‘Kuns en klank’: ʼn Aand van samesyn, topgehalte vermaak

Kunstenaars op die verhoog by Maroela Media se ‘Kuns en klank’-produksie (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Kuns- en musiekliefhebbers het Saterdagaand heerlik saam gekuier by Maroela Media se Kuns en klank-produksie wat by die Atterbury-teater in Pretoria aangebied is.

Teatergangers is in die voorportaal met ʼn uitstalling van Lidi de Waal en Anna Davel se kunswerke begroet. Lidi het spesiaal van die Kaap af gekom om dié geleentheid by te woon.

Gaste is later deur die nimlike Lizz Meiring verwelkom. Meiring het die geleentheid gebruik om mense meer bewus te maak van die Teaterbystandsfonds (TBF), waarvan sy ʼn lid is, en om skenkings aan dié organisasie aan te moedig.

Die TBF is ʼn niewinsgewende organisasie wat omsien na die ernstige siekes, behoeftiges en bejaardes van alle beroepe in die vermaaklikheidsbedryf. Dit sluit rolprente, radio, televisie, teater en ander regstreekse optredes in. Die TBF is heeltemal afhanklik van skenkings om bogenoemdes te ondersteun.

Die musiekprogram is saamgestel uit optredes deur Davel, Jannie Moolman, Leon Gropp, Saarkie en Lizanne Barnard.

Lizanne Barnard, musikale regisseur van ‘Kuns en klank’ (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Giep van Zyl is die vervaardiger van Maroela Media se Kuns en klank-produksie en Barnard was die musikale regisseur. Die orkes het bestaan uit Barnard (klavier, fluit en klawerbord), Adam Helberg (akoestiese en elektriese kitaar), Thys van Deventer (perkussie en dromme) en Rixie Roman (baskitaar).

Moolman het die aand se program met die Lucas Maree-treffer “Die weduwee se kruik” geopen en later ook “Die beiteltjie”, “O, Boereplaas” en “Jantjie Pieterse” gesing. Barnard het onder meer “ʼn Lyf” en “Patat se hotel”, twee van haar eie toonsettings van De Waal se gedigte, gesing, asook “Ek’s op pad” en “Verwese”.

Saarkie het gesorg vir ʼn goeie dosis rockmusiek met hul verwerking van Ryno Velvet se “Ai my lam” en ook ander liedjies soos “Ek kies vir jou”, “Toema Afrika” en “Nuwe jaar”.

Gropp het met sy toonsetting van die NP van Wyk Louw-gedig “Daar is geen woord” begin. Hy het ook twee van sy eie liedjies, “Wolkedans” en “Sê dit soos dit is”, opgevoer.

Davel het die tweede gedeelte van die program geopen met “Gypsy in my oë”. Sy het later “La Vie en rose” en “Duisend duine” gesing.

Gropp en Davel het “Kom vannag in my drome” gesing, wat op Gropp se debuutalbum Rooidag verskyn. Gropp het ook saam met Moolman ʼn weergawe van die Koos du Plessis se “Gebed” opgevoer.

Die program is afgesluit met “Skeppers”, ʼn lied wat Barnard geskryf het ter herinnering aan kunstenaars wat die afgelope jaar dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.