Kuns en klassieke musiek bekoor by Innibos

(Foto: Innibos)

Opera-, jazz- en poësieliefhebbers kan uitsien na verskeie klassieke vertonings by vanjaar se Innibos Nasionale Kunstefees wat van 29 Junie tot 2 Julie in Mbombela (Nelspruit) plaasvind.

Dié gewilde fees keer vanjaar weer volwaardig terug en word oudergewoonte by Hoërskool Bergvlam aangebied.

Musiek is steeds een van dié fees se grootste trekpleisters en die gewilde hoofverhoogkonserte gaan elke aand sorg vir prima vermaak, maar diegene wat vioolsnare eerder as sokkietreffers geniet, het ook ʼn propvol program om na uit te sien.

‘n Opera-bederf

Zanta Hofmeyr. (Foto: Verskaf)

Opera Extravaganza, ‘n heerlike viering van opera, vind op 2 Julie om 13:00 by die Mbombela Stadsteater plaas. Die produksie bevat internasionaal bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, wat hulle sal verlustig in klassieke musiek soos Pablo de Sarasate se vioolfantasie, Carmen Fantasy, en ’n agthandige tweeklavierverwerking van Mozart se Ouverture tot die huwelik van Figaro.

Die staatmaker van Suid-Afrikaanse opera, sopraan Loveline Madumo, sal saam met die bas Otto Maidi en mezzo Linette van der Merwe aansluit.

Zanta Hofmeyr, een van Suid-Afrika se voorste violiste en ‘n Juilliard-gegradueerde, sal beide viool én hartsnare laat roer.

Verskeie van die koorlekkernye uit die opera-repertorium sal deur die Nocoré Ensemble uitgevoer word en Theresa Prinsloo sal ses virtuose pianiste lei.

Walter Fourie, bekroonde tenoor en Laevelder, is die vervaardiger van hierdie manjifieke produksie.

Poësie wat sing

Lizanne Barnard. (Foto: Verskaf)

Die Laeveldse kunstenaar, Lizanne Barnard, bring verskeie kunsgenres saam in haar produksie Kuns inni Liedjiebos, wat op 30 Junie om 18:00 by Christie’s plaasvind.

In ooreenstemming met Innibos se tema vir 2023, ‘vars’, het Barnard die publiek gekry om gedigte met die temas ‘vars’, ‘nuwe begin’ en ‘geluk’ in te stuur, en dié werke met verskeie musiekstyle, insluitend ‘n jeugkoor, klassieke kwartet, marimba en fluit getoonset.

Sy het ook beeldhouers, keramiekkunstenaars en skilders gevra om inspirasie uit die gedigte te put om hul kuns te skep. Deelnemende kunstenaars sluit in Anton en Hanlie Bosch, Ilona Petzer, Mariana Zwaan en Carel de Beer.

Die rocker en visuele kunstenaar, Jan Blohm, tree as gaskunstenaar op en sal sy liedjies en skilderye na die verhoog bring.

Die kuns sal tydens Innibos by Christie’s uitgestal word.

Die Harvard Krokodiloes

Die Harvard Krokodiloes. (Foto: Facebook)

Die Harvard Krokodiloes, wat op 2 Julie om 10:30 by Christie’s optree as deel van hul wêreldsomertoer in 2023, moet ook nie misgeloop word nie.

Die Kroks, soos gehore regoor die wêreld graag na hulle verwys, bestaan ​​uit 12 deftige Harvard-studente wat gehore met hul kenmerkende mengsel van jazz, funk, rock en roll en ballades bekoor.

Harvard se oudste a cappella-groep is in 1946 gevorm en word geken aan hul unieke mengsel van pittige choreografie en geestige humor.

Koop jou kaartjies

Hektoegang na die Innibos-feesterrein is per persoon per dag (kinders 12 jaar en jonger kry gratis toegang):

  • Donderdag, 29 Junie: R200;
  • Vrydag, 30 Junie: R225;
  • Saterdag, 1 Julie: R250.
  • Gouesirkel-kaartjies vir die hoofverhoogkonserte is bykomend tot die hektoegang en kos R200 (Vrydagaand) en R250 (Saterdagaand). Donderdagaand is daar geen goue sirkel nie.
  • ’n Weekkaartjie kos R600.

Kaartjies is te koop by Computicket.

Daar is ʼn spesiale afslagkaartjie vir persone ouer as 60. Hierdie kaartjies is nie aanlyn beskikbaar is nie, maar kan vooraf by die Innibos-kantore in Sonpark gekoop word, of tydens die fees by Hek 1. ’n Geldige identiteitsdokument moet hiervoor getoon word.

Vir die volledige program en skakels na die kaartjieverkope, besoek innibos.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.