Kuier in Nagkantoor: Die storie agter Koos Kombuis en Lisa se klavier

Koos Kombuis (Foto: www.kooskombuis.com)

Ek het ʼn vriendin
Ver by die blou see
Teen die hang van Tafelberg
As die son sak
Speel sy die mooiste melodieë

Met hierdie woorde het ene Lisa al oor dekades ons almal se vriendin geword, nie net dié van Koos Kombuis wat hierdie immergroen woorde geskryf het nie.

Op die nostalgiese lekkerkuier Facebookblad, Nagkantoor, deel Gerard van Niekerk, ʼn oudverslaggewer, onlangs ʼn brief wat geskryf is deur ʼn vriendin van hom, Henriette Geldenhuys. In die brief vertel Henriette dat haar suster, Liza, ʼn konsertpianis in Kaapstad is, maar dat sy ook die inspirasie was vir Koos Kombuis se “Lisa se Klavier”, ʼn liedjie wat in die laat tagtigerjare geskryf is.

Inspirasie in Oranjestraat

Koos Kombuis vertel dat hy eendag in ʼn pizzaplek in Oranjestraat gesit en eet het toe hy deur die venster vir Liza Geldenhuys saam met Nataniël sien stap het. Sy het dadelik sy oog gevang en hy het alles in sy vermoë gedoen om haar adres uit te vind. Op haar beurt vertel Liza, nou Joubert, dat die geleentheid ʼn etensuuruitvoering voor die Kosie Gericke Biblioteek was. Sy en Koos het met mekaar begin gesels en uitgevind dat hulle nie te ver van mekaar af woon nie, en gou het Koos begin kuier.

“Ons vriendskap was nie een wat gebaseer was op vreeslik baie praat nie. Ek was voor die klavier, en Koos het geluister. Ek het gou besef Koos weet bitter min van klassieke musiek, en ek het nog altyd gevoel dat klassieke musiek die grondslag is waarop enige goeie musiek gebou is. Omdat ek geweet het Koos gaan bekend raak met sy musiek, wou ek nie hê hierdie bekende ou moet niks van klassieke musiek weet nie,” vertel Liza.

Wat Liza nie verklap nie, is dat Koos altyd geld by haar geleen het vir kruideniersware. Op ʼn dag het hy sommer net gaan sit en die woorde van “Lisa se Klavier” neergeskryf en dit onderdeur haar voordeur gestoot, as ʼn manier om jammer te sê vir al die geld wat hy haar al skuld. Hy was immers ʼn sukkelende kunstenaar! Toe hy ʼn rukkie daarna die stukkie papier in haar woonstel opmerk, het hy besluit om musiek daarvoor te skryf, en so is “Lisa se Klavier” gebore.

Lisa of Liza?

Liza Joubert.

Liza vertel dat die lied vir die eerste keer op Koos se 1980-album, Niemandsland, opgeneem is. Op die omslag word die liedjie gelys as “Liza se Klavier,” presies soos wat Koos dit geskryf het. Sy en Koos het nou al probeer agterkom waar en hoe het die z in ʼn s verander en nou is dit natuurlik heeltemal te laat om dit te probeer terugdraai na die oorspronklike titel: “Liza se klavier”.

Pla dit haar dan dat almal nou die liedjie ken as “Lisa se Klavier”? “Nee, glad nie,” sê sy hieroor. “Dit sal maar ʼn hartseer dag wees as so iets iemand moet pla.”

Op die vraag wat sy van Koos uit daardie jare onthou, kom die antwoord gou: “Ek onthou sy hoflikheid. Hy was soft spoken, soos wat die Engelse dit sou noem. Hy het ʼn sagte manier van praat gehad en was geweldig hoflik. Dis juis daarom dat hy in die aande op die balkon gaan staan en rook het. Ek het nie omgegee om vir hom tee te maak nie, maar dan moes hy nie in my woonstel rook nie. Dan het ek met oorgawe bly klavier speel en hy het geluister. Ek glo dit is die inspirasie wat hy daar in my woonstel uit wonderlike klassieke komponiste se musiek gehaal het, wat hom gemotiveer het om ‘Lisa se Klavier’ te skryf.”

Ten spyte van groot sukses in haar professionele loopbaan as begeleier, onderwyser en musikant, is Liza nie iemand wat haar eie beuel blaas nie. Dit spruit duidelik uit die manier waarop sy wegskram daarvan om te spog oor ʼn liedjie wat sy geïnspireer het. “Natuurlik is dit ʼn groot eer, maar ek voel neutraal daaroor,” sê sy baie beslis. “Dit is Koos se liedjie en sy sukses. Waaroor ek wel dankbaar is, is dat dit so mooi is.”

Dan lag sy. “Waaroor ek die blyste is, is dat daar nie politieke verwysings of vloekwoorde in die liedjie is nie. Indien ʼn mens verewig word in ʼn lied, moet dit beslis iets wees waarna mense graag luister. Dit is ‘Lisa se Klavier’ beslis.”

Liza se akkordeon in 2020

Pas nadat Gerard van Niekerk die storie van Lisa se Klavier op die Nagkantoor-Facebookblad gedeel het, het mense van oraloor begin saamgesels. Uiteindelik was daar 358 reaksies, 59 mense het kommentaar gelewer, en 369 het die plasing gedeel.

“Ek kry nou sommer hoendervleis. Een van my gunstelinge, en nou ken ek die storie agter die liedjie. Dankie vir die deel!” skryf een van die lesers van Nagkantoor.

“Snik ek nou. Het Joernalistiek-honneurs saam met Henriette geswot, en ʼn hele klomp keer saam met Koos Kombuis gekuier by Die Akker in Stellenbosch. Dankie hiervoor,” skryf ʼn ander.

“What a beautiful legend (and truth) about Koos and his Lisa (Liza) and the piano. An iconic song from two great artists!” gesels nog iemand saam.

In April vanjaar, toe Gerard se storie op Nagkantoor geplaas is, was ons nog midde-in die inperking. Streng ingekluister op vlak vyf sodat ʼn mens letterlik nie jou neus by jou deur mag uitsteek nie, het die storie van Liza se Klavier ʼn wonderlike nadraai gehad. In daardie tyd het Liza twee maal elke aand die volkslied, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, op ʼn akkordeon in haar tuin in Stellenbosch staan en speel: Die eerste maal in die voortuin op die rand van die grasperk wat uitkyk op Markotterstraat, en dan die tweede keer by die hekkie in die agtertuin wat uitkyk op die Langverwag-aftreeoord in Martinsonstraat.

“Ek was heel verras oor die reaksie van hierdie optredes,” vertel Liza. “Mense het gebel om dankie te sê, ek het blomme ontvang… Alles was sulke wonderlike terugvoer. Nou dat ek terugkyk, besef ek dit was omdat daar in daardie eerste paar weke van inperking nêrens lewendige musiek gehoor kon word nie. Die wêreld was toegegooi met virtuele konserte, maar ek dink mense was honger om ʼn kunstenaar direk te hoor speel. Teen die tyd dat ons afbeweeg het na vlak drie, het ek besef dat ek nou die volkslied 70 keer gespeel het. Ek het toe besluit om vir eers op te hou daarmee.”

Liza en die Drakensbergse Seunskoor

Liza het oor die jare geleentheid gekry om in verskeie musiekkonserte te speel en as begeleier vir talle kore soos die Drakensbergse Seunskoor op te tree. By vanjaar se Woordfees was sy die regisseur van die fliek Nagmusiek. In hierdie interessante projek het sy musiek geïmproviseer vir vier flieks uit die stilfilm-era.

Sy is onlangs aangestel as die hoof van musiek van die Drakensbergse Seunskool en in Januarie begin haar ampstermyn daar in die berge. Sy sien baie daarna uit, sê sy, hoewel sy Stellenbosch en al haar mense geweldig sal mis. Maar waarheen sy ook al gaan, sal dit altyd wees met die begeerte om deur musiek, die musiek wat sy kan maak, die meesters se musiek wat sy kan vertolk, en die musiek wat sy ander mense help om te maak, mense se lewens te verryk.

Ja, die hele wêreld word stil
En luister in die donker uur
Na die naggeluide
Van Lisa
se klavier

Kom kuier saam in die Nagkantoor

Nagkantoor is ʼn virtuele kuierplek vir oudjoernaliste en ander wat belang stel in nostalgiese nuusstories en die storie en mense agter die stories. Sluit gerus by dié Facebookblad aan. In die Laeveldse dorpie Kaapsehoop het die oudjoernalis wat die Nagkantoor-Facebookblad begin het, De Wet Potgieter, en sy vrou, Alita, onlangs ook ʼn kuierkroeg met die naam Nagkantoor begin. In dié kroeg kan allerlei joernalistieke memorabilia soos nuusfoto’s en koerantvoorblaaie gesien word. Gaan maak  ʼn draai by Nagkantoor in Kantoorstraat, Kaapsehoop, as jy weer in die Laeveld kuier. Lees meer oor die Nagkantoor-kuierkroeg hier.

Liza speel Nkosi Sikelel’ iAfrika tydens die inperking

‘Lisa se Klavier’ deur Koos Kombuis

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae