (Foto: Amy van der Walt)

Waarin Prinsloo slaag is om dié oratorium as verwikkelde komposisie aan te bied op só ʼn onopgesmukte manier dat dit nooit intimiderend word nie. Jy word meteen meegevoer (reg van die openingsuitnodiging “Kom laat ons sing!”), jy word eweneens by tye verras (soos onder meer die walsmaat-danse makabere in “Kruisig Hom!”), jy kom onder die indruk van die groot smart (in “Vroue van Jerusalem”), jy raak bewus van tyd wat uitloop (soos die marimba as’t ware ʼn sekondewyster word), en jy wíl inderdaad saamsing (as die tema van “Kom laat ons sing!” herhaal word).

Die dralende D waarmee die oratorium begin (D-mineur wat bekendstaan as die treurige toonsoort, ideaal vir treurliedere) en deur die hele werk loop, loop in die laaste beweging, “Paasbelydenis”, uit in ʼn triomfantelike D (die majeur-toonsoort waarmee oorwinning aangekondig word) en dié slot swel inderdaad geweldig uit, aangevul deur trompetgeskal, net om onderbreek te word deur stilte en intiem te sluit met ʼn klein a capella gebed. Wat die pelgrimstog van net minder as ʼn uur laat eindig waar dit begin het: by die enkeling. Maar ʼn enkeling dan wat weer deeglik onder die indruk gekom het van die betekenis van die kruis en opstanding van die Here. En die krag van musiek.

Vox Chamber Choir staan in dié uitvoering van Kruis van liefde onder leiding van Franco Prinsloo, bygestaan deur Isabelle van Rensburg (orrel), Magdalena de Vries (marimba en slagwerk), Deo du Plessis (keteltromme en slagwerk), Wian Joubert en Herman Swanepoel (bykomende slagwerk) en Richard Kingon (trompet).

Besoek www.voxchamberchoir.com vir nog inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Dit was ongelooflik mooi. ‘n Ware klassike werk in Afrikaans. Ek wens mens kan dit erens aankoop!

Pieter

Stem. Bekoorlik mooi (1 uur lank). Jan de Wet se Via Dolorosa kan ook gerus gespeel word op Goeie Vrydag.