‘Kuns en klank’: ’n Behaaglike dosis stylvolle kuns en musiek

Lizanne Barnard (Foto: Verskaf)

Kuns en Klank is die samekoms van ʼn besonderse groep kunstenaars, wat ʼn produksie met hulle hartstog gaan lewer, want die verhoog is nie net vir hulle ʼn werk nie, dit is vir hulle hartsdinge hierdie.”

Só gesels Lizanne Barnard, musikale regisseur van Maroela Media se Kuns en Klank-produksie wat Saterdag 14 November by die Atterbury-teater in Pretoria op die planke sal wees.

“Dit is ʼn vertoning met ʼn heerlike verskeidenheid van musiek in verskillende genres. Sien dit as ʼn bederfgeleentheid waar jy kan uitsien na ʼn ordentlike porsie kuns wat op ʼn silwerbord aan jou voorgesit sal word.”

En ʼn verskeidenheid is daar beslis om van te kies en te keur! Leon Gropp sal saam met Jannie Moolman, Anna Davel en die rockgroep Saarkie op die verhoog te sien wees. Lizanne lewer self vier toonsettings van bekende Afrikaanse digters saam met ʼn orkes, en as dit nie genoeg is nie, kan ʼn mens boonop uitsien na Lizz Meiring, wat die gasvrou is, se komiese sketse.

In die foyer van die Atterbury-teater sal ook ʼn fantastiese kunsuitstalling wees van Lidi de Waal en Anna Davel se kunswerke.

Lidi-de-waal-_-4.jpg

Een van Lidi de Waal se kunswerke. (Foto: Lidi de Waal/ Facebook)

Lidi, wat al die pad van die Kaap die geleentheid sal bywoon, en Lizanne loop al ʼn lang paadjie saam. Lizanne het 13 van Lidi se woordkuns getoonset wat gewoonlik saam met haar kunswerke verskyn. Die liedjies het deel geword van Lizanne se album Gevlerktes en is ook vir ʼn Ghoema-musiektoekenning in 2019 benoem. Die vertoning Bêreboksie vol vlerke het uit die toonsettings gespruit.

Lizanne het Anna by haar Woorde-programme betrek en Anna het geskilder en geskets vir die vertonings.

Die gehoor sal hulle voor die vertoning en tydens pouse kan verlustig aan die twee kunstenaars se kunswerke.

Lizanne meen ʼn produksie soos hierdie is ʼn belangrike geleentheid vir die groep sangers en kunstenaars wat uitsonderlike musiek in Afrikaans lewer. Vir talle van hulle is dit die eerste keer in ʼn lang tyd wat hulle weer op die verhoog voor mense kan optree.

“Ons het dit so nodig. Ek dink ons as kunstenaars lei tans aan ʼn identiteitskrisis, maar ʼn produksie soos hierdie gee ons die geleentheid om net weer te bevestig dat ons nog kunstenaars is en dat ons lewensdoel nie heeltemal verval het nie.

“Almal wat deel is van hierdie produksie is ontsettend opgewonde; dit is vir ons ʼn heerlike hupstoot.”

Dit is iets wat Giep van Zyl, vervaardiger van die Kuns en Klank-produksie beaam. “Ek dink gehore en kunstenaars is van albei kante af nou al behoorlik uitgehonger om weer deel van ʼn regstreekse vertoning op die verhoog te wees.

“ʼn Produksie soos Kuns en Klank gee hoop en betekenis. Dit wys die Afrikaanse kunstebedryf is nog hier, ons hou konsert, ons staan saam en gee die vlam van hoop vir die gehoor aan,” sê Giep.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, wat die hoofborg van die produksie is, meen min mense kan stry oor die onskatbare terapeutiese waarde van kuns en musiek.

Anna Davel (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Dit het die vermoë om ʼn mens deur die donkerste tye te dra. Baie van ons het juis musiek gebruik om ons deur die moeilikste tye van die afsonderingstydperk te dra en nou is dit weer tyd vir ons om die sangers, musikante en kunstenaars te ondersteun terwyl hulle finansieel ʼn uitdagende tyd beleef.”

Sy sê deur ʼn kaartjie te koop vir Maroela Media se Kuns en Klank-produksie ondersteun ʼn mens nie net die sangers en kunstenaars nie, maar ook die Atterbury-teater en die plaaslike wynbedryf.

“Dit is ʼn manier om op ʼn waardige wyse hierdie bedrywe te help om ʼn inkomste te skep terwyl ons terselfdertyd terugploeg in die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die kunstebedryf help om weer op die been te kom,” het Lombaard gesê.

Koop jou kaartjie so:

Bespreek sommer dadelik jou sitplek vir Kuns en Klank op 14 November 2020 by die Atterbury-teater in Pretoria. Die deure maak om 18:00 oop vir die kunsuitstalling en die vertoning begin om 19:00. Die vertoning is 90 minute lank met ʼn pouse waartydens jy weer die kunsuitstalling kan besigtig. Kaartjies kos R195 per persoon.

Opskud, daar is slegs enkele kaartjies beskikbaar omdat ons ten alle tye aan Covid-19-regulasies sal voldoen.

Teaterveiligheid en protokol

– Sitplekke word twee-twee beskikbaar gestel volgens veiligheidsmaatreëls
– Nie meer as twee gehoorlede mag langs mekaar sit nie
– Slegs beperkte sitplekke beskikbaar (50% kapasiteit)
– Maksimum spasie word tussen gevulde sitplekke oopgehou.
– MASKERS IS VERPLIGTEND
– Temperatuur word geneem
– Intekenvorm moet voltooi word
– Maak seker jy is betyds om in te teken (voorportaal maak ʼn uur voor die vertoning oop)
– Ontsmetmiddel/handreiniger is in die voorportaal beskikbaar
– Kunstenaars sal nie ná die vertoning foto’s kan neem of handelsware teken nie
– Kaartjies kan slegs aanlyn gekoop word by iTickets.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.